Saamweestye met kleinkinders is kosbaar. Gister was so 'n dag. Ons oudste kleinkind het by ons gekuier terwyl Pa en Ma hul twaalfde huweliksherdenking gaan vier het. Boetie Josh het by 'n maat op 'n plaas gaan kuier, daar is mos baie meer lekker seunsdinge om te doen.
Ek en Amy het die koelte van die grasdakrondawel opgesoek en heerlik gaan sit en teken en verf. So lekker rustig. Gesels-gesels. Sy het vir Ouma van haar skool vertel en dat sy nog nie heeltemal weet wat sy eendag wil doen nie. "Iets kreatiefs Ouma!" Ja, hoe dan anders? Kunstig en kreatief is mos deel van haar menswees.
Nà 'n uur of twee wys sy trots haar pragtige pastel- en wateroplosbare potloodtekening. "O, dis mooi! " sê ek. "Gaan wys vir Oupa!" Oupa dink ook dis pragtig.
Op die spensrak staan al baie meer as net "ten green bottles". Pruimedantsap wat Oupa drink vir gesondheidsredes en Ouma kry nie dié mooi, klein botteltjies weggegooi nie. "Ek wil nog iets daarmee doen, " sê ek vir Amy. "Kom ons hang dit aan die boom op!" Ons bind 'n toutjie om 'n paar van die bottels en hang dit so saam-saam op. Toe ek vanoggend my draai in die tuin loop, vang die mooi lig- en skadukleure in die bottels my oog. Verwonderd staan ek en dink hoe sulke klein dingetjies 'n mens kan vreugde gee. En ek weet, ek sal elke keer aan my liefste kleinkind dink as ek na my swaaiende, groen bottels kyk wat aan ons appelkoosboom hang.
Daar is so baie troos in 'n tuin, so baie vrede en omgee. My oggende in die tuin het lewensnoodsaaklik geword. Dis meer as net batterye-laaityd. Dis dinktyd. Dis bidtyd. Dis kosbaar.
Kyk hoe spat die saad soos geelvink sy ontbyt geniet !
Wit Icebergrose blom in die son.
'n Pienke voltooi die prentjie.
Uiteindelik blom die miniatuur "bottlebrush" wat ek een jaar by Maureen present gekry het. So, so mooi!
My groentetuin was toe nie so 'n reuse sukses soos ek gehoop het dit gaan wees nie, maar daar is darem heelwat tamaties op pad na die tafel. Iets het ek toe tog wel iewers reg gedoen.