04/11/2012

Tyd kan nie vasgehou word nie

Ek blaai deur foto-albums van my kleinkinders. Lekker. Liefgoed van Ouma en Oupa. Amy is al twaalf jaar oud gewees vanjaar (2012). Waar is die dae toe ek haar op my heup rondgedra het en gewonder het waar kom die pyne in my elmboë vandaan saans as dit slaaptyd was...

 
Hier was dit haar verjaarsdag ver in 'n vreemde land, duisende kilometers van Ouma se hart en hande af! Ons het ons stukkend verlang.
 
 
In die kas het haar lappop Sally, geduldig gewag. As Amy en haar Mamma en Pappa uit die verre Taiwan kom kuier het, het sy altyd eerste vir Sally gaan uithaal! Haar bedmaatjie, haar speelding, haar liefieding.
 
 
Die jare het aangestap en Ouma se kind het groter geword.  Hulle het Suid-Afrika toe verhuis (hoera! ) en ons het mekaar baie gesien. Daar was so veel om in te haal!
 
 
Lekker was dit om saam in die tuin te kon rondloop en die skoonheid van die natuur in te drink!!
 
 
Winkel-winkel speel was en is nog steeds een van die grootste lekkertes as daar by Ouma se huis gekuier word. Dan moet almal iets kom koop en soms kon mens selfs 'n heerlike melkskommel bestel en met tuisgemaakte munte betaal!
 
 
Hier is Amy saam met haar gesin, volgende jaar is sy 'n leier in haar skool en in Graad sewe. Ons is almal lief vir haar en trots op haar.
 
 
Anderdag vertel ek van die ander .... daar is nog drietjies wat vlees van my vlees en been van my gebeente is. En vir almal is ons ewe lief!
 
 
 
 
 
 

02/11/2012

Die kind in my!

Ek hou van speel! En ek is mal oor kleure. Dis die kind in my wat my hierdie blog laat begin het. Mag sy nooit oud word nie...daai kind! Dis sy wat my op haar smal skouertjies lag-lag deur die swarighede van die lewe dra, want sy sien net altyd die lekker en die mooi raak. Kyk nou net na hierdie moerbeiblaar...is dit nie 'n wonderlikmooie ding nie?
 

O ja, ek het in Picasa gespeel en dis hoekom die are op die blare (dit rym!) so lieflik lyk....dit het net daai ekstra bietjie oemf, stem jy saam?
 
Hier is nog 'n voorbeeld van my gespelery: HDR-ish noem mens dit glo....
 
 
(ag, nou kry ek nie dié foto groter gemaak op die liewe ou Blogger nie...ai tog!)
 
Om foto's te neem van alles om my wat lewe en bewe, is nog altyd een heerlikheid op aarde vir my. Een van die foto's waarop ek baie trots voel en amper ook half verbaas was dat dit so mooi uitgekom het, is die een van die tortelduif wat by die waterbak hier in ons voortuin sit en droom. Ek het niks aan dié foto verander nie. Dit was een van daardie wonderlike gelukskote!
 
 
 
Soms as ek die duiwe dophou, kom lê die woorde sommer vanself voor my op die papier:
 

My duiwe

 

By die waterbak hier in ons tuin

daal blou duiwe daagliks pofveer neer

 

Toontjies pienk en pragtig,

vredeversies in vlerke toegevou

 

sing hul sag hul weemoedwysies

vir my en ook vir jou

 

fladderveer en klouter

trap hul op die huis se dak

 

soms laat hul my toe om stil te kyk

hoe hul vlerksleep en kafoefel

 

sirkeldraai teen blou, blou lug -

skemeraand se tuiskom na 'n dag se vlug...
Elizabeth Kendall ©

20/10/2012

Duiwe: verse en vrolikhede

 
Kransduif pienkpoot op my huis se dak
vredig en op sy gemak
 
 
Donsveer droom 'n babaduif op 'n plat klip in die tuin...
waar het sy liefste mamma nou tog weer verdwyn?
 
 
By die waterbak sit sy en bad, "koe-koerdoek"-kuier
heerlik dat die druppels so spat!
 
 
'n Lagduif sit daar naby op die stomp,
sy sit verkyk haar aan dié vrolike klomp!
 
 
Tortelduif is mooi verby...
blinkoog staan sy daar en lekkerkry....
 

