27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.) 

12/02/2015

Ons ou huis

 
Die huis waarin ons woon is oud. My Pa het die huis by sy niggie gekoop toe ek in St. 4 was. Dit was ses-en-vyftig jaar gelede. Ek dink hy het een duisend pond daarvoor betaal, wat toe baie geld was.

Ons het al sedertdien so baie dinge in en om die huis verander. Een van die grootste en beste veranderinge was om al die matte uit te haal, die plankvloere te skuur en te behandel. Dit gee karakter en dit lyk baie mooi, ook baie makliker om skoon te hou.

Die tuin het oor die jare ook baie verander. Die bome het yslik groot geword. Een ding wat dieselfde gebly het, was die sementpaadjie reg voor een van die voorste kamers. Toe ek anderdag daar staan, gaan my oë skielik wawyd oop! Dié paadjie lyk droewig om die minste te sê.

Toe Jacob vanoggend inklok, kom my plan in werking. Ons "steel" oral in die tuin plaveistene en klippe en pak dit bo-op die oeroue sement. Plek-plek los ons dit oop, sodat ons nooit sal vergeet waar alles vandaan kom en begin het nie. 


Nou lyk dit sommer heel anders, nuut en skoon. 'n Mens het nie altyd geld nodig om iets mooi te maak nie. Die heerlike gevoel van werksbevrediging kom lê in my binneste. Ou Jacob lyk ook heel in sy skik. Ten spyte van die hitte vandag, het ons twee iets reggekry. 

08/02/2015

Kosbare tye

Saamweestye met kleinkinders is kosbaar. Gister was so 'n dag. Ons oudste kleinkind het by ons gekuier terwyl Pa en Ma hul twaalfde huweliksherdenking gaan vier het. Boetie Josh het by 'n maat op 'n plaas gaan kuier, daar is mos baie meer lekker seunsdinge om te doen. 
Ek en Amy het die koelte van die grasdakrondawel opgesoek en heerlik gaan sit en teken en verf. So lekker rustig. Gesels-gesels. Sy het vir Ouma van haar skool vertel en dat sy nog nie heeltemal weet wat sy eendag wil doen nie. "Iets kreatiefs Ouma!" Ja, hoe dan anders? Kunstig en kreatief is mos deel van haar menswees. 
Nà 'n uur of twee wys sy trots haar pragtige pastel- en wateroplosbare potloodtekening. "O, dis mooi! " sê ek. "Gaan wys vir Oupa!" Oupa dink ook dis pragtig. 

Op die spensrak staan al baie meer as net "ten green bottles". Pruimedantsap wat Oupa drink vir gesondheidsredes en Ouma kry nie dié mooi, klein botteltjies weggegooi nie. "Ek wil nog iets daarmee doen, " sê ek vir Amy. "Kom ons hang dit aan die boom op!" Ons bind 'n toutjie om 'n paar van die bottels en hang dit so saam-saam op. Toe ek vanoggend my draai in die tuin loop, vang die mooi lig- en skadukleure in die bottels my oog. Verwonderd staan ek en dink hoe sulke klein dingetjies 'n mens kan vreugde gee. En ek weet, ek sal elke keer aan my liefste kleinkind dink as ek na my swaaiende, groen bottels kyk wat aan ons appelkoosboom hang.

Daar is so baie troos in 'n tuin, so baie vrede en omgee. My oggende in die tuin het lewensnoodsaaklik geword. Dis meer as net batterye-laaityd. Dis dinktyd. Dis bidtyd. Dis kosbaar.
Kyk hoe spat die saad soos geelvink sy ontbyt geniet !


 Wit Icebergrose blom in die son. 

 'n Pienke voltooi die prentjie. 
  
Uiteindelik blom die miniatuur "bottlebrush" wat ek een jaar by Maureen present gekry het.  So, so mooi! 

My groentetuin was toe nie so 'n reuse sukses soos ek gehoop het dit gaan wees nie, maar daar is darem heelwat tamaties op pad na die tafel. Iets het ek toe tog wel iewers reg gedoen.