23/11/2013

Ou goed is hougoed.

In my huis is daar heelwat oudhede. Ja, ek is een van hulle! Wonder ek so by myself wie van my kinders sal dit eendag wil hê en wat hulle daarmee gaan doen. Wonder maar net.....
 
 
Hierdie skildery is jare der jare gelede deur my Oom Koos Grobler geskilder. My Pa se broer. Die raam is nog die oorspronklike. Dit bly mooi vir my.

 
En dit is hoe ons skoolskrifte gelyk het! Hoeveel bladsye het ek nie vol geskryf met pen en ink nie....en soms het daar 'n inkkol geval en 'n lelike kladmerk gemaak tot my groot ontsteltenis.
Transvaalse Onderwysdepartement en Standerd. Nogal. Woorde wat stil heengegaan het.

 
Die swart blikkie was my Oupa aan my Ma se kant s'n. Nou antiek. Die gele het ek by iemand present gekry net omdat ek van blikkies hou. Die pen vertel sy eie storie van lank, lank gelede.

 
Hierdie is maar net twee van my mees geliefde storieboeke uit my kindertyd. My Ouma Miemie het "Die tweeling trek saam" vir my gegee toe ek tien of elf geword het. "Abdoltjie" van Alba Bouwer het ek gaar gelees!
Vir my het die onbekende woorde soos "kofia, booia en danepitjies" soveel bekoring ingehou. En ek kon my so inleef in Abdoltjie se omswerwinge saam met sy Bellabok.
 


'n Skoolbank soos ons dit geken het, gekoop by 'n vriendin van my jare terug, omdat dit beter in my huis pas as in hare! Ek onthou so goed hoe die seun wat agter jou gesit het, jou of jou maat se vlegsel se punt in die inkpot gedruk het.... met minder gawe gevolge!
Die trommel onder die bank was Manlief s'n. Geskik vir baie dinge.
En die boeksak langsaan gebruik ek steeds as ek VLU-vergaderings toe gaan. Die leer ruik so lekker.

 
Onthou jy nog die ou telefoon wat met 'n slinger gedraai het? Op die plaas waar ons gewoon het, was ons nommer: 1402. Net dit.
 'n Haarknipper is tuis gebruik om seuns se hare kort en netjies te hou.


Wit enamel bekertjies, 'n koper asbak en 'n mandjie vir wol of gare. Soos Ouma sou sê.
 
 
'n Man wat pyp rook....daar is mos maar net "iets" aan so 'n man. Sy oë is vol stories.
Die ou kamera se naam is Kodak. En sy kiekies was wit-en-swart. Miskien het my liefde vir foto's juis by so 'n kamera begin.


Waar kom hierdie bokkie sonder horings vandaan? Dit was in my Ma se huis sedert my kleinkinderdae. Die hout steeds lieflik, sodat mens voel om met jou vingers daaroor te streel. Ek dink my seun sal dit dalk graag wil hê, net om sy Ouma te onthou.
 
 
My kinders se skoeisels. Toe hulle nog kinders was.


Ou glasbottels en 'n lekker groot soplepel, 'n slaailepel en konfytlepeltjie. Uniek.
 
 
Hierdie haak het ek in Holland gaan haal. Dit het op die solder van 'n skoolgebou gelê en niemand wou dit hê nie. My ingevoerde haak is so, so handig!

 
Manlief se polisie-swaard. Elke kleinseun se droom!


'n Melkkan uit my oorlede Pa se tyd. Hoe onthou ek hom nie as hy soggens vir ons vars melk van die plot af bring nie, glimlaggend en lewensbly.
Ja, dis 'n skoenlees wat daar langsaan staan. 'n Gawe deurstopper nou.
 

Groot enamel skottels.  Allerlieflik.
 
 
'n Skaal, 'n melkemmertjie en 'n kurkprop. Goed, die laaste een is nie so oud nie.

 
Op 'n dag was ek lus om hierdie wit enamel bekers te skilder. Nou staan dit op my yskas en die skildery hang teen die kombuismuur. Sommer twee prentjies bymekaar.


Poskaarte uit toentertyd.
"Wat is 0 x 0?" het ons mekaar gevra toe ons kinders was.
"OXO!" was die antwoord.
 
 
Hout en klei. Lieflik vir my.