Showing posts with label kleinkinders. Show all posts
Showing posts with label kleinkinders. Show all posts

08/02/2015

Kosbare tye

Saamweestye met kleinkinders is kosbaar. Gister was so 'n dag. Ons oudste kleinkind het by ons gekuier terwyl Pa en Ma hul twaalfde huweliksherdenking gaan vier het. Boetie Josh het by 'n maat op 'n plaas gaan kuier, daar is mos baie meer lekker seunsdinge om te doen. 
Ek en Amy het die koelte van die grasdakrondawel opgesoek en heerlik gaan sit en teken en verf. So lekker rustig. Gesels-gesels. Sy het vir Ouma van haar skool vertel en dat sy nog nie heeltemal weet wat sy eendag wil doen nie. "Iets kreatiefs Ouma!" Ja, hoe dan anders? Kunstig en kreatief is mos deel van haar menswees. 
Nà 'n uur of twee wys sy trots haar pragtige pastel- en wateroplosbare potloodtekening. "O, dis mooi! " sê ek. "Gaan wys vir Oupa!" Oupa dink ook dis pragtig. 

Op die spensrak staan al baie meer as net "ten green bottles". Pruimedantsap wat Oupa drink vir gesondheidsredes en Ouma kry nie dié mooi, klein botteltjies weggegooi nie. "Ek wil nog iets daarmee doen, " sê ek vir Amy. "Kom ons hang dit aan die boom op!" Ons bind 'n toutjie om 'n paar van die bottels en hang dit so saam-saam op. Toe ek vanoggend my draai in die tuin loop, vang die mooi lig- en skadukleure in die bottels my oog. Verwonderd staan ek en dink hoe sulke klein dingetjies 'n mens kan vreugde gee. En ek weet, ek sal elke keer aan my liefste kleinkind dink as ek na my swaaiende, groen bottels kyk wat aan ons appelkoosboom hang.

Daar is so baie troos in 'n tuin, so baie vrede en omgee. My oggende in die tuin het lewensnoodsaaklik geword. Dis meer as net batterye-laaityd. Dis dinktyd. Dis bidtyd. Dis kosbaar.
Kyk hoe spat die saad soos geelvink sy ontbyt geniet !


 Wit Icebergrose blom in die son. 

 'n Pienke voltooi die prentjie. 
  
Uiteindelik blom die miniatuur "bottlebrush" wat ek een jaar by Maureen present gekry het.  So, so mooi! 

My groentetuin was toe nie so 'n reuse sukses soos ek gehoop het dit gaan wees nie, maar daar is darem heelwat tamaties op pad na die tafel. Iets het ek toe tog wel iewers reg gedoen.  

01/10/2013

Ouma se kleinkinders

 
My rykdom! Kleinkinders. Wat 'n lekkerte was dit nie om die afgelope naweek weer alvier te beleef nie. Elkeen uniek. Elkeen so spesiaal.
 
Kinders praat reguit.
 
Klein Anna-Marie sit op oupa se skoot terwyl hy vir haar Bybelstories lees.
Sy streel oor oupa se geplooide gesig en ook oor haar eie en vra toe: "Oupa, het die Here vir Oupa gemaak?" "Ja, my ding," antwoord hy "dit was sommer al lank gelede." "Het Hy my ook gemaak?" kom die volgende vraag. "Ja, my skat, maar dit was sommer net nou die dag," antwoord Oupa weer. Terwyl sy weer oor albei se gesigte voel, sê sy: "Hy raak al beter en beter né Oupa?!"
 
'n Klein dogtertjie sit rusteloos en rondskuif in die kerk toe die diens darem te lank aanhou na haar sin. Uiteindelik fluister sy vir haar ma: "As ons nou vir hom die geldjies gee - sal hy ons dan laat gaan?"
 
Stefan gee vir sy ma 'n drukkie toe hy gaan slaap en sê: "Ek is so lief vir mamma - as ma doodgaan, gaan ek Ma onder my kamervenster begrawe!"
 
***

26/01/2013

Om Ouma te wees



Om Ouma te wees kan baie dinge beteken. Dit kan beteken dat spensrakke altyd kreun onder blikke vol heerlike gebak: soetkoekies, jamtertjies, koeksisters. Dit kan ook beteken dat kleinkinders selfgemaakte rokkies, hemde of broeke dra wat Ouma knaphandig en op haar eie tyd met haar eie twee raakvathande vervaardig het.

Dit kan beteken dat Ouma altyd daar is om te luister, moed in te praat, stories te vertel, te troos of pleisters op te plak wanneer nodig.

In my geval is lg. dalk so min of meer van toepassing, maar ook nie altyd nie. Net as kindertjies hier kom kuier vir 'n naweek of 'n paar dae. In my geval is Oumawees anders as die gewone Oumaweesdinge. Wanneer die kleingoed hier instap, weet hulle ons gaan verf. Verf en teken en knip en plak. Dit kan buite of binne gebeur, net waar dit op die gegewe oomblik die heel lekkerste sal wees.
 
Hier is voorbeelde van alvier my liewe kleinkinders se kuns, so deur die jare gedoen en vir altyd in Ouma se hart vasgeplak. Is dit nie mooi nie? Amy is nou al 12 en teken sekerlik al baie mooier en is miskien ook nie meer so lus om hoendertjies te teken nie....
Tog is daar is min dinge wat so spontaan en lieflik is soos die kuns wat gedoen is deur kindervingertjies.
 
