Showing posts with label tuinmaak. Show all posts
Showing posts with label tuinmaak. Show all posts

23/01/2016

Herlewing

Hy het half-verlate in die tuin gestaan, in die grond geplant naby die voorste heiningmuur. Nie genoeg son gekry nie. Die koue winter was ook nie juis bevorderlik vir vooruitgang en groei nie. Blaarloos, mistroostig en halfdood (so het dit gelyk!) het hy daar gestaan en sukkel. Toe sien ek hom op 'n dag raak en ontferm my oor hom. Ek en ou Jacob verplant die broodboom. In 'n pot met heerlike komposgrond staan hy nou. Ons gee vir hom nuwe huisvesting, 'n plekkie in die son. Ek strooi 'n handvol  beenmeel in die pot. Sommer net vir die wis en die onwis. Dit neem lank voordat daar 'n beduidenis van 'n groenigheidjie te sien is. Op 'n dag is daar 'n vars, nuwe blaartjie! Ek jubel en juig! En toe begin ek foto's neem. Dis wonderlik om boek te hou van sy vordering. Hier is die bewyse: 




 Gister, 22 Januarie 2016, het ek dié foto hierbo geneem. Is die natuur nie net wonderlik nie. Weer eens het ek besef wat liefde en sorg kan doen. Ek sien uit daarna om die groeiproses daagliks dop te hou en te waardeer, die wonder van lewe te ervaar, die nuwe en vars blare aan te raak en ja, om met my eens-versukkelde broodboom heerlike lang gesprekke te voer oor die vreugdes en lewe in die tuin! 

26/09/2015

Erfenisdag

My dag het met 'n duif begin. 'n Tortelduif wat rustig sit en elke oomblik van sy lewe geniet. 'n Tuin en water. Wat meer wil 'n tortel dan nou ook hê? 

Ou Jacob het gesê hy kom werk. Vakansiedae pas nie sy sak nie. Ek was maar te bly. Drie laventels staan en wag om geplant te word en in my agterkop het ek 'n plan gehad vir die kalerige kol onder die voerplankie, reg langs ons slaapkamervenster. 





 Toe alles klaar geplant is en Jacob aandag aan die res van die erf gaan gee, sit ons daar naby en betrag die "nuwe tuin." Skoongespuit en altevol mooi lyk dit. Oudergewoonte hou ek die kamera op my skoot. Net toe vlieg 'n present uit die bloue hemel en kom sit en mooi lyk op die klippe. 



Ek is in ekstase om my geliefde en gunsteling voëltjie so naby te sien. Janfredrik! Hy ondersoek alles. Oranje stert by tye penorent! Groot was my blydskap toe ek nog een tussen die takke van die granaatroos sien. Dit moet die vroutjie wees! 

Hoe bevoorreg is ek nie net om sommer twee van hierdie pragtige geveerde vriende in die tuin te kan hê nie! Iewers moet 'n nessie wees...
My erfenis is vir my mooi! 

21/11/2014

As iets groei !

Anderdag kuier 'n vriendin by my en vertel dat haar man "onsteld" was omdat 'n mielie tussen die blomme in die voortuin opgekom het. Hy wou dit uitpluk! Sy was so bly dat dit GROEI.

Nouja, ek is ook so bly as iets groei. Kom kyk gou hoe het my groentetuin gevorder sedert ek laas hier geblog het, man, dis mos lekker om LEWE te sien waar daar eens net niks was nie. En hier by my groei daar ook 'n mielie tussen die rose en 'n tamatie tussen die vetplante. Want groei is mooi en groei is goed.

                                  Wortels, basiliekruid (pers) en spinasie.

 Uie, beet, spinasie, basiliekruid. Ek het verneem dat lg. die goggas weghou van spinasieblare. Algaande leert men! 

 Wilde knoffel langs die kante keer ook insekte.

 Wortels! Kan nie wag om dit uit die aarde te trek as dit groot genoeg is nie. 

 Wat is 'n ete sonder tamaties? As mens tamaties het, het jy mos KOS! 

 Hier groei Afrikaners, dit begin al knoppies maak en sal seker een van die dae blom. Regs is peppadews. 

