Vier bruin
pootjies trippeltrap
oor die
plankvloer
al agter my
aan, al agter my aan
twee bruin
ogies
blink bly as
hy ‘n liefdevolle vryfie kry
en toe: die
ongeluk!
hoe het dit
so gou gebeur
as ek maar
kon, sou ek dit keer
maar nou is
hy nie meer
Hy was maar
net drie dae by my. Die heelmooiste ou klein bruin worshondjie onder die goeie
son. Hy was so oulik. Bruin soos goeie sjokolade. Ek doop hom toe maar Tjoklit.
Dit was tog die heel eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hom die eerste
maal ontmoet het op Donkerhoek waar ek hom gaan haal het. ‘n Heerlike bruin blokkie
tjoklit!
Hy het soet
in sy bedjie geslaap in die nag, die enkele twee nagte wat hy hier by ons in
ons ou huis met die plankvloere kom bly het.
Net een keer wakker geword en saggies gekla, toe vryf ek sy koppie en hy
slaap verder.
Soggens het
ek hom vroeg uitgeneem buitetoe om sy plassie te maak. Dan het hy eers
nuuskierig aan allerhande goetertjies gesnuffel: herfsblare wat rondwarrel in die wind, ‘n
stukkie stokkie, ‘n klip. Gelek-lek aan die water in die voëls se bak wat hier
naby die voordeur staan. En dan sy eerste plas gemaak….een hele lang nag se
piepie. Daarna het ek hom opgetel, styf toegewikkel in my serp en hom teen my
gehou en op my skoot laat lê om warm te word. So lekker warm het hy aan die slaap
geraak en het ek hom saggies in sy bedjie gesit om in hondedroomland te gaan
kuier. Tevrede en gelukkig was ons bymekaar. Ek voor die rekenaar en hy langs
my.
Vanoggend het
ek hom saamgeneem toe ek die VLU se bestelvorms moes gaan oplaai. Hy het soet
in sy boksbed in die kar gelê en alles bekyk. Ek was ook by die veearts om uit
te vind wanneer hy ontwurm moet word en het sommer daar ook na ‘n lekker sagte
hondebed gesoek. Daar was ‘n hele paar op die rak, maar ek wou by die
troeteldierwinkel ook maar nog gaan kyk. By Louis se winkel aangekom, wys ek
eers my ou mooi hondjie en ek vertel hom van alles. Ons gesels honde uit bosse
uit. Hy verkoop aan my ‘n hondetrui, die kleinste een in die winkel. Ons trek
dit vir Tjoklit aan. Hy lyk so oulik.
Toe ry ek
Koöperasie toe, vra vir ‘n hondebed. Hulle gaan soek in die stoor en kom met ‘n
mooi donkerbloue na vore. Ek koop ook ‘n sagte kombers, nogal met wit
hondespore op. Hy hou baie daarvan en lê sommer dadelik doodtevrede en insluimer op sy nuwe bed.
Ek gaan gee
die vorms in by Meisie en ons twee drink tee, hy slaap die hele tyd terwyl ons
kuier, stroopsoet. Voor ek ry, wil ek hom eers ‘n draaitjie laat loop, maar die
vreemde erf se hondjies ontsenu hom en hy vergeet skoon sy natuurlike
behoeftes. Ons ry toe maar, tevrede lê hy in sy bed op die sitplek langs my.
Dis beter as in die boks doer onder. Dis nader.
Tuisgekom,
laat ek hom eers met ou Hagar, ons swart Labrador wat so liefdevol en geduldig
is, speel. Hagar verdra alles en snuffel-snuffel aan Tjoklit. Dit lyk te
kostelik: die groot swart hond en die baie klein ou bruinetjie so langs mekaar.
“Hierdie kleintjie hy sal Hagar wakker hou!” reken Jacob, wat in die tuin werk.
Toe dit
etenstyd is, draf hy rond in die kombuis, snuffel-snuffel. Ek staan op om hom
buitetoe te vat. Ek maak die onderdeur oop en sit hom neer, hy glip weer
binnetoe. Toe ek omdraai, gly my voet en my enkel kry effens seer. Ek trap
skeef…..ek trap op hom. Hy lê en rek sy ou kleine lyfie. “Chris! Ek het my
hondjie seergemaak!” Chris kom kyk. Tjoklit bly net daar lê. Sy lyfie begin
slap word. Ek tel hom op, sien bloed by sy bekkie uitkom. “Kan ons hom nog Dr.
toe vat?” vra ek hopeloos, verskrik. Te laat. Sy hele lyfie is slap en sy ogies
verstar. Dood. Ek kan dit nie glo nie. So vinnig. ‘n Ongeluk, ek weet. Te
vinnig. Ek kan nie eet nie. Ek maak die lewelose bondeltjie toe in die agterstoep
se bruin matjie.
Jacob maak ‘n
gat langs die anaboom. My hondjie is dood. Ek het hom doodgetrap. Ek voel
verskriklik. Toe huil ek, ek snik. Chris sit sy hand op my skouer. “Dis ‘n
ongeluk gewees”, sê hy. Ek weet. Ek wil nie weet nie. Ons begrawe vir Tjoklit. “Nkosi
yami’” sê ou Jacob toe ek die klein dooie dingetjie neerlê op koerantpapier in
die grond. Hy maak die graffie toe, sit ‘n ronde klip bo-op.
Toe hy ‘n
uur later huistoe ry en ek sy geld vir hom gee, huil ek nog steeds. “Jou hart
moet sak Oumies….” sê hy troosvol. My hart is flenters. Hy was maar net ‘n ou
hondjie.
In liefdevolle herinnering.
22 April 2013.