 
Om hulle gesiggies dop te hou terwyl hulle so besig is, is vir Ouma soos heuning in haar tee....heerlik!! Die wêreld staan stil as Isabella besig raak, dis 'n groot genot om dié blinkoogkind met die laggesiggie dop te hou.
 
 
Ek wonder wat sê dié twee hoendertjies vir mekaar...
 

Dié prentjie is al drie jaar gelede gedoen, maar kinderkuns bly mos altyd nuut. Soos mossie se roep elke môre buite my slaapkamervenster. Splinternuut.

Wie sou nie graag onder so 'n heerlike groen boom wou gaan sit nie? Veral nou in hierdie snikhete dae. Joshua se seuntjiehande is vir Ouma so mooi om na te kyk. En dan wonder sy hoe gaan hierdie rooikopkind eendag vorentoe nog lyk en wat hy nog alles met die twee mooie handjies gaan doen.
 

En as ons 'n entjie verder stap, kan ons onder Reuben se boom gaan lafenis soek. Dié seuntjie konsentreer tog te vreeslik wanneer hy besig is en die tong wat so "saamgesels", al lekkende oor die ou mooi mondjie, is te dierbaar. Natuurlik is hy salig onbewus daarvan dat Ouma baie binnepret het so in die aanskoue van haar kleinseun. Hy lyk op 'n druppel water  nes die skamerige, blonde  kind op die foto van Ouma toe sy so vier, vyf jaar oud was. Sal sy mos daarom ook vir hom 'n ou sagte plekkie in haar hart hê.


Die vreugde van saamwees, saam skep, saam lag kan in elke verfstreep gesien word!
En eendag, eendag as Ouma nie meer hier is nie, sal haar kleinkinders hopelik dié helder dae onthou en koester. Soos Ouma reeds doen.

 
 
Isabella het 'n vet pienk varkie op 'n x-straalplaat geverf. Is dit nie te pragtig nie?
Groete tot volgende keer!
 
 
 
 

 
 
 

17/06/2012

Dis mos nou lekker!

Van l.n.r.: Isabella, Reuben, Joshua en Amy. Hier het hulle "skool gespeel" en die outydse skoolbank in die voorportaal is mos ideaal vir dié doel!

As my kleinmense kom kuier, dan maak ons tyd vir verf! En hulle wéét al! Skaars geland, dan sal Reuben vra: "Ouma, wanneer gaan ons ve..e..e..rf ?"
Ek geniet dit vreeslik om hulle dop te hou terwyl hulle besig is. Soms knip en plak ons, ander kere "skilder" ons, partymaal mors ons, baie kere gesels ons meer as wat ons enige-iets anders doen....maar in elke kuiertjie van kleinkinders hier by Krugerstraat is daar 'n gróót stuk genot van iets lekkers saamdoen.

'n Trein! Altyd 'n trein....dan is Reuben in die sewende hemel!


Joshua se mooiste bome
"Tjoeke tjoeke paf !" ry Reuben se trein oor vlaktes wit papier!
En partymaal droom ons drome en wens ons wense!
'n Lekker vet skapie! Isabella s'n!
Amy se boomskildery.....almal kan sien sy het dit so baie geniet!

Baie maal sit ons net sommer in die tuin en gesels of luister na die voëltjies....of speel wegkruipertjie!


Hagar, Oupa en Ouma se swart Labrador, is natuurlik altyd deel van die spelery! Kyk hoe lekker oopbek lag hy!


15/06/2012

Vier hartkamers vol!

Amy en Joshua, sy in Gr. 6 en twaalf jaar oud. Hy in Gr. 2 en sewe jaar oud.
Isabella en Reuben. Sy in Graad 3 en 8 jaar oud. Hy in Gr. R en vyf jaar oud.

Vanoggend dink ek aan my vier kleinkinders, twee dogtertjies en twee seuntjies. Jy kan dit nie beter wil hê nie! Stilletjies word hulle groot. Ek sien hulle nie elke dag nie, maar ek bid vir hulle......elke dag.

Amy, die oudste van die vier, is al 'n regte grootnooi. Sy kry 'n beurt om een maal elke week 'n hele ete te maak in hul huis. En sy doen dit met groot opgewondenheid en blydskap. Sy hou baie daarvan! En as almal na ete hul lippe aflek en vra vir nog, is Oumasekind in die sewende hemel.

Joshua is 'n regte seunskind, lief vir balskop en karretjies en Ouma se beskuitblik. Op dié stadium ook baie hartseer om te moet ry as hulle 'n slag hier gekuier het. Kleinkinders is glo net lief vir 'n mens tot hulle tien jaar oud is, het 'n wyse ouma my eendag vertel. Ek glo dit nie.

Isabella is 'n patroon. Sy wil konserte hou en dans en sing. Dogtertjiegoed is mos lekker goed. Die haasbekkie het "grootmenstande" begin kry. As ons mekaar sien, is ons altwee so bly!

Reuben is die enetjie wat na "sy Ouma trek".  'n Foto van my waar ek in Gr. Een was, lyk baie na dié klein rakker. Vol lewe is hy. Die wêreld is 'n wonderlike plek en hy is daagliks op 'n vrolike ontdekkingsreis.

In my hart is daar vier kamers: elkeen van my kleinkinders beset 'n kamer.....vir altyd. So lank as wat ons spore mag trap op Moederaarde, so lank bly julle Ouma lief vir haar kleinkinders, een vir een en elkeen afsonderlik.