Showing posts with label troeteldier. Show all posts
Showing posts with label troeteldier. Show all posts

24/07/2015

Brakkies, ons hondekind.

Niemand op hierdie aardbol lyk so beteuterd soos  Brakkies as ek gou iewers heen moet ry nie. Hy staan verlore op die plaveisel agter die hek, sy kort beentjies en bal-en-kloupootjies plat op die aarde. "Waar gaan jy nou weer heen?" vra die hele ou worshondlyfie. Dan vermurwe my hart stuk-stuk, knyp ek oë toe en trap die petrolpedaal diep in om die wegryery so gou moontlik agter die rug te kry.
Vir hom is dit die heel lekkerste as sy Ma by die huis is en hy op sy blou kombers sy eie hondedrome kan lê en droom, deeglik bewus van my nabyheid. Of saans as dit storietyd op T.V. is, langs my in te wriemel en heerlik warm onder die kniekombers aan die slaap te raak.


Hy het die kuns om in menseharte in te kruip, pens en pootjies bemeester. Soggens nà wakkerwordtyd, groet hy ons stertswaaiend, ogies blink en die ene opgewondenheid oor ‘n nuwe dag wat voorlê.
Op Maandae en Donderdae as Jacob in die tuin kom werk, loop sy beker behoorlik oor. Sodra hy die tuinhekkie hoor, hol hy in eerste rat by die agterdeur uit, jubelende blaffies so ver as hy gaan. Dan vryf ou Jacob hom en sê: “Jaaaa Brakkies, jy het mooi gably?” Met wikkelboudjies en blink oë antwoord hy Jacob se vraag.
Getrou volg hy my deur die dag.  Soos Rut-van-die Bybel.  “Waar u gaan, sal ek gaan.” Vroetel ek iewers in die tuin, jag hy veldmuise of lê en bak in die winterson op die grasperk. Maak ek kos, speel hy binne hoorafstand, buite by die agterdeur, met Hagar, sy ou groot Labradormaat. Sit ek by die rekenaar, krul hy homself op op sy kussing en kruip hy onder sy blou kombers in, ‘n prentjie van geluksaligheid.






Brakkies is nou twee en ‘n halwe jaar deel van ons lewens. Ons kan ons nie ‘n dag sonder hom indink nie. 


22/04/2013

My hondjie


 
Vier bruin pootjies trippeltrap
oor die plankvloer
al agter my aan, al agter my aan
twee bruin ogies
blink bly as hy ‘n liefdevolle vryfie kry
 
en toe: die ongeluk!
 

hoe het dit so gou gebeur
as ek maar kon, sou ek dit keer
maar nou is hy nie meer
 
Hy was maar net drie dae by my. Die heelmooiste ou klein bruin worshondjie onder die goeie son. Hy was so oulik. Bruin soos goeie sjokolade. Ek doop hom toe maar Tjoklit. Dit was tog die heel eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hom die eerste maal ontmoet het op Donkerhoek waar ek hom gaan haal het. ‘n Heerlike bruin blokkie tjoklit!
 
Hy het soet in sy bedjie geslaap in die nag, die enkele twee nagte wat hy hier by ons in ons ou huis met die plankvloere kom bly het.  Net een keer wakker geword en saggies gekla, toe vryf ek sy koppie en hy slaap verder. 

Soggens het ek hom vroeg uitgeneem buitetoe om sy plassie te maak. Dan het hy eers nuuskierig aan allerhande goetertjies gesnuffel:  herfsblare wat rondwarrel in die wind, ‘n stukkie stokkie, ‘n klip. Gelek-lek aan die water in die voëls se bak wat hier naby die voordeur staan. En dan sy eerste plas gemaak….een hele lang nag se piepie. Daarna het ek hom opgetel, styf toegewikkel in my serp en hom teen my gehou en op my skoot laat lê om warm te word. So lekker warm het hy aan die slaap geraak en het ek hom saggies in sy bedjie gesit om in hondedroomland te gaan kuier. Tevrede en gelukkig was ons bymekaar. Ek voor die rekenaar en hy langs my.

