26/12/2013

Hondekinders


Ons twee honde is nes kinders. Hagar, die Labrador is nou ongeveer agt jaar oud. Ons het hom present gekry na 'n jaar van rou oor Lassa, ons vorige goue labrador, se afsterwe. Dit was darem nie baie lekker om by die erf in te ry en daar is niemand wat bly raak nie! Toe kry ons hom, die ou swarte. 

Nouja, Hagar is nie die gesondste hond onder die son nie. Hy het al 'n heup-operasie gehad, het 'n pen in die been en loop so effens mank. Hy het al 'n oogoperasie gehad. Sy onderste ooglede groei na binne en die haartjies irriteer sy oë, of altans dit het. Dis al baie beter, maar hy het maar steeds kleinerige en draerige ou ogies. 

Ten spyte van sy tekortkominge is hy die heelbeste waghond onder die son. Hy is geseënd met 'n helder en harde blaf wat verseker menige kwaaddoener sal afskrik. En hy is groot, nie net sy ou lyf nie, maar ook sy  hart is massief. Sy geduld ook. Hy sal nooit ooit "lelik" wees met Brakenjan, die worshond nie. Nooit. 

Brakenjan of Brakkies is nou tien maande oud. Hy verstaan elke woord wat hier in die huis gepraat word. Vanoggend koop Chris vir hom 'n lekker velbeen om aan te kou. Dit was mos nie verniet gister Kerfees nie! Toe ek gaan tee maak, hol hy agter my aan, kouding in die bek. Reguit op pad agterdeur toe en buitetoe waar Hagar is. "Nee Brakkies, moenie daai ding buitetoe vat nie, Hagar gaan dit gryp en dan het jy niks meer oor nie. Gaan kou dit in die gang." Hy kyk my aan, staan doodstil tussen kombuis-en agterdeur. "Toe, luister vir Mammie!" sê ek asof hy net twee bene het. Hy draai kortom en gaan lê in die gang. Stroopsoet kou hy aan die lekkerbekding. 

(Die foto's hierbo is geneem van Meimaand af tot Desember. Elke dag saam met ons dierekinders is 'n goeie dag. )