30/05/2012

Die lewe

Gr.1:

Wat Juffrou sê is alles waar
en sy weet baie, dis nou klaar!
"eet jou groente en jou vleis.."
Ek eet my kos, ek sal haar wys!

Gr. 5:

My Juffrou dink sy kan ons leer
wat ek al weet, kan sy probeer!
Ons kou ons chappies ongemerk
en maak maar of ons kliphard werk..

Gr. 7:

My laaste jaar het aangebreek
met Meneer kan ons die draak nou steek!
Hy dink nog hy kan ons vertel
toe weet ons als, né my ou pêl?

Gr. 8:

Hoërskool toe moet ek nou gaan -
wie is daar wat my verstaan?
Ek haat die goor ou Algebra
en volg die nuutste modes gretig na...

Na Gr. 12:

My skooldae is nou tog verby
nou voel ek, o, so salig VRY
Ek's nou mos vreeslik slim en groot -
koop en smeer my eie brood!

Eerste x 'n ouer:

En eendag sit ek op my stoep...
was dit my Ma wat ek hoor roep?
Sleg geslaap verlede nag -
nat doeke lê: 'n hele VRAG!

Later:

En nou's my kinders ook al groot,
sit nie meer op Pa se skoot...
skool toe moet hul ook al gaan
en leer om vroeg-vroeg op te staan

Ouer in jare:

Stil-alleen hier sit ek nou:
peins en droom, lag in my mou -
die lewe is een lang, lang les:
doen jy maar elke dag jou
BES!
Elizabeth Kendall ©




2 comments:

  1. Van Gr.I tot 'Ouer in Jare', mooi raakgevat Elizabeth! 'n Storie van ons almal se lewens en mooi (en nie so mooi nie!) herinneringe!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Aaaaa! My maatjie het kom kuier! Dankie, dankie!

      Delete