24/08/2013

Brakenjan se dinge

Ontmoet vir Brakenjan.


Hy is my miniatuur worshondjie en nou alreeds vier maande deel van ons lewens. Dat hy al baie diep in ons twee se harte ingekruip het met sy ou groot pootjies, is 'n waarheid soos min. Die pienk-en-blou truitjie pas lankal nie meer nie. Die winter is amper verby en Brakkies is al amper uitgegroei.
 
 
Hy is al baie gewoond aan ons roetine, kry nooit meer glipse in die gang of elders nie, slaap wonderlik dwarsdeur elke nag. Reg langs ons bed in sy bedjie en warm toegewikkel onder sy blou kombers.
As ek in die voorste kamer op die rekenaar sit en werk of speel, lê hy heerlik in die sonnetjie en bak en droom sy hondedroompies sonder om gesteur te word.
 
 
 
Stap ek buitetoe, volg hy my. Lekker om in die sagte sand 'n gaatjie te grou.....iewers is daar dalk iets opwindends wat wag om gevang te word. Worsies is mos nie verniet uitstekende jagters nie!
 
 
Soms is dit maar net lekker om na die duiwe te staan en kyk waar hulle saad oppik onder die perskeboom. Hy weet hy mag hulle nie jag nie. Ek wonder wat in sy gedagtes omgaan, die kransduiwe is skaars groter as hy.....
 
 

Brakenjan se heelbeste hondemaat is Hagar, ons liewe ou Labrador, wat nog nooit eers een knor of hap na klein Brakkies se kant toe gewaag het nie. Hy geniet dit so om met sy klein maatjie te speel en hulle twee kan taamlik wild tekere gaan smiddae. Dis 'n heerlikheid om hul lewensvreugde te aanskou.


 
 
 
Nes kinders, raak honde ook gou bederf. Een ou klein bederfie is dat Brakenjan elke middag nà ete by sy baas 'n stukkie sjokolade kry. Dis te dierbaar om te aanskou. Hy gaan sit op sy "hurke" en wag, kyk my man aan met sy mooi ou "mensogies" en lek dan gulsig die flenterjies sjokolade van die vloer af op. Elke middag.
Die vreugde wat 'n mens se diere jou gee is onbeperk. Vir "Innemend" en "Skrander" sal ons nog hopelik baie jare kan versorg en liefhê..... en hulle vir ons, onvoorwaardelik!
 
Ter insae: Worshond: ’n Innemende, skoon hond, wat maklik geleer kan word as hy verstandig gedissiplineer word. Die Duitse woord vir die worshond is “Dachshund” (dashond), wat duidelik vertel in watter soort jagtogte hy hom in die verlede onderskei het.  Vanaf: Honde en hul dinge 
 
Labrador: Skrander en baie betroubaar. Die Labrador kom van Labrador, Kanada, ’n deel van die Kanadese provinsie Newfoundland-en-Labrador. Hierdie soort hond is geteel om voëls te apporteer (aan te bring) nadat hulle geskiet is, veral uit riviere en damme.
 

2 comments:

  1. Dis te wonderlik wanneer hulle so saamsmelt in die familie in Liz, die daaglikse roetines, die liefde van beide kante en die alledaagse dingetjies wat mens se lewe so gelukkig maak. Kannie glo hoe groot Brakenjan al is nie, dis soos gister dat hy net 'n klein bondeltjie was!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dit is né Maree! Ek wens jy kon sien hoe lekker hulle twee nou buite met die bal gespeel het....Hagar is net nogal taamlik besitlik en deel nie graag sy bal nie, glimlag!!

      Delete