Showing posts with label tuin. Show all posts
Showing posts with label tuin. Show all posts

20/01/2016

Vetplante

Die wonderlikste plante onder die son! Nie baie afhanklik van water nie en altyd immergroen en mooi! Mens plant elkeen van hierdie (soms) doringlyfies met liefde in jou hande en as jy weer kyk, het dit sommer in veelvoud aangewas en kleintjies gekry. Ek kan my ook verkyk aan die verskillende teksture en vorms, enige kunstenaar se droom! Die flapjack se blare is 'n sagte blougroen, lyk soos iets wat onder in die see kan groei!  



Hier is 'n mooi voorbeeld van 'n kaktus wat vermeerder het met die jare. Eens was dit net een ronde bolletjie dorings en kyk nou!





Sedum, of soos ek dit maar vir myself noem, "vet vingertjies" is van die maklikste groeiers ooit en vertoon baie mooi in enige tuin.

07/09/2015

Kleur in die tuin

O, die son skyn weer! Hoera, hoera! Vanjaar was ons betyds met die kraalmis-en komposmengsel, want net nà ons dit uitgestrooi het, val die lieflike reën! Ek raak sommer opgewonde as ek dink hoe mooi die tuin gaan word in die komende dae. Mag jou somerseisoen ook oorloop van helder kleure en vele vreugdes! 

Drie splinternuwe laventels en 'n klein kaktus met geel blomme het kom vastrapplek soek in ons erf. Die donker en ligpienk camelia japonicas blom en in die hoek onder die karee is daar 'n hele paar boslelies (clivias) te sien.

24/08/2015

Maandag

Maandag was mooi. So skryf ek my woorde langs die foto waar die son agter die perskeboom sy lêplek loop soek. Kom lees dit op Verse en vrolikhede, my facebookblad vol woorde. As jy wil. Toe ek die foto geneem het, het ek nie geweet daar gaan woorde gebore word wat daarmee saam hand-aan-hand sal wil loop nie. Nietemin. Maandag was toe mooi. Kyk maar self: 

 Die eerste boslelies begin blom! 
 Woestynrosies (echeverias) en miniatuur gesiggies.

 Verskillende teksture en kleure

 'n Vet stroompie
 Vlasplant en botterblomme voor by sy voete. 
 Kuierplek van die geveerdes. 
 Badtyd en droogwordtyd. 
 Weerkaatsing van die akkerboomtakke in die voëls se drinkbak. 
 Anderdag mooi gemaak. 
 Die dans van die geelvink! 

 Pikswart inkvingers van die akkerboom. 
 Alles is nie maanskyn en rose nie! 
 Klaar gebou. Gereed vir intrek. 

 My blomstruik sonder naam. 
 Kannas kom huis toe, was aan die buitekant van die erf, verplant vandag tot hier waar die tenk oorloop. 
 Koebaai Maandag! 

28/03/2015

Voëltjievoerders en geveerdes

Voëls in 'n tuin is en bly 'n vreugde! Hier is my nuutste voëltjievoerder: 'n plat plank met randjies sodat die saad nie maklik afval nie, stewige tou en siedaar! Dit hang aan die granaatroos se tak reg langs ons slaapkamervenster. Terapie op sy beste! Ons geveerde vriende moet nou net eers gewoond raak daaraan, dan kan die feesmaal begin! 



12/02/2015

Ons ou huis

 
Die huis waarin ons woon is oud. My Pa het die huis by sy niggie gekoop toe ek in St. 4 was. Dit was ses-en-vyftig jaar gelede. Ek dink hy het een duisend pond daarvoor betaal, wat toe baie geld was.

Ons het al sedertdien so baie dinge in en om die huis verander. Een van die grootste en beste veranderinge was om al die matte uit te haal, die plankvloere te skuur en te behandel. Dit gee karakter en dit lyk baie mooi, ook baie makliker om skoon te hou.

Die tuin het oor die jare ook baie verander. Die bome het yslik groot geword. Een ding wat dieselfde gebly het, was die sementpaadjie reg voor een van die voorste kamers. Toe ek anderdag daar staan, gaan my oë skielik wawyd oop! Dié paadjie lyk droewig om die minste te sê.

Toe Jacob vanoggend inklok, kom my plan in werking. Ons "steel" oral in die tuin plaveistene en klippe en pak dit bo-op die oeroue sement. Plek-plek los ons dit oop, sodat ons nooit sal vergeet waar alles vandaan kom en begin het nie. 


Nou lyk dit sommer heel anders, nuut en skoon. 'n Mens het nie altyd geld nodig om iets mooi te maak nie. Die heerlike gevoel van werksbevrediging kom lê in my binneste. Ou Jacob lyk ook heel in sy skik. Ten spyte van die hitte vandag, het ons twee iets reggekry. 

