06/12/2013

Regpak en wegpak

Daar hang 'n vakansie-atmosfeer oor alles dié tyd van die jaar. So lekker. Alles en almal is so half "afgeskakel" en sommer ook vriendeliker en meer toeganklik.

Soos altyd voor Kersfees het die groot regpak my weer beetgekry. Ek skrop die spensrakke skoon, maak leeg waar nodig, stof af. Ek sorteer ook al my baie skryfwerk wat oral op rakke ingepak is. Ek maak plek in die voorste kas vir wanneer die kinders kom kuier.

Dis heerlik, want so saam met die uitsoek en herrangskik van al hierdie bladsye en bladsye skryfwerk: rubrieke, gedigte, verse, rympies en wat nog, kom ek op ou vergete en mooi goed af.

Ek het nie 'n idee wie hierdie verse geskryf het nie, daar is geen naam by nie, maar ek deel dit graag:

Waarom is die reënboog krom?
 
Die pers van blomviooltjies,
die rooi op my ma se wang,
die groen van eikeblare
en die geel uit die son gevang
 
die blousel in die pou se stertveer,
die oranje van die oop gousblom,
die ligblou teen die berg met dagbreek,
hulle buig die reënboog krom.  
 
 
Oggendete
 
Die son kom vroe-vroe kuier,
hy kruip al nader aan ons huis.
Sy eerste warm strale skyn
tot in ons wit kombuis.
 
Die son klim in my papbord,
hy kom oor my melkglas loer,
'n sonstraal streep die tafel,
dan val hy op die vloer.
 

Herfs
 
Herfs is 'n papawer,
herfs is 'n oranje blaar,
herfs word 'n vuurvlam,
dan is winter daar.

  



23/11/2013

Ou goed is hougoed.

In my huis is daar heelwat oudhede. Ja, ek is een van hulle! Wonder ek so by myself wie van my kinders sal dit eendag wil hê en wat hulle daarmee gaan doen. Wonder maar net.....
 
 
Hierdie skildery is jare der jare gelede deur my Oom Koos Grobler geskilder. My Pa se broer. Die raam is nog die oorspronklike. Dit bly mooi vir my.

 
En dit is hoe ons skoolskrifte gelyk het! Hoeveel bladsye het ek nie vol geskryf met pen en ink nie....en soms het daar 'n inkkol geval en 'n lelike kladmerk gemaak tot my groot ontsteltenis.
Transvaalse Onderwysdepartement en Standerd. Nogal. Woorde wat stil heengegaan het.

 
Die swart blikkie was my Oupa aan my Ma se kant s'n. Nou antiek. Die gele het ek by iemand present gekry net omdat ek van blikkies hou. Die pen vertel sy eie storie van lank, lank gelede.

 
Hierdie is maar net twee van my mees geliefde storieboeke uit my kindertyd. My Ouma Miemie het "Die tweeling trek saam" vir my gegee toe ek tien of elf geword het. "Abdoltjie" van Alba Bouwer het ek gaar gelees!
Vir my het die onbekende woorde soos "kofia, booia en danepitjies" soveel bekoring ingehou. En ek kon my so inleef in Abdoltjie se omswerwinge saam met sy Bellabok.
 


'n Skoolbank soos ons dit geken het, gekoop by 'n vriendin van my jare terug, omdat dit beter in my huis pas as in hare! Ek onthou so goed hoe die seun wat agter jou gesit het, jou of jou maat se vlegsel se punt in die inkpot gedruk het.... met minder gawe gevolge!
Die trommel onder die bank was Manlief s'n. Geskik vir baie dinge.
En die boeksak langsaan gebruik ek steeds as ek VLU-vergaderings toe gaan. Die leer ruik so lekker.

 
Onthou jy nog die ou telefoon wat met 'n slinger gedraai het? Op die plaas waar ons gewoon het, was ons nommer: 1402. Net dit.
 'n Haarknipper is tuis gebruik om seuns se hare kort en netjies te hou.


Wit enamel bekertjies, 'n koper asbak en 'n mandjie vir wol of gare. Soos Ouma sou sê.
 
 
'n Man wat pyp rook....daar is mos maar net "iets" aan so 'n man. Sy oë is vol stories.
Die ou kamera se naam is Kodak. En sy kiekies was wit-en-swart. Miskien het my liefde vir foto's juis by so 'n kamera begin.


Waar kom hierdie bokkie sonder horings vandaan? Dit was in my Ma se huis sedert my kleinkinderdae. Die hout steeds lieflik, sodat mens voel om met jou vingers daaroor te streel. Ek dink my seun sal dit dalk graag wil hê, net om sy Ouma te onthou.
 
 
My kinders se skoeisels. Toe hulle nog kinders was.


Ou glasbottels en 'n lekker groot soplepel, 'n slaailepel en konfytlepeltjie. Uniek.
 
 
Hierdie haak het ek in Holland gaan haal. Dit het op die solder van 'n skoolgebou gelê en niemand wou dit hê nie. My ingevoerde haak is so, so handig!

