Showing posts with label Labrador. Show all posts
Showing posts with label Labrador. Show all posts

24/07/2015

Brakkies, ons hondekind.

Niemand op hierdie aardbol lyk so beteuterd soos  Brakkies as ek gou iewers heen moet ry nie. Hy staan verlore op die plaveisel agter die hek, sy kort beentjies en bal-en-kloupootjies plat op die aarde. "Waar gaan jy nou weer heen?" vra die hele ou worshondlyfie. Dan vermurwe my hart stuk-stuk, knyp ek oë toe en trap die petrolpedaal diep in om die wegryery so gou moontlik agter die rug te kry.
Vir hom is dit die heel lekkerste as sy Ma by die huis is en hy op sy blou kombers sy eie hondedrome kan lê en droom, deeglik bewus van my nabyheid. Of saans as dit storietyd op T.V. is, langs my in te wriemel en heerlik warm onder die kniekombers aan die slaap te raak.


Hy het die kuns om in menseharte in te kruip, pens en pootjies bemeester. Soggens nà wakkerwordtyd, groet hy ons stertswaaiend, ogies blink en die ene opgewondenheid oor ‘n nuwe dag wat voorlê.
Op Maandae en Donderdae as Jacob in die tuin kom werk, loop sy beker behoorlik oor. Sodra hy die tuinhekkie hoor, hol hy in eerste rat by die agterdeur uit, jubelende blaffies so ver as hy gaan. Dan vryf ou Jacob hom en sê: “Jaaaa Brakkies, jy het mooi gably?” Met wikkelboudjies en blink oë antwoord hy Jacob se vraag.
Getrou volg hy my deur die dag.  Soos Rut-van-die Bybel.  “Waar u gaan, sal ek gaan.” Vroetel ek iewers in die tuin, jag hy veldmuise of lê en bak in die winterson op die grasperk. Maak ek kos, speel hy binne hoorafstand, buite by die agterdeur, met Hagar, sy ou groot Labradormaat. Sit ek by die rekenaar, krul hy homself op op sy kussing en kruip hy onder sy blou kombers in, ‘n prentjie van geluksaligheid.






Brakkies is nou twee en ‘n halwe jaar deel van ons lewens. Ons kan ons nie ‘n dag sonder hom indink nie. 


28/02/2014

Hondekinders

"Honde is wonderwerke met pote!" het iemand eenkeer gesê. Dis so waar. Ons twee honde kwalifiseer beslis. Geen sielkundige behandeling in die hele wêreld kom naby 'n "kuiersessie" met 'n mens se honde nie. 'n Mens moet tyd maak daarvoor, want dis ewe belangrik vir jou en jou honde om spesiale kwaliteit-tyd saam te spandeer.

Honde is die hartklop by jou voete. Hul onvoorwaardelike liefde is eindeloos en onmeetbaar. Miskien is die rede dat 'n hond een van die grootste troosters is as jy ongelukkig of hartseer voel, geleë in die feit dat hulle geen vrae vra nie. 

Het julle geweet dat honde kan glimlag? Hulle glimlag met hul sterte!


 'n Hond kan 'n mens se beste vriend wees


 ....en ook mekaar s'n!





 My doel in die lewe is om so 'n goeie mens vir my honde te wees soos wat hulle dink ek is!


They never talk about themselves but listen to you while you talk about yourself, and keep up an appearance of being interested in the conversation.  ~Jerome K. Jerome

26/12/2013

Hondekinders


Ons twee honde is nes kinders. Hagar, die Labrador is nou ongeveer agt jaar oud. Ons het hom present gekry na 'n jaar van rou oor Lassa, ons vorige goue labrador, se afsterwe. Dit was darem nie baie lekker om by die erf in te ry en daar is niemand wat bly raak nie! Toe kry ons hom, die ou swarte. 

Nouja, Hagar is nie die gesondste hond onder die son nie. Hy het al 'n heup-operasie gehad, het 'n pen in die been en loop so effens mank. Hy het al 'n oogoperasie gehad. Sy onderste ooglede groei na binne en die haartjies irriteer sy oë, of altans dit het. Dis al baie beter, maar hy het maar steeds kleinerige en draerige ou ogies. 

