'n Mens kan so baie uit die natuur leer! Kyk na die duiwe. Lewensvreugde op sy beste! Carpe diem! Gryp die dag, maak die beste van elke geleentheid, leef gelukkig.
Kom word weer 'n kind, kom kuier en geniet! Jy het heeldag tyd... Daar is kopiereg op my skryfwerk en foto's. As jy dit wil gebruik is jy welkom, maar onthou om my te erken.
19/09/2015
07/09/2015
Kleur in die tuin
O, die son skyn weer! Hoera, hoera! Vanjaar was ons betyds met die kraalmis-en komposmengsel, want net nà ons dit uitgestrooi het, val die lieflike reën! Ek raak sommer opgewonde as ek dink hoe mooi die tuin gaan word in die komende dae. Mag jou somerseisoen ook oorloop van helder kleure en vele vreugdes!
Drie splinternuwe laventels en 'n klein kaktus met geel blomme het kom vastrapplek soek in ons erf. Die donker en ligpienk camelia japonicas blom en in die hoek onder die karee is daar 'n hele paar boslelies (clivias) te sien.
28/08/2015
Die lente bring nuwe vreugdes!
Elke seisoen het sy eie kleur, sy eie vreugdes, sy eie geur! 'n Oggend in die tuin is 'n voorreg. Een van die min plesierige dinge wat nie noodwendig geld kos nie. Met 'n dankbare hart en gewillige hande kan mens ver kom. En naby aan jou Skepper.
Soms moet mens ook net die bekende dinge om jou uit 'n ander hoek bekyk om dit weer splinternuut te kan ervaar.
'n Lyster kom les sy dors. Lysters behoort aan die sangvoël-familie. Dit is 'n daaglikse vreugde om na hul vrolike liedjies te luister.
Die eerste perskebloeisels van 'n nuwe seisoen.
Gooi jou arms in die wind en haal diep asem. Geniet die oomblik!
'n Broodboom wat aandag en liefde gekry het en in 'n pot oorgeplant is met beenmeel, kompos en goeie grond. Die meeste broodbome aard goed in houers en 'n mens moet nou maar net geduldig wees.
Die anaboom se stam. Om onder hierdie groot boom te kan staan, is 'n belewenis. Om tussen sy dik takke deur te loer na die suurlemoenboom doer agter, is 'n lekkerte.
Wyfie suikerbekkie, mooiste klein voëltjie! Nie so kleurvol soos haar mannetjie nie, maar tog uniek.
Roosmaryn se blou blommetjies. Roosmaryn is maklik om te kweek. Elke tuin moet ten minste een roosmarynstruik hê. Wat is lekkerder en mooier as 'n gebraaide skaapribbetjie met 'n takkie roosmaryn daarby?
'n Vetplantjie blom. Die fyn wit blommetjie groei gelukkig langs die woeste dorings van die kaktus.
24/08/2015
Maandag
Maandag was mooi. So skryf ek my woorde langs die foto waar die son agter die perskeboom sy lêplek loop soek. Kom lees dit op Verse en vrolikhede, my facebookblad vol woorde. As jy wil. Toe ek die foto geneem het, het ek nie geweet daar gaan woorde gebore word wat daarmee saam hand-aan-hand sal wil loop nie. Nietemin. Maandag was toe mooi. Kyk maar self:
Die eerste boslelies begin blom!
Woestynrosies (echeverias) en miniatuur gesiggies.
Verskillende teksture en kleure
'n Vet stroompie
Vlasplant en botterblomme voor by sy voete.
Kuierplek van die geveerdes.
Badtyd en droogwordtyd.
Weerkaatsing van die akkerboomtakke in die voëls se drinkbak.
Anderdag mooi gemaak.
Die dans van die geelvink!
Pikswart inkvingers van die akkerboom.
Alles is nie maanskyn en rose nie!
Klaar gebou. Gereed vir intrek.
My blomstruik sonder naam.
Kannas kom huis toe, was aan die buitekant van die erf, verplant vandag tot hier waar die tenk oorloop.
Koebaai Maandag!
Labels:
akkerboom,
boslelie,
echeverias,
facebookblad.,
gesiggie,
geveerdes,
kannas,
maan,
Maandag,
natuur,
struik,
teksture,
tuin,
verse en vrolikhede,
vinknes,
vlasplant,
weerkaatsing,
woestynrosies
21/08/2015
Nuwe lewe
Gister was so 'n lekker dag! Louwarm. Die ergste koue van die winter het die wyk geneem en die dae begin heerlik raak. Al dra mens nog 'n mou. Al knyp 'n koeligheidjie om jou enkels teen skemer. Die eerste tekens van lente is hier en dis net wonderlik!
Aalwyne blom en lok suikerbekkies. Lieflik om te sien hoe hulle en die bye aan die oranje blommetjies "hang".
Agter in die hoek van ons erf begin die moerbeiboom sy vars, splinternuwe liggroen blaartjies uitstoot. 'n Wonderwerk, jaar nà jaar. Verseker.
Camelia japonica in die voortuin, vanjaar 'n lus vir die oog. Gesonde blomme en blare.
Ponytail, net gister uitgeplant in die grond. Sê tog dit lyk mooi? Wat is lekkerder as tuinmaak?
Nuutmaak, mooi maak.
Dit lyk nog kaal daar buite, maar een van die dae sal groen blare weer oral te siene wees.
