Showing posts with label passie. Show all posts
Showing posts with label passie. Show all posts

16/04/2015

Foto-insetsel nr. 2



"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." Só het laas keer se foto-insetsel geeïndig. My psalms en lofliedere het gelukkig nie ook opgedroog nie, dit sal hopelik nooit. 

Elke seisoen het mos sy eie mooi. Herfs is verruklik. Verruklik is baie mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê.  En dit gebeur dikwels  dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.  Ons kan onsself daarin toevou. Dankie tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees.

Dankie dat ons te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel.  Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet dit, geniet jou dag! 

 Streptocarpus blom steeds in die agterplaas. 
 Grassade
Sonlig deur kareeblare. 

01/04/2015

'n Foto-insetsel nr. 1

Van ek kan onthou, was ‘n kamera iets wat groot bekoring vir my ingehou het. Toe ek toentertyd in St. 6 my eie Kodak Brownie met spaargeld kon koop, was ek die rykste kind in die hele wêreld. Vandag besit ek ‘n Canon PowerShot SX40 HS. Dis sy doopnaam. Niks ingewikkeld nie, net wonderlik. Voldoende. Uiters bevredigend. Ek neem foto’s vir een enkele rede: omdat dit vir my lekker is. Ek neem foto’s om te onthou, om weer te kan kyk, weer te geniet, oor en oor. Fotografie hou oomblikke vas vir ewig. Om foto’s te kan neem, kleur my elkedag-lewe so mooi in. Dis ‘n manier van aanraak, ‘n manier van liefhê. Ek neem foto’s van amper alles, miskien meer van die natuur. Net miskien. Klippe en bome en voëls, wolke en blare en blomme. Skadu’s en lig, silhoëtte, stukkies detail. Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied.

27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.)