Ten spyte van sy tekortkominge is hy die heelbeste waghond onder die son. Hy is geseënd met 'n helder en harde blaf wat verseker menige kwaaddoener sal afskrik. En hy is groot, nie net sy ou lyf nie, maar ook sy  hart is massief. Sy geduld ook. Hy sal nooit ooit "lelik" wees met Brakenjan, die worshond nie. Nooit. 

Brakenjan of Brakkies is nou tien maande oud. Hy verstaan elke woord wat hier in die huis gepraat word. Vanoggend koop Chris vir hom 'n lekker velbeen om aan te kou. Dit was mos nie verniet gister Kerfees nie! Toe ek gaan tee maak, hol hy agter my aan, kouding in die bek. Reguit op pad agterdeur toe en buitetoe waar Hagar is. "Nee Brakkies, moenie daai ding buitetoe vat nie, Hagar gaan dit gryp en dan het jy niks meer oor nie. Gaan kou dit in die gang." Hy kyk my aan, staan doodstil tussen kombuis-en agterdeur. "Toe, luister vir Mammie!" sê ek asof hy net twee bene het. Hy draai kortom en gaan lê in die gang. Stroopsoet kou hy aan die lekkerbekding. 

(Die foto's hierbo is geneem van Meimaand af tot Desember. Elke dag saam met ons dierekinders is 'n goeie dag. ) 

24/08/2013

Brakenjan se dinge

Ontmoet vir Brakenjan.


Hy is my miniatuur worshondjie en nou alreeds vier maande deel van ons lewens. Dat hy al baie diep in ons twee se harte ingekruip het met sy ou groot pootjies, is 'n waarheid soos min. Die pienk-en-blou truitjie pas lankal nie meer nie. Die winter is amper verby en Brakkies is al amper uitgegroei.
 
 
Hy is al baie gewoond aan ons roetine, kry nooit meer glipse in die gang of elders nie, slaap wonderlik dwarsdeur elke nag. Reg langs ons bed in sy bedjie en warm toegewikkel onder sy blou kombers.
As ek in die voorste kamer op die rekenaar sit en werk of speel, lê hy heerlik in die sonnetjie en bak en droom sy hondedroompies sonder om gesteur te word.
 
 
 
Stap ek buitetoe, volg hy my. Lekker om in die sagte sand 'n gaatjie te grou.....iewers is daar dalk iets opwindends wat wag om gevang te word. Worsies is mos nie verniet uitstekende jagters nie!
 
 
Soms is dit maar net lekker om na die duiwe te staan en kyk waar hulle saad oppik onder die perskeboom. Hy weet hy mag hulle nie jag nie. Ek wonder wat in sy gedagtes omgaan, die kransduiwe is skaars groter as hy.....
 
 

Brakenjan se heelbeste hondemaat is Hagar, ons liewe ou Labrador, wat nog nooit eers een knor of hap na klein Brakkies se kant toe gewaag het nie. Hy geniet dit so om met sy klein maatjie te speel en hulle twee kan taamlik wild tekere gaan smiddae. Dis 'n heerlikheid om hul lewensvreugde te aanskou.


 
 
 
Nes kinders, raak honde ook gou bederf. Een ou klein bederfie is dat Brakenjan elke middag nà ete by sy baas 'n stukkie sjokolade kry. Dis te dierbaar om te aanskou. Hy gaan sit op sy "hurke" en wag, kyk my man aan met sy mooi ou "mensogies" en lek dan gulsig die flenterjies sjokolade van die vloer af op. Elke middag.
Die vreugde wat 'n mens se diere jou gee is onbeperk. Vir "Innemend" en "Skrander" sal ons nog hopelik baie jare kan versorg en liefhê..... en hulle vir ons, onvoorwaardelik!
 
Ter insae: Worshond: ’n Innemende, skoon hond, wat maklik geleer kan word as hy verstandig gedissiplineer word. Die Duitse woord vir die worshond is “Dachshund” (dashond), wat duidelik vertel in watter soort jagtogte hy hom in die verlede onderskei het.  Vanaf: Honde en hul dinge 
 
Labrador: Skrander en baie betroubaar. Die Labrador kom van Labrador, Kanada, ’n deel van die Kanadese provinsie Newfoundland-en-Labrador. Hierdie soort hond is geteel om voëls te apporteer (aan te bring) nadat hulle geskiet is, veral uit riviere en damme.