Wil jy graag
weet waar kom ek vandaan?
Diep onder
uit die see
Of anderkant
die maan…
Het ek gery
op n groen seeperdjie se rug
of aan sterretjies geswaai doer bo in die lug?
Met klippies en skulpies op wit seesand
gespeel
of ‘n
stukkie geel kaas met Maanman gedeel?
Met dolfyne op golwe se deinings gery
of teen die
reënboog se kleur afgegly?
Ek is
Boepenaalkie en ek kom by jou speel
om met jou
my lekkerkry versies te deel.
Kyk rondom
jou…
Kiepiekraai het ek die son sien uitloer
almal het
skielik gespring en geroer
Goggas en wurmpies het vir kossies geskarrel
wild het die
windjie met blare gedwarrel
Blommetjies bont in so baie kleure
almal is
anders met die heerlikste geure
Vrolik het
voëltjies hul liedjies gesing
en sag sagste
donsies vir nessies gebring
Ek is Boepenaalkie en my hartjie is bly
want met my
versies gaan ons baie lekkerkry!
Sleepvoetjiemoeg…
Die son gaan al slapies
dis die
einde van die dag
ek val
sleepvoetjiemoeg in boepenessie so sag
my hartjie
is vol van die heeldag se mooi
huistoe
gehuppel met sononderrooi
reënwater wat in modderdammetjies blink
en
swaeltjies wat vir oulaas rinkink
met mammaduif se koer koer doek koer
het
sekelmaantjie oor die rantjie geloer
Ek is
Boepenaalkie ek wens ek kon sing
maar nou
skryf ek versies wat glimlaggies bring!
Elizabeth Kendall en Antionette Frieda du Bruyn ©