30/05/2012

Die lewe

Gr.1:

Wat Juffrou sê is alles waar
en sy weet baie, dis nou klaar!
"eet jou groente en jou vleis.."
Ek eet my kos, ek sal haar wys!

Gr. 5:

My Juffrou dink sy kan ons leer
wat ek al weet, kan sy probeer!
Ons kou ons chappies ongemerk
en maak maar of ons kliphard werk..

Gr. 7:

My laaste jaar het aangebreek
met Meneer kan ons die draak nou steek!
Hy dink nog hy kan ons vertel
toe weet ons als, né my ou pêl?

Gr. 8:

Hoërskool toe moet ek nou gaan -
wie is daar wat my verstaan?
Ek haat die goor ou Algebra
en volg die nuutste modes gretig na...

Na Gr. 12:

My skooldae is nou tog verby
nou voel ek, o, so salig VRY
Ek's nou mos vreeslik slim en groot -
koop en smeer my eie brood!

Eerste x 'n ouer:

En eendag sit ek op my stoep...
was dit my Ma wat ek hoor roep?
Sleg geslaap verlede nag -
nat doeke lê: 'n hele VRAG!

Later:

En nou's my kinders ook al groot,
sit nie meer op Pa se skoot...
skool toe moet hul ook al gaan
en leer om vroeg-vroeg op te staan

Ouer in jare:

Stil-alleen hier sit ek nou:
peins en droom, lag in my mou -
die lewe is een lang, lang les:
doen jy maar elke dag jou
BES!
Elizabeth Kendall ©




Hasie wit


Hasie wit

doodstil in die gras gesit

rondgewip

en

weggehol

net 'n

bolletjie

spierwit

wol!

Elizabeth Kendall ©

Blou voël


Blouste blou voël op die tak
hoe weet jy as die son gaan sak,
hoe weet jy waar die winde waai
en of die hoenderhaan
weer vroegdag kraai?



Jy sit so lekker rustig daar
jou stertjie is 'n klawerblaar,
jou ogies sien so alles raak -

jy het my dag weer mooi gemaak!

Elizabeth Kendall ©

My hoendertjies



Op my plasie langs die dam
het hul weer nes gemaak -
twee hoendertjies, so bontgeveer,
het aan my hart kom raak...

hul pik en skrop die heeldag lank
hul maak my tog so bly -
want in hul nes, teen aand se kant,
sal ek drie eiers kry!

Elizabeth Kendall ©