08/02/2015

Kosbare tye

Saamweestye met kleinkinders is kosbaar. Gister was so 'n dag. Ons oudste kleinkind het by ons gekuier terwyl Pa en Ma hul twaalfde huweliksherdenking gaan vier het. Boetie Josh het by 'n maat op 'n plaas gaan kuier, daar is mos baie meer lekker seunsdinge om te doen. 
Ek en Amy het die koelte van die grasdakrondawel opgesoek en heerlik gaan sit en teken en verf. So lekker rustig. Gesels-gesels. Sy het vir Ouma van haar skool vertel en dat sy nog nie heeltemal weet wat sy eendag wil doen nie. "Iets kreatiefs Ouma!" Ja, hoe dan anders? Kunstig en kreatief is mos deel van haar menswees. 
Nà 'n uur of twee wys sy trots haar pragtige pastel- en wateroplosbare potloodtekening. "O, dis mooi! " sê ek. "Gaan wys vir Oupa!" Oupa dink ook dis pragtig. 

Op die spensrak staan al baie meer as net "ten green bottles". Pruimedantsap wat Oupa drink vir gesondheidsredes en Ouma kry nie dié mooi, klein botteltjies weggegooi nie. "Ek wil nog iets daarmee doen, " sê ek vir Amy. "Kom ons hang dit aan die boom op!" Ons bind 'n toutjie om 'n paar van die bottels en hang dit so saam-saam op. Toe ek vanoggend my draai in die tuin loop, vang die mooi lig- en skadukleure in die bottels my oog. Verwonderd staan ek en dink hoe sulke klein dingetjies 'n mens kan vreugde gee. En ek weet, ek sal elke keer aan my liefste kleinkind dink as ek na my swaaiende, groen bottels kyk wat aan ons appelkoosboom hang.

Daar is so baie troos in 'n tuin, so baie vrede en omgee. My oggende in die tuin het lewensnoodsaaklik geword. Dis meer as net batterye-laaityd. Dis dinktyd. Dis bidtyd. Dis kosbaar.
Kyk hoe spat die saad soos geelvink sy ontbyt geniet !


 Wit Icebergrose blom in die son. 

 'n Pienke voltooi die prentjie. 
  
Uiteindelik blom die miniatuur "bottlebrush" wat ek een jaar by Maureen present gekry het.  So, so mooi! 

My groentetuin was toe nie so 'n reuse sukses soos ek gehoop het dit gaan wees nie, maar daar is darem heelwat tamaties op pad na die tafel. Iets het ek toe tog wel iewers reg gedoen.  

30/12/2014

Stapelia, die wonder daarvan

Die stapelia of aasblom is inheems aan Suid-Afrika. Ek is so gelukkig om een daarvan in my tuin te hê. Wat 'n interessante plant is dit nie! Vir 'n jaar lank groei dit rustig in die groot, wit pot naby ons hek. Verlede jaar maak dit een blom. My dierbare worshond, Brakkies, ruik die vrot-vleisreuk en verniel die mooie blom in die proses. Hoe sou hy dan nou ook weet?

Vanjaar produseer die plant meer as een blomkop. Ek het sewe getel vanoggend. Dit blom vir so twee dae, lok vlieë en verlep dan. Ek kon my verkyk aan die mooi voorkoms, die stervorm en die fyn haartjies al om die rand van die blare. Dit lyk byna soos iets wat onder die see moet groei. My hondjie het vanjaar nie daaraan geraak nie. Hy het intussen tuinmaniere geleer of miskien is dit omdat dit bewolk was en die reuk van die blom dalk nie so skerp was nie. Hier is meer inligting oor die Stapelia Grandiflora.


'n Volmaakte ligroos knop en twee kleineres wat ook nog gaan blom.



 Hier kom sit 'n brommer (blow fly in Engels) op die aasblom. 

Nouja, "algaande leert men". Is die fyn, dun en donkerpienk lyntjies op die blare nie ook vir jou pragtig nie? 

Dis amper 'n week later ( 3 Jan. 2015) en daar het nog vier knoppe aan die stapelia verskyn. Ek het daagliks gaan loer of dit al oop was. Vandag het twee oopgemaak en die brommers gons om hulle! Kan so 'n mooi blom so 'n nare reuk hê? 


 Hier begin die knop oopgaan...
 ...en hier is dit oop en lok die reuk brommers.


13/12/2014

Douvoordag

Vanoggend, nog voor die son die aarde vuurwarm gebak het, het ek met my kamera 'n draai deur die tuin gaan loop. Alles was vars, fris en flatervry. My gemoed ook. Kom stap saam, gedeelde blydskap is mos altyd dubbele blydskap.

 Wit magrietjies by die fontein


 Rose blom baldadig

 Agapante blom vanjaar  oorvloedig

 Welkom! 

 Die baie reën van die afgelope tyd het die silwereik sy groen jas laat aantrek

 'n Kykie oor die voorste grasperk

 My gunstelinge groei oral, na hartelus! 

Ek loer deur die voorste venster na die duiwe. Hulle weet nie van my nie. Salig sit hulle en bad. Bad en spat en speel. 

 Op hierdie oomblik sou ek beslis nie omgee om 'n duif te kon wees nie. Die kraaie gaap op dié Saterdagmiddag. 






Tot volgende keer!