Die geelvinke het alreeds begin nesbou. Grasgroen hang dié nessie aan die dunste takkie van die groot kareeboom.
"Sticks of fire" in die laatmiddagson. Dié somer gaan jy sterk word en seker baie groter groei!
Die grasperk is nog vaal, maar die camellia se donkerpienk blomme maak al klaar ons harte bly.
En kyk hoe mooi is die jasmyn, so fyn en vrolik. Ruik jy dit?
Mag dié nuwe seisoen vir jou wat hier lees, net mooi dinge inhou. Maak tyd vir stilstaan en buite toe gaan. Maak tyd om te bewonder en verwonderd te wees.
Mag dié nuwe seisoen vir jou wat hier lees, net mooi dinge inhou. Maak tyd vir stilstaan en buite toe gaan. Maak tyd om te bewonder en verwonderd te wees.
24/07/2015
Brakkies, ons hondekind.
Niemand op hierdie aardbol lyk so beteuterd soos Brakkies as ek gou iewers heen moet ry nie.
Hy staan verlore op die plaveisel agter die hek, sy kort beentjies en
bal-en-kloupootjies plat op die aarde. "Waar gaan jy nou weer heen?"
vra die hele ou worshondlyfie. Dan vermurwe my hart stuk-stuk, knyp ek oë toe
en trap die petrolpedaal diep in om die wegryery so gou moontlik agter die rug
te kry.
Vir hom is dit die heel lekkerste as sy Ma by die huis is en
hy op sy blou kombers sy eie hondedrome kan lê en droom, deeglik bewus van my
nabyheid. Of saans as dit storietyd op T.V. is, langs my in te wriemel en
heerlik warm onder die kniekombers aan die slaap te raak.
Hy het die kuns om in menseharte in te kruip, pens en
pootjies bemeester. Soggens nà wakkerwordtyd, groet hy ons stertswaaiend, ogies
blink en die ene opgewondenheid oor ‘n nuwe dag wat voorlê.
Op Maandae en Donderdae
as Jacob in die tuin kom werk, loop sy beker behoorlik oor. Sodra hy die
tuinhekkie hoor, hol hy in eerste rat by die agterdeur uit, jubelende blaffies
so ver as hy gaan. Dan vryf ou Jacob hom en sê: “Jaaaa Brakkies, jy het mooi
gably?” Met wikkelboudjies en blink oë antwoord hy Jacob se vraag.
Getrou volg hy my deur die dag. Soos Rut-van-die Bybel. “Waar u gaan, sal ek gaan.” Vroetel ek iewers
in die tuin, jag hy veldmuise of lê en bak in die winterson op die grasperk.
Maak ek kos, speel hy binne hoorafstand, buite by die agterdeur, met Hagar, sy ou
groot Labradormaat. Sit ek by die rekenaar, krul hy homself op op sy kussing en
kruip hy onder sy blou kombers in, ‘n prentjie van geluksaligheid.
Brakkies is nou twee en ‘n halwe jaar deel van ons lewens.
Ons kan ons nie ‘n dag sonder hom indink nie.
16/04/2015
Foto-insetsel nr. 2
"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter
‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." Só het laas keer se foto-insetsel
geeïndig. My psalms en lofliedere het gelukkig nie ook opgedroog nie, dit sal hopelik
nooit.
Elke seisoen het mos sy eie mooi. Herfs is verruklik. Verruklik is baie
mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm
en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê. En dit gebeur dikwels dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.
Ons kan onsself daarin toevou. Dankie
tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees.
Dankie dat ons
te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke
pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel. Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens
onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet
dit, geniet jou dag!
Streptocarpus blom steeds in die agterplaas.
Grassade
Sonlig deur kareeblare.
Labels:
blom,
foto's,
gras,
kareeblare,
passie,
sonlig,
streptocarpus
01/04/2015
'n Foto-insetsel nr. 1
Van ek kan onthou, was ‘n kamera iets wat groot bekoring vir my ingehou het. Toe ek toentertyd in St. 6 my eie Kodak Brownie met spaargeld kon koop, was ek die rykste kind in die hele wêreld. Vandag besit ek ‘n Canon PowerShot SX40 HS. Dis sy doopnaam. Niks ingewikkeld nie, net wonderlik. Voldoende. Uiters bevredigend. Ek neem foto’s vir een enkele rede: omdat dit vir my lekker is. Ek neem foto’s om te onthou, om weer te kan kyk, weer te geniet, oor en oor. Fotografie hou oomblikke vas vir ewig. Om foto’s te kan neem, kleur my elkedag-lewe so mooi in. Dis ‘n manier van aanraak, ‘n manier van liefhê. Ek neem foto’s van amper alles, miskien meer van die natuur. Net miskien. Klippe en bome en voëls, wolke en blare en blomme. Skadu’s en lig, silhoëtte, stukkies detail. Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied.
28/03/2015
Voëltjievoerders en geveerdes
Voëls in 'n tuin is en bly 'n vreugde! Hier is my nuutste voëltjievoerder: 'n plat plank met randjies sodat die saad nie maklik afval nie, stewige tou en siedaar! Dit hang aan die granaatroos se tak reg langs ons slaapkamervenster. Terapie op sy beste! Ons geveerde vriende moet nou net eers gewoond raak daaraan, dan kan die feesmaal begin!
Subscribe to:
Posts (Atom)