Showing posts with label groei. Show all posts
Showing posts with label groei. Show all posts

12/03/2016

Reën maak mense bly!

Lanklaas het ek dié wonderlike geluid van sagte reën dwarsdeur die nag gehoor. Lanklaas. Dis seker daarom dat dit so héérlik was om weer 'n slag daarna te kon lê en luister soos toe ek 'n kind was. Lank en aanhoudend. Seëninge op seëninge. Dankiebly het ek vroegoggend gaan koffie maak, die vars geur van die nat grond en reëndruppels teen die ruite ingeasem. Later het ek gaan kyk, die reënmeter was propvol! My hart het gejuig. Die roostuin het hande geklap, die goudgeel magrietjies het gul geglimlag, die honde het rondgehol en stert geswaai. Die hele wêreld het sommer net mooier en beter gelyk. Dankie Here. U sorg vir ons. Dag nà dag nà dag.



 







23/01/2016

Herlewing

Hy het half-verlate in die tuin gestaan, in die grond geplant naby die voorste heiningmuur. Nie genoeg son gekry nie. Die koue winter was ook nie juis bevorderlik vir vooruitgang en groei nie. Blaarloos, mistroostig en halfdood (so het dit gelyk!) het hy daar gestaan en sukkel. Toe sien ek hom op 'n dag raak en ontferm my oor hom. Ek en ou Jacob verplant die broodboom. In 'n pot met heerlike komposgrond staan hy nou. Ons gee vir hom nuwe huisvesting, 'n plekkie in die son. Ek strooi 'n handvol  beenmeel in die pot. Sommer net vir die wis en die onwis. Dit neem lank voordat daar 'n beduidenis van 'n groenigheidjie te sien is. Op 'n dag is daar 'n vars, nuwe blaartjie! Ek jubel en juig! En toe begin ek foto's neem. Dis wonderlik om boek te hou van sy vordering. Hier is die bewyse: 




 Gister, 22 Januarie 2016, het ek dié foto hierbo geneem. Is die natuur nie net wonderlik nie. Weer eens het ek besef wat liefde en sorg kan doen. Ek sien uit daarna om die groeiproses daagliks dop te hou en te waardeer, die wonder van lewe te ervaar, die nuwe en vars blare aan te raak en ja, om met my eens-versukkelde broodboom heerlike lang gesprekke te voer oor die vreugdes en lewe in die tuin! 

25/08/2014

Ons eie groentetuin

Dis nog maar net die begin. Toe die huis agter ons verkoop word in Februarie, besef ek dat die agterste muur tussen die twee huise na regte moet skuif. Dis nou volgens munisipale afmetings. Jare gelede het ek en my sus in dié twee huise so langs mekaar gewoon en 'n deurloop tussen ons gehad, 'n klein hekkie en 'n buite-toilet wat ons bediendes gedeel het. 
Omdat ek daarvan hou dat dinge reg moet wees, laat bou ons 'n splinternuwe muur tussen ons en die nuwe eienaars van De la Reystraat 20. Nou kan ek eendag rustig heengaan en nie bekommerd wees dat my kinders probleme gaan hê met die erf se verdeling nie. 
Skielik is ons erf toe sommer 'n hele stuk groter. Die son skyn te heerlik in die hoek wat bygekom het. Vanjaar maak ek 'n groentetuin, dink ek toe dit nog in die middel van die winter en yskoud was. Ek wou dit nog altyd doen, maar die res van ons erf is baie skaduryk a.g.v. die groot bome. Bome waarvoor ek lief is. Vanselfsprekend sal ek hulle nooit afkap of uithaal nie. 


 Plantjies wat ek gekoop het. 
 Uie.
 Beet.
 Spinasie.
Kool. 
Laas week gaan koop ek by Voetpad Kwekery 'n paar groenteplantjies. En voel 'n opgewondenheid in my vingers kriewel. Toe Jacob Maandag kom, beduie ek hom mooi hoe om te maak.  


Nou moet die goeie son en reën en die baie liefde en sorg in ons hande net die ding doen! Die beddings het kompos gekry, boomwortels is uitgehaal, paadjies tussen-in is gemaak. Volgende week gaan ons boontjies, tamaties en aartappels ook nog plant. En wortelsaad saai. Daar is genoeg plek. Teen die agterste muur het ons peppadewsaad gesaai. Vanjaar sal ek versigtiger wees as ek dit oopsny om 'n sousie te maak. Laas jaar het my hande erg gebrand. 

Daar is niks so goed vir 'n mens se siel as om in die grond rond te vroetel nie. Om dan boonop beloon te word met gesonde, helende groente uit jou eie tuin, kan net 'n vreugde wees. (word vervolg)
Ns. Ons sal sien of dit nodig gaan wees om 'n heining om die tuin te sit wat die honde gaan keer. Miskien gedra hulle hulself mooi. 'n Skadunet is ook 'n oorweging, maar ek onthou my Pa se lieflike groentetuine het nooit skadunet gehad nie en daar was oorgenoeg om van te kies.