 
... besluit  om gou 'n lekker bad te vat, pof die vere, water spat!!
 
 
Op die grys muur sit haar jongste soet en droom,
 
heerlik onder die groot ou anaboom.
 
 
Salig is dit in dié tuin...
 

 
....al is dié sitplek is 'n bietjie skerp!
 

 
Dis baie sagter sit so op die gras...hier waar pienk tone netjies pas!
 

 
Soms sommer net lekker om rond te stap en vriendelike duiwespoortjies oraloor te trap!!
 

 
 
 
 
 
 

27/09/2012

Die verkluimde akkedis

Net hier voor my op die grond
het ek die liefste ding gekry-
stertjie rooi en verder bont,
en nie die minste bang vir my.


Kyk, ek neem hom in my hand.
“Foeitog, kleinding, wat is jy?”
Haai! hier-jy! Jou klein kalant!
Kyk nou hoe laat skrik jy my!"
 
(Ek het dié gediggie op Laerskool geleer en sou baie graag wil weet wie die digter is.)  

26/09/2012

Teken 'n otjie

Maklik! Trek 'n sirkel....en nog een...en nog een, teken die ore, die stertjie, die pote....jy kan mos al 'n driehoek maak....teken sy oë, sy neusgate en moenie die glimlag vergeet nie!
Sien, dis maklik!
 
 
Probeer nou dié een....toe, jy kan!
 
 
En hier is Oupa Krulstert vir dié van julle wat niks skrik vir 'n pen of potlood nie....geniet dit!
 
 
Jare terug het my Graad Eens hierdie versie so mooi opgesê:
 
Otjie Potjie Vette Vark,
werk in die tuin met sy langsteel hark,
hy hark en hy hark tot die steeltjie breek
en vir Otjie Potjie "boems!" in sy magie steek.... 
 
 

06/09/2012

My hoendertjie

My weglêhoendertjie
het 'n hoepelbeen.
Ek weet waar haar nes is,
net ek alleen.
 
Ek sorg vir haar soggens,
elke liewe dag.
Sy roep voor my deur
terwyl sy honger wag.
 
As sy later in die veld sit
en 'n eiertjie daar lê,
raai ek dis vir my
wat sy só dankie sê.
 
 

11/08/2012

As Kerneels Kwêvoël kom kuier....


Dis 'n heerlike sonskyndag in die hartjie van die winter. Kerneels Kwêvoël sit op die voëlbad in die tuin. Die water lyk tog so aanloklik!


Heerlik! Hy spat en plons en gaan tekere!


Dan druk hy sommer sy hele ou grys gesiggie binne-in die bad. Die druppels spat oor die rand van die waterbak. Dis wonderlik!

Bertus Bontrugwewer hou vir Kerneels dop en dink by homself: "Ai, dié Kerneels is darem maar 'n spektakel.....kyk tog net hoe lyk hy nou! "


Kerneels kerjakker en rinkink, hy steur hom nie in die minste aan wat ander voëls van hom mag dink nie. Hy wéét wat lekker is in die lewe!

Na 'n heerlike lang bad, besluit hy om maar weer regop te kom. Hy skud die water van sy grys vere af. Nou voel hy sommer vars en vrolik vir die res van hierdie dag!



Karel Kransduif kom sit naby aan Kerneels. "Dis 'n lekker dag vandag né Kerneels?" koer hy goedhartig en vriendelik. "Kwêêê! " fluit Kerneels, "dis nes jy daar sêêê! "
Na 'n kort rukkie uit die water en stil sit in die son, lê Kerneels se vere weer alles ewe netjies en op hul plek. Hy sit windmakerig en rondkyk oor die tuin.


Tina Tortelduif land sagveer naby Kerneels neer. "Koerrrr Kerrrrrneels, jy lyk darem maar altevol prrrrragtig vanmôrrrrrrre..." sê sy sag met haar mooi musikale stem. "As jy net nie so lawaaierig was nie, het ek sommer nou dadelik vir jou ogies gemaak!"

Barend Bontrugwewer, Bertus se neef, wat daar naby sit, hoor wat Tina vir Kerneels koer. "Lawaaierig? Nee wat, Kerneels is nie juis lawaaierig nie....het jy al vir Hercules Hadeda gehoor?" vra hy ewe grootmeneer vir Tina. Net toe kyk hulle op en sien daar heelbo in die denneboom sit ou Hercules.