Vanoggend het ek hom saamgeneem toe ek die VLU se bestelvorms moes gaan oplaai. Hy het soet in sy boksbed in die kar gelê en alles bekyk. Ek was ook by die veearts om uit te vind wanneer hy ontwurm moet word en het sommer daar ook na ‘n lekker sagte hondebed gesoek. Daar was ‘n hele paar op die rak, maar ek wou by die troeteldierwinkel ook maar nog gaan kyk. By Louis se winkel aangekom, wys ek eers my ou mooi hondjie en ek vertel hom van alles. Ons gesels honde uit bosse uit. Hy verkoop aan my ‘n hondetrui, die kleinste een in die winkel. Ons trek dit vir Tjoklit aan. Hy lyk so oulik.

Toe ry ek Koöperasie toe, vra vir ‘n hondebed. Hulle gaan soek in die stoor en kom met ‘n mooi donkerbloue na vore. Ek koop ook ‘n sagte kombers, nogal met wit hondespore op. Hy hou baie daarvan en lê sommer dadelik doodtevrede en insluimer op sy nuwe bed.

Ek gaan gee die vorms in by Meisie en ons twee drink tee, hy slaap die hele tyd terwyl ons kuier, stroopsoet. Voor ek ry, wil ek hom eers ‘n draaitjie laat loop, maar die vreemde erf se hondjies ontsenu hom en hy vergeet skoon sy natuurlike behoeftes. Ons ry toe maar, tevrede lê hy in sy bed op die sitplek langs my. Dis beter as in die boks doer onder. Dis nader.

Tuisgekom, laat ek hom eers met ou Hagar, ons swart Labrador wat so liefdevol en geduldig is, speel. Hagar verdra alles en snuffel-snuffel aan Tjoklit. Dit lyk te kostelik: die groot swart hond en die baie klein ou bruinetjie so langs mekaar. “Hierdie kleintjie hy sal Hagar wakker hou!” reken Jacob, wat in die tuin werk.

Toe dit etenstyd is, draf hy rond in die kombuis, snuffel-snuffel. Ek staan op om hom buitetoe te vat. Ek maak die onderdeur oop en sit hom neer, hy glip weer binnetoe. Toe ek omdraai, gly my voet en my enkel kry effens seer. Ek trap skeef…..ek trap op hom. Hy lê en rek sy ou kleine lyfie. “Chris! Ek het my hondjie seergemaak!” Chris kom kyk. Tjoklit bly net daar lê. Sy lyfie begin slap word. Ek tel hom op, sien bloed by sy bekkie uitkom. “Kan ons hom nog Dr. toe vat?” vra ek hopeloos, verskrik. Te laat. Sy hele lyfie is slap en sy ogies verstar. Dood. Ek kan dit nie glo nie. So vinnig. ‘n Ongeluk, ek weet. Te vinnig. Ek kan nie eet nie. Ek maak die lewelose bondeltjie toe in die agterstoep se bruin matjie.

Jacob maak ‘n gat langs die anaboom. My hondjie is dood. Ek het hom doodgetrap. Ek voel verskriklik. Toe huil ek, ek snik. Chris sit sy hand op my skouer. “Dis ‘n ongeluk gewees”, sê hy. Ek weet. Ek wil nie weet nie. Ons begrawe vir Tjoklit. “Nkosi yami’” sê ou Jacob toe ek die klein dooie dingetjie neerlê op koerantpapier in die grond. Hy maak die graffie toe, sit ‘n ronde klip bo-op.

Toe hy ‘n uur later huistoe ry en ek sy geld vir hom gee, huil ek nog steeds. “Jou hart moet sak Oumies….” sê hy troosvol. My hart is flenters. Hy was maar net ‘n ou hondjie.
 
In liefdevolle herinnering.
22 April 2013.
 
 Die blog-inskrywing wat ek 'n paar minute voor sy dood gemaak het, kan jy hier lees:

 

 

 

 

29/05/2012

My kat

Sy spring deur die venster
"kadoef" op my mat,
sy skuur teen my bene,
my liefste ou kat...

Ons loop in die gang af
om kos te gaan haal-
ek is so vet
en sy is so skraal

Haar dankie kom sê sy
so sag by my oor:
'n "prrr-prrr" wat niemand,
net ekke kan hoor.

Elizabeth Kendall ©