 
Manlief se polisie-swaard. Elke kleinseun se droom!


'n Melkkan uit my oorlede Pa se tyd. Hoe onthou ek hom nie as hy soggens vir ons vars melk van die plot af bring nie, glimlaggend en lewensbly.
Ja, dis 'n skoenlees wat daar langsaan staan. 'n Gawe deurstopper nou.
 

Groot enamel skottels.  Allerlieflik.
 
 
'n Skaal, 'n melkemmertjie en 'n kurkprop. Goed, die laaste een is nie so oud nie.

 
Op 'n dag was ek lus om hierdie wit enamel bekers te skilder. Nou staan dit op my yskas en die skildery hang teen die kombuismuur. Sommer twee prentjies bymekaar.


Poskaarte uit toentertyd.
"Wat is 0 x 0?" het ons mekaar gevra toe ons kinders was.
"OXO!" was die antwoord.
 
 
Hout en klei. Lieflik vir my.
 

12/11/2013

Foelievingers

As my kleinkinders oor 'n naweek kom kuier, wag daar altyd iets lekkers om te doen. Ons moet nog besluit wie geniet dit die meeste: Ouma of hulle!
Dis wat ons gedoen het: elkeen het 'n reghoekige stuk hardbord gehad. Ons het met koue lym (Ponal) patrone en prentjies  daarop geteken.



 
Ons het dit oornag laat staan sodat dit goed kon droog word. Ons het 'n stuk foelie wat groter is as die hardbord gesny. Toe het ons gom oor die hele oppervlak gesmeer.
 
 
                                                En dit vinnig met 'n kwassie oral ingeverf.

 
Daarna het ons die foelie mooi op die hardbord vasgeplak en met 'n stukkie watte al die blasies uitgevryf.
 
 
 Die foelie word toe aan die agterkant netjies omgevou.
 
 
 En toe begin die lekker! Ons gebruik vloeibare skoenpolitoer om bo-oor ons prentjie te smeer! Smeer mooi egalig.
 
 
 Jy kan ook met die agterkant van 'n dun kwassie strepe of patrone inteken as jy wil.
 
 
Hier is nog voorbeelde van ons foeliekuns. Die mooi hasie was 'n eerste probeerslag van Isabella wat nou in Gr.4 is. Ouma is sommer trots op haar!
 
 
 En hier is Reuben se maantuig en dinge! Pure seunskind.  
 
 
  En natuurlik sou ek mos maar 'n blommetjie wou teken! Hoe dan nou anders?
 
 
Op die end lyk dit na pewter. Met oefening behoort 'n mens baie mooi(er) kunswerke te kan skep wat dalk ook geraam kan word en iemand se hart bly kan maak. 'n Maklike en goedkoop aktiwiteit vir kinders en (ouer) mense!
 
 
 
Hier kan meer voorbeelde van hierdie interessante kuns gesien word:


01/11/2013

Prentjies en woorde

Ek kan vir ewig met woorde en prentjies speel. Dis amper so lekker soos tuinmaak. Dis net so lekker soos skilder. Dit gee min of meer dieselfde plesier as foto's neem. Hoe heerlik om nou tyd te hê vir dié dinge wat lekker is! Op RedBubble kan jy na al my "Woord-en-beeld"-skeppings gaan kyk. Soms gebeur dit net dat 'n foto of skildery of sommer net 'n prentjie iewers in 'n boek, my lus maak om iets daaroor te skryf.

 
Hierdie outydse wit bekers en emmertjie het ek van my Ma ge-erf, dit staan op my yskas. Die skaal het ek by 'n pandjieswinkel gekoop....sommer maar net vir lekker onthou.
 
 
So baie duiwe op die dak sorg soms vir heelwat fluisterwoorde.
 
 
En soms inspireer een van my eie skilderye my om 'n versie te skribbel!
 
 
(Blogger laat my nie toe om die prentjie groter te maak nie, sit maar jou brilletjie op asb.
 
 
of as jy beter wil sien, kom kyk hier by Verse en vrolikhede.)
 
Al hierdie "skryf-en-speel" kaartjies kan op RedBubble gekoop word, sou jy wou. Die kwaliteit is uitstekend!
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 
 

01/10/2013

Ouma se kleinkinders

 
My rykdom! Kleinkinders. Wat 'n lekkerte was dit nie om die afgelope naweek weer alvier te beleef nie. Elkeen uniek. Elkeen so spesiaal.
 
Kinders praat reguit.
 
Klein Anna-Marie sit op oupa se skoot terwyl hy vir haar Bybelstories lees.
Sy streel oor oupa se geplooide gesig en ook oor haar eie en vra toe: "Oupa, het die Here vir Oupa gemaak?" "Ja, my ding," antwoord hy "dit was sommer al lank gelede." "Het Hy my ook gemaak?" kom die volgende vraag. "Ja, my skat, maar dit was sommer net nou die dag," antwoord Oupa weer. Terwyl sy weer oor albei se gesigte voel, sê sy: "Hy raak al beter en beter né Oupa?!"
 
