12/03/2016

Reën maak mense bly!

Lanklaas het ek dié wonderlike geluid van sagte reën dwarsdeur die nag gehoor. Lanklaas. Dis seker daarom dat dit so héérlik was om weer 'n slag daarna te kon lê en luister soos toe ek 'n kind was. Lank en aanhoudend. Seëninge op seëninge. Dankiebly het ek vroegoggend gaan koffie maak, die vars geur van die nat grond en reëndruppels teen die ruite ingeasem. Later het ek gaan kyk, die reënmeter was propvol! My hart het gejuig. Die roostuin het hande geklap, die goudgeel magrietjies het gul geglimlag, die honde het rondgehol en stert geswaai. Die hele wêreld het sommer net mooier en beter gelyk. Dankie Here. U sorg vir ons. Dag nà dag nà dag.



 







23/01/2016

Herlewing

Hy het half-verlate in die tuin gestaan, in die grond geplant naby die voorste heiningmuur. Nie genoeg son gekry nie. Die koue winter was ook nie juis bevorderlik vir vooruitgang en groei nie. Blaarloos, mistroostig en halfdood (so het dit gelyk!) het hy daar gestaan en sukkel. Toe sien ek hom op 'n dag raak en ontferm my oor hom. Ek en ou Jacob verplant die broodboom. In 'n pot met heerlike komposgrond staan hy nou. Ons gee vir hom nuwe huisvesting, 'n plekkie in die son. Ek strooi 'n handvol  beenmeel in die pot. Sommer net vir die wis en die onwis. Dit neem lank voordat daar 'n beduidenis van 'n groenigheidjie te sien is. Op 'n dag is daar 'n vars, nuwe blaartjie! Ek jubel en juig! En toe begin ek foto's neem. Dis wonderlik om boek te hou van sy vordering. Hier is die bewyse: 




 Gister, 22 Januarie 2016, het ek dié foto hierbo geneem. Is die natuur nie net wonderlik nie. Weer eens het ek besef wat liefde en sorg kan doen. Ek sien uit daarna om die groeiproses daagliks dop te hou en te waardeer, die wonder van lewe te ervaar, die nuwe en vars blare aan te raak en ja, om met my eens-versukkelde broodboom heerlike lang gesprekke te voer oor die vreugdes en lewe in die tuin! 

20/01/2016

Vetplante

Die wonderlikste plante onder die son! Nie baie afhanklik van water nie en altyd immergroen en mooi! Mens plant elkeen van hierdie (soms) doringlyfies met liefde in jou hande en as jy weer kyk, het dit sommer in veelvoud aangewas en kleintjies gekry. Ek kan my ook verkyk aan die verskillende teksture en vorms, enige kunstenaar se droom! Die flapjack se blare is 'n sagte blougroen, lyk soos iets wat onder in die see kan groei!  



Hier is 'n mooi voorbeeld van 'n kaktus wat vermeerder het met die jare. Eens was dit net een ronde bolletjie dorings en kyk nou!





Sedum, of soos ek dit maar vir myself noem, "vet vingertjies" is van die maklikste groeiers ooit en vertoon baie mooi in enige tuin.

07/11/2015

Kwikstertjie

Ek sien hom deur die badkamervenster. Salig gelukkig sit hy op die stomp en versorg sy vere. Vir wie maak hy hom so mooi op hierdie warm Saterdagmiddag? Lieflike ou klein voëltjie met jou skerp bekkie, dun beentjies en lang stert, jy kleur my dag so mooi in!



06/11/2015

'n Pakkie in die pos

Om 'n pakkie in die pos te kry, is louter vreugde!! Byna al my kuns en baie van my beter foto's is op my profielblad op RedBubble. Wat baie lekker is van dié blad, is dat 'n mens van tyd tot tyd verskillende produkte daar verkoop aan wie ookal dink jou werk is uitstekend! Dit is elke keer 'n aangename ervaring.

Sodoende gaar mens dan $US bymekaar. En ons almal weet dis meer werd as ons swak Rand. Deur middel van PayPal kan 'n mens enige-iets aanlyn koop soos jou hart begeer en afhangende van hoeveel fondse jy tot jou beskikking het.
Ek besluit toe om van my eie kaartjies te bestel, sommer 'n hele klomp! Die wete dat daar nêrens op aarde nog sulke kaartjies is nie, maak dit 'n hartverblydende aangeleentheid! Groot was my blydskap toe ek dit dus gister in die pos ontvang. Wat gee meer vreugde as 'n unieke en handgeskrewe kaartjie? Ek sien uit om dit aan vriende, vriendinne en familie te stuur! Die drukwerk en gehalte is puik.

18/10/2015

Hulle vra so min en gee so baie!

Ek hou hulle al geruime tyd dop. Die kaktusse wat my soveel plesier gee in ons vetplanttuin. Gister was dit nog net sagte pienk knoppe. Vanoggend vroeg toe ek uitgaan word ek beloon met 'n hele klomp blomme. Ek verwonder my aan hul delikate skoonheid, hul perfekte blare in teenstelling met die dorings waaruit hul blomme voortkom. Dis so maklik om hierdie plante te versorg. Hul vra niks en gee alles! Ek dink nie daar is mooier blomme op aarde as hierdie sagte ligpienkes nie!

So het dit gister gelyk: 




En so lyk dit vanoggend: 











Mag jou dag mooi wees! 

26/09/2015

Erfenisdag

My dag het met 'n duif begin. 'n Tortelduif wat rustig sit en elke oomblik van sy lewe geniet. 'n Tuin en water. Wat meer wil 'n tortel dan nou ook hê? 

Ou Jacob het gesê hy kom werk. Vakansiedae pas nie sy sak nie. Ek was maar te bly. Drie laventels staan en wag om geplant te word en in my agterkop het ek 'n plan gehad vir die kalerige kol onder die voerplankie, reg langs ons slaapkamervenster. 





 Toe alles klaar geplant is en Jacob aandag aan die res van die erf gaan gee, sit ons daar naby en betrag die "nuwe tuin." Skoongespuit en altevol mooi lyk dit. Oudergewoonte hou ek die kamera op my skoot. Net toe vlieg 'n present uit die bloue hemel en kom sit en mooi lyk op die klippe. 



Ek is in ekstase om my geliefde en gunsteling voëltjie so naby te sien. Janfredrik! Hy ondersoek alles. Oranje stert by tye penorent! Groot was my blydskap toe ek nog een tussen die takke van die granaatroos sien. Dit moet die vroutjie wees! 

Hoe bevoorreg is ek nie net om sommer twee van hierdie pragtige geveerde vriende in die tuin te kan hê nie! Iewers moet 'n nessie wees...
My erfenis is vir my mooi!