Showing posts with label kleurpotlode skets.. Show all posts
Showing posts with label kleurpotlode skets.. Show all posts

30/05/2012

Die lewe

Gr.1:

Wat Juffrou sê is alles waar
en sy weet baie, dis nou klaar!
"eet jou groente en jou vleis.."
Ek eet my kos, ek sal haar wys!

Gr. 5:

My Juffrou dink sy kan ons leer
wat ek al weet, kan sy probeer!
Ons kou ons chappies ongemerk
en maak maar of ons kliphard werk..

Gr. 7:

My laaste jaar het aangebreek
met Meneer kan ons die draak nou steek!
Hy dink nog hy kan ons vertel
toe weet ons als, né my ou pêl?

Gr. 8:

Hoërskool toe moet ek nou gaan -
wie is daar wat my verstaan?
Ek haat die goor ou Algebra
en volg die nuutste modes gretig na...

Na Gr. 12:

My skooldae is nou tog verby
nou voel ek, o, so salig VRY
Ek's nou mos vreeslik slim en groot -
koop en smeer my eie brood!

Eerste x 'n ouer:

En eendag sit ek op my stoep...
was dit my Ma wat ek hoor roep?
Sleg geslaap verlede nag -
nat doeke lê: 'n hele VRAG!

Later:

En nou's my kinders ook al groot,
sit nie meer op Pa se skoot...
skool toe moet hul ook al gaan
en leer om vroeg-vroeg op te staan

Ouer in jare:

Stil-alleen hier sit ek nou:
peins en droom, lag in my mou -
die lewe is een lang, lang les:
doen jy maar elke dag jou
BES!
Elizabeth Kendall ©