'n Klein dogtertjie sit rusteloos en rondskuif in die kerk toe die diens darem te lank aanhou na haar sin. Uiteindelik fluister sy vir haar ma: "As ons nou vir hom die geldjies gee - sal hy ons dan laat gaan?"
 
Stefan gee vir sy ma 'n drukkie toe hy gaan slaap en sê: "Ek is so lief vir mamma - as ma doodgaan, gaan ek Ma onder my kamervenster begrawe!"
 
***

31/08/2013

Simon, Sarel en Stoffel se elke-dag-storie

Daar is drie van hulle. Aldrie pragtig op hul eie manier. Aldrie yslike groot voëls met lengtes van  64–82 cm. en 'n gewig van 1.5 kg. elk, so naastenby. Hulle woon in Noordwes op 'n wildplaas, wat nou 'n vakansieoord is. Hulle maak saam met geel- en rooibekneushoringvoëls, bontkiewiete, patryse, houtkappers en nog baie ander geveerdes die oop, blou lug en die baie bome hul tuiste. Tevrede.

 
 Van links na regs: Simon, Sarel en Stoffel Skoorsteenveër.

 
Hier spieël aldrie hulself in die dam se water....wie is die mooiste in die land? Vir die Egiptenare van weleer was hierdie voëls heilige gevleuelde wesens. Hul ander naam is Nylreier.
 

Vir ure aaneen wandel die drie pik-pik langs die dam nes drie ou wyse manne. Sarel soek 'n vissie, Simon 'n padda en Stoffel sal baie bly wees as hy net 'n paar vet insekte kan kry vir middagete. Aldrie weet as hulle hul lang snawels lekker diep in die modder inploeg, kry hulle heerlike erdwurms vir poeding.

 
 
 

24/08/2013

Brakenjan se dinge

Ontmoet vir Brakenjan.


Hy is my miniatuur worshondjie en nou alreeds vier maande deel van ons lewens. Dat hy al baie diep in ons twee se harte ingekruip het met sy ou groot pootjies, is 'n waarheid soos min. Die pienk-en-blou truitjie pas lankal nie meer nie. Die winter is amper verby en Brakkies is al amper uitgegroei.
 
 
Hy is al baie gewoond aan ons roetine, kry nooit meer glipse in die gang of elders nie, slaap wonderlik dwarsdeur elke nag. Reg langs ons bed in sy bedjie en warm toegewikkel onder sy blou kombers.
As ek in die voorste kamer op die rekenaar sit en werk of speel, lê hy heerlik in die sonnetjie en bak en droom sy hondedroompies sonder om gesteur te word.
 
 
 
Stap ek buitetoe, volg hy my. Lekker om in die sagte sand 'n gaatjie te grou.....iewers is daar dalk iets opwindends wat wag om gevang te word. Worsies is mos nie verniet uitstekende jagters nie!
 
 
Soms is dit maar net lekker om na die duiwe te staan en kyk waar hulle saad oppik onder die perskeboom. Hy weet hy mag hulle nie jag nie. Ek wonder wat in sy gedagtes omgaan, die kransduiwe is skaars groter as hy.....
 
 

Brakenjan se heelbeste hondemaat is Hagar, ons liewe ou Labrador, wat nog nooit eers een knor of hap na klein Brakkies se kant toe gewaag het nie. Hy geniet dit so om met sy klein maatjie te speel en hulle twee kan taamlik wild tekere gaan smiddae. Dis 'n heerlikheid om hul lewensvreugde te aanskou.


 
 
 
Nes kinders, raak honde ook gou bederf. Een ou klein bederfie is dat Brakenjan elke middag nà ete by sy baas 'n stukkie sjokolade kry. Dis te dierbaar om te aanskou. Hy gaan sit op sy "hurke" en wag, kyk my man aan met sy mooi ou "mensogies" en lek dan gulsig die flenterjies sjokolade van die vloer af op. Elke middag.
Die vreugde wat 'n mens se diere jou gee is onbeperk. Vir "Innemend" en "Skrander" sal ons nog hopelik baie jare kan versorg en liefhê..... en hulle vir ons, onvoorwaardelik!
 
Ter insae: Worshond: ’n Innemende, skoon hond, wat maklik geleer kan word as hy verstandig gedissiplineer word. Die Duitse woord vir die worshond is “Dachshund” (dashond), wat duidelik vertel in watter soort jagtogte hy hom in die verlede onderskei het.  Vanaf: Honde en hul dinge 
 
Labrador: Skrander en baie betroubaar. Die Labrador kom van Labrador, Kanada, ’n deel van die Kanadese provinsie Newfoundland-en-Labrador. Hierdie soort hond is geteel om voëls te apporteer (aan te bring) nadat hulle geskiet is, veral uit riviere en damme.