08/06/2012

Hierdie Ouma speel karretjies.

Joshua
Reuben


In die voorste kamer op twee van die rakke staan dit uitgestal. Regte grênd karretjies van allerhande kleure en vorms: bloues, groenes, bloedrooies, geles, swartes ( hulle is nogal in die minderheid, snaaks genoeg) en selfs ‘n bruinetjie of twee.

Hierdie Ouma het ook kleinseuntjies: ‘n rooikop en ‘n witkop en ‘n valetjie. Die voorste kamer trek hulle soos ‘n magneet. Vanselfsprekend.

Reuben, die jongste, kon nog nie eers praat nie, toe het hy al goed geweet watter wonderlike bekoring daardie kamer inhou vir ‘n mannetjieskind. Dan het hy, sodra hy hier geland het, met die vingertjie soontoe beduie en het Ouma vir hom ‘n karretjie van sy keuse gaan afhaal om mee te speel.
Marco, ‘n bietjie ouer en baie bekkig, stap doelgerig op die kamer af en sê grootman: “Ek wil met daai een speel en daai een en daai een!”

Joshua, die oudste, vra met sy mooiste stem en op sy unieke manier: “Oumaaaa, kan ek met die karretjies speel?”
En dan gaan kies hy wat hy wil. Hartjie in die wolke.


Aldrie weet dis Ouma se karretjies. Aldrie weet hierdie karretjies moet mooi opgepas word. Aldrie weet mens skop nie die karretjies agter elke Pick & Pay of speelgoedwinkel se rakke uit nie. Ouma het dié karretjies versamel. Dis duur karretjies. Mens moenie rof en wild en simpel met hulle speel nie, mens moet ook nie probeer om die hel uit hulle uit te ry nie. Dis soort van heilige karretjies. Net seuntjies wat baie spesiaal en baie ordentlik is, mag met hierdie karre speel. As Ouma jou met haar karretjies laat speel, moet jy weet jy is soort van in die hemel en Ouma het jou bitter lief. Liewer as haar karretjies.






"Collect the vehicles & celebrate the brands of yesteryear” staan op elke karretjie se bypassende boek geskryf. Dis “Days Gone By” se “Classic Trucks & Vans” van nommer een tot by nommer sewe-en-twintig. Ek het jare gelede elke maand een gekoop in die dae toe ek nog ‘n salaris verdien het. Sommer vir die lekker. Sommer oor dit mooi is. Dit bekoor my. Dit fassineer my. Dit vat my op ver paaie. Miskien omdat ek as kind ‘n Ouboet gehad het en saam met hom karretjies gespeel het. Miskien omdat ek steeds ‘n stukkie kind in my Oumalyf laat wegkruipertjie speel. Dis my karretjies.
Maandag ry Josh-hulle terug huistoe. Oupa gee hom ‘n present: ‘n Olifant van klip wat ons êrens tydens ‘n vakansie langs die pad gekoop het. Hy straal. Dis syne. Van Oupa af. Syne alleen. Hy voel so belangrik. Hy het tog ‘n swart klip-olifant wat in sy kamer in Lydenburg kan gaan staan waar al sy maatjies dit kan sien. Hy vryf liefderyk met sy vyfjaaroue hande oor die olifant se klipvel, bewonder sy wit tande, hol na sy ma toe om dit opgewonde vir haar te wys.
Ek dink en wonder. Wat kan ek vir Joshie gee, ek kan tog nie nou winkels toe jaag nie. Wat maak ek tog met al die karretjies in die voorste kamer?

 “Joshie, kom hier! “ Ek vertel hom dat hy nou slim en groot is, die oudste van al Ouma se seuntjies. Hy mag vandag een karretjie plus die bypassende boek  kies om saam te vat huistoe.


Joshua se gesiggie blom. Die wêreld word die mooiste plek. Buite koer drie duiwe gelyk. Sy oë vlieg van rak na rak. Links en regs, weer regs, weer links.Op en af. Heen en weer. “Daai een!” Hy kies ‘n swart Morris Van van “W & G Foyle booksellers”-faam. Ouma se kind gaan dalk eendag boeke skryf en verkoop, wie sal weet.

Sy oë blink. Sy beker loop oor en spoel in ‘n groot glimlag oor sy seuntjiegesig. Hy hol na sy ma toe: “Kyk Mamma, kyk wat gee Ouma vir my!”

My dag is gemaak. Ek wonder watter kleinseun kom kuier volgende keer. ‘n Mens kan tog nie “yesteryear”-karretjies eendag saamvat hemel toe nie.


Marco