"Haaadeeedaaaa!" roep hy hard uit. "Van al die voëls wat hier by Krugerstraat kom kuier, is my stem die duidelikste," sê hy trots.

So het elkeen van ons ook iets kenmerkends en uniek wat ons maak wie ons is.
Is die lewe nie wonderlik nie?  










03/08/2012

Die verhaal van Hercules Hadeda.

Dit was 'n doodgewone dag. Dit was winter en 'n skraal windjie het om die huis se hoeke gehuil. Hercules Hadeda het rustig deur die tuin gedwaal. Hy was langs die kareeboom op soek na 'n lekker vet erdwurm, sprinkaan of akkedissie om te eet vir ontbyt.


Met sy lang, swarterige, krom snawel waarvan die boonste deel pienk geverf is, was dit maklik om erdwums uit die sagte grond onder die blare uit te lig. Hy het hulle gulsig verorber. Gou was hy versadig.


Dit was lekker om hier tussen die klimopranke in die wintersonnetjie te loop en vroetel.


Skielik het Hercules Hadeda vreeslik alleen begin voel. Hy het grootoog oral om hom heen gekyk, maar niemand in die tuin gewaar met wie hy 'n geselsie kon aanknoop nie.


Hy vlieg toe maar met 'n yslike vlerkgeklap op en gaan sit bo-op die huis se dak en roep hard:
"Haaaa dieeee daaa!" Miskien hoor iemand hom....


Karel Kransduif het sagveer agter Hercules kom sit. "Hoekom raas jy so Hercules?" vra hy rustig en knip-knip sy blink ogies.


"Ek raas, want niemand wil met my gesels nie! Ek dwaal al heeloggend stoksielalleen hier deur die tuin. Waar is julle almal vanoggend of is dit die koue wat julle pla? " vra Hercules opgewonde. Toe kyk hy om......


"Haaaaa! Daar kom darem nog geselskap aangevlieg!" sê Hercules bly.


Dit is Karel se vroutjie Katrina. Saam sit hulle drie op die huis se dak en wonder wat hulle alles vandag gaan doen. Hercules stel voor hulle moet 'n draai oor die dorp gaan vlieg en kyk of hulle nie vir hom ook iewers 'n vrou en 'n maat kan kry nie. Karel en Katrina lyk so gelukkig saam! Hy is sommer jaloers.....

Nog voordat hulle kon wegvlieg, sien aldrie skielik 'n vreemde hadida aan die anderkant van die dak sommer so op haar eie rondtrap. Sy lyk baie eensaam. Hercules besluit om te gaan kennis maak. Dis dalk net die maat na wie hy al hoe lank soek! Nou moet hy net genoeg moed bymekaar skraap. Hoe benader 'n man nou so 'n mooie meisie, wonder hy.


Hy krap sy kop en dink diep.


Skielik wéét hy! Hy maak keel skoon en roep op sy hardste sy oerbekende roep. Sy moet hom hoor, sy sal omkyk en by hom kom aansluit om sy maat te word. Hy hoop so! As sy gaan "Jaaaaa! " sê, lê daar werk voor, want dit sal sy taak wees om vir hulle 'n nes van stokke en gras te maak.  

Hannetjie Hadeda kyk skamerig om. Dis al amper die einde van die winter en tyd om nes te maak en eiers te lê. Sy wil so graag kuikentjies hê.  As sy gelukkig is, behoort sy teen Oktober 'n Mamma Hadeda te wees!



Sy kom staan met haar metaalblink vere baie naby aan Hercules. Hy bewonder die pers en groen kleure in haar vere, haar mooi, kort beentjies en die pienk lipstif op haar snawel.

 


"Dis nou of nooit!" dink Hercules en van pure verbouereerdheid krap hy maar weer aan homself.


Toe vra hy die groot vraag. Hannetjie Hadeda huiwer vir nie een oomblik nie en sê met 'n baie duidelike stem: "Haaaaa dieeeeee daaaa, ek sê jaaaaaaaa! "


Hercules en Hannetjie het  gelukkig saam gelewe en na drie maande was daar vier klein hadedas in hulle nes. Al vier het op 'n veer nes hul ouers gelyk!



Toe hulle groter word het hulle oral rondgevlieg want die wye wêreld was hul woning.


Elizabeth Kendall ©