08/07/2013

"Nee, ek sal nooit weet nie....of sal ek?"

Toe ek loop sê sy: "Nou gaan ek eers vir die Here dankie sê dat Hy jou gestuur het..." My oë raak nat van kleinweestrane. Ek het die voorreg gehad om goue oomblikke  te deel met iemand wat eensaam en alleen is.
 
Tannie Cora. Nie 'n kind of kraai ooit gehad nie. Ja, sy was getroud, maar net 'n klein rukkie, so sê sy. Ek onthou net dat sy my Ma geken het, dat my ouers by haar en haar suster soms gaan tee drink het en lekker gesels het. Ek was toe in die Hoërskool. Nou bly sy in die Ouetehuis. Ek het sommer net op 'n dag begin om by haar te gaan inloer, herinneringe gedeel, geselsies gemaak.
 
Die jare het verbygegaan en Tannie Cora is nou al diep in die tagtig. Sy praat nie meer so duidelik nie, maar haar verstand is nog helder. Sy vra uit oor my man en kinders. Onthou mooi dinge van my ouers en vertel dit met sagte oë. Ek dink dis hoekom ek maar aanhou om kort-kort soontoe te gaan. Ons verwarm mekaar se harte.
 
Op 'n dag vertel sy my 'n storie en ek kom skryf dit neer:
Toe sy vier jaar oud was, het sy ‘n verskalf by haar Oupa gekry.  Dit was vir haar die wonderlikste gebeurtenis.  Haar Oupa vir wie sy so lief is. Hy gee vir haar ‘n verskalfie, vir haar alleen.  Haar Oupa. Haar kalfie.  Haar ouers gee hul bydrae vir die kerk: ‘n skaap.  Haar Pa sê sy moet haar verskalf gee. Sy wil nie.  Sy kan nie.  Nie haar verskalfie nie.  Maar sy doen dit.  Haar hartjie huil.  Sy gee haar verskalf vir die Here en vir die kerk.  Dis goed, sê haar Ma.  Sy moet dit glo.
Sy was haar lewe lank in die Gereformeerde Kerk.  Stoere Dopper. Toe sy gaan trou begin die moeilikheid.  Haar man is in ‘n ander kerk.  Hy wil haar verander.  Sy kan nie, sy wil nie. Hulle skei. Sy trou later weer.  Hierdie keer is haar man meer inskiklik.  Hy kom oor na haar kerk toe.  Hulle is gelukkig.  Hy is ‘n goeie man.  Hy is ‘n goeie Dopper.
Sy is nou vier-en-tagtig.  Sy vertel my van haar verskalfie en haar Oupa.  In haar blou oë lê die onbegrip van ‘n vierjaaroue kind.  Ek wil amper glo dit het gister gebeur. Sy vertel my van haar eerste man, haar tweede man, haarself.  Sy vertel my dat sy gelukkig is want die Here sorg vir haar.
“Hoe het ek hier gekom?” vra sy. “Waar is die tyd heen?”
Vir die Here het sy ‘n verskalf gegee. Vir haar het Hy ‘n vol lewe gegee.
 
 Tannie Cora as jong (en mooi) vrou.
 
En hier is sy en Brakenjan, my liefste ou worshondjie wat ek saamneem as ek vir haar gaan kuier. Kan daar nie 'n reël gemaak word in Ouetehuise dat eensame mense 'n ou diertjie mag aanhou nie? Die vreugde wat Tannie Cora uit hierdie besoeke kry kan geen mens in woorde beskryf nie. En Brakenjan weet dit. Hy loer met blink ogies na my, lek haar in haar nek en oor haar wange. Sy geniet dit so baie.
 

Vanoggend lyk sy so mooi met die sagte wit hare en pers trui.
 

 
In haar laai lê lekkergoed. "Eet Brakenjan lekkers?" vra sy en gee vir hom 'n stukkie van die sagte, soet lekkerny. Hy kou dit gulsig op, swaai die stert van blydskap. So sit hulle en lekker kry, elkeen op sy eie manier.
"Jy sal nooit weet wat dit vir my beteken nie", sê sy vir die hoeveelste maal.