 Gesonde peppadews op pad na nuwe hoogtes! 

 Pietersielie maak enige slaai heerlik, fyn stukkies bo-op gestrooi laat 'n vleisgereg net smaakliker lyk!

 Son en reën en liefde laat tamaties groei! 

 Ons honde is al slim en loop nie sommer in die beddings nie! Ou Jacob se boontjies begin lustig teen die krom stokke oprank. 

'n Eksperiment! Eiervrug. Ek verneem mens kan heerlike geregte hiervan maak en dis boonop baie gesond! 
Tot volgende keer.... lekker tuinmaak! 

05/09/2014

Daar is vordering

Dit het intussen lente geword. Heerlik, heerlik, heerlik verby. Gisteroggend vroeg het ou Jacob al die beddings voorberei, kompos ingewerk en gespit. Iewers het ek gehoor dat soos die maan groei, voor volmaan, plant jy alles wat bo die grond dra, soos die maan daal nà volmaan, plant jy alles wat onder die grond dra en met donkermaan rus jy 'n bietjie!
En dit is hoe die maan op die oomblik lyk vanwaar ek onder die karee staan en opkyk hemel toe teen laatmiddag se kant.




As jy my bly wil maak, laat my in die grond vroetel. Sielsaliglik bly is ek daar buite in die natuur. Ek het verskeie soorte saad gekoop by die Koöperasie. 'n Opgewondenheid lê in my binneste. 


Dink net: vars, gesonde wortels en beet uit die grond uit....ek ruik dit al!
"Ons gaan hierdie jaar lekker eet!" lag Rose toe ek in die kombuis 'n draai maak van buite af. 





Ons hoop so! Ons hoop die goeie son en vrugbare aarde en eerste lentereëns werk alles saam om hierdie, nou-nog-kaal tuin in 'n lushof te verander. Ek kan nie wag nie! Ou Jacob maak ewe ywerig solank 'n stuk grond al langs die heining gereed vir die aartappelmoere wat nog moet kom. Hy voel seker my entoesiasme aan. Positiewe gedagtes is mos aansteeklik!  (word vervolg) 

28/04/2014

My rose en ek

Vir jare sonder tal staan my wit icebergs al langs die paadjie hekkie toe. Tevrede. Tot onlangs. Skielik begin die blare vreeslik erg roes kry en val sommer af. Kaal, dun takkies gryp-gryp in die herfslug rond. Soekend. 
 

Voor ons huis staan 'n yslike groot akkerboom. Iewers vandaan val swart stof oor my rose se blare, taaierig. Ek wonder of dit die akkerboom is wat 'n siekte het. Of is dit net dié tyd van die jaar dat so-iets gebeur? Ek kan onthou dit het verlede jaar ook gebeur, maar voor ek kon bekommerd raak, was dit weg. Ek weet steeds nie wat dit is nie, maar kry my roosbome jammer. Die ander bome in die omtrek het ook almal groter geword en veroorsaak dat daar min son bedags op die rytjie roosbome val. En net daar neem ek 'n besluit. Hulle moet uit! Son toe. 


Dis Maandag, die hele wêreld en sy maat hou vakansie, maar my getroue ou Jacob het besluit hy gaan kom werk. Ek is so bly, want dis 'n fees om buite te wees!  Ons verplant een na die ander, maak plek tussen die reeds bestaande rose in die bedding naby die fontein. Heeldag skyn die son heerlik warm daar. Nie eers een van die roosbome wat daar groei, het 'n roeserige blaar aan nie. Dit moet net werk.  Ons maak die gate vooraf vol water, haal die bome versigtig en met moeite uit en plant hulle onmiddellik oor in die nuwe omgewing. Dit lyk sommer mooi! 

Nou het ek wit, pienk en wynrooi, oranje en bloedrooi rose, almal deurmekaar en bymekaar.  En langs die paadjie na die voorhekkie, lyk die wilde knoffel heel gesellig. Miskien maak ek later 'n ander plan daar, dis mos hoekom tuinmaak so lekker is, dis heeltyd speeltyd!