24/08/2015

Maandag

Maandag was mooi. So skryf ek my woorde langs die foto waar die son agter die perskeboom sy lêplek loop soek. Kom lees dit op Verse en vrolikhede, my facebookblad vol woorde. As jy wil. Toe ek die foto geneem het, het ek nie geweet daar gaan woorde gebore word wat daarmee saam hand-aan-hand sal wil loop nie. Nietemin. Maandag was toe mooi. Kyk maar self: 

 Die eerste boslelies begin blom! 
 Woestynrosies (echeverias) en miniatuur gesiggies.

 Verskillende teksture en kleure

 'n Vet stroompie
 Vlasplant en botterblomme voor by sy voete. 
 Kuierplek van die geveerdes. 
 Badtyd en droogwordtyd. 
 Weerkaatsing van die akkerboomtakke in die voëls se drinkbak. 
 Anderdag mooi gemaak. 
 Die dans van die geelvink! 

 Pikswart inkvingers van die akkerboom. 
 Alles is nie maanskyn en rose nie! 
 Klaar gebou. Gereed vir intrek. 

 My blomstruik sonder naam. 
 Kannas kom huis toe, was aan die buitekant van die erf, verplant vandag tot hier waar die tenk oorloop. 
 Koebaai Maandag! 

21/08/2015

Nuwe lewe

Gister was so 'n lekker dag! Louwarm. Die ergste koue van die winter het die wyk geneem en die dae begin heerlik raak. Al dra mens nog 'n mou. Al knyp 'n koeligheidjie om jou enkels teen skemer. Die eerste tekens van lente is hier en dis net wonderlik!

 
Aalwyne blom en lok suikerbekkies. Lieflik om te sien hoe hulle en die bye aan die oranje blommetjies "hang".


Agter in die hoek van ons erf begin die moerbeiboom sy vars, splinternuwe liggroen blaartjies uitstoot. 'n Wonderwerk, jaar nà jaar. Verseker.


Camelia japonica in die voortuin, vanjaar 'n lus vir die oog. Gesonde blomme en blare.


Ponytail, net gister uitgeplant in die grond. Sê tog dit lyk mooi? Wat is lekkerder as tuinmaak?
Nuutmaak, mooi maak.
 
 Dit lyk nog kaal daar buite, maar een van die dae sal groen blare weer oral te siene wees.

 
 Die geelvinke het alreeds begin nesbou. Grasgroen hang dié nessie aan die dunste takkie van die groot kareeboom.
 
 
"Sticks of fire" in die laatmiddagson. Dié somer gaan jy sterk word en seker baie groter groei!


Die grasperk is nog vaal, maar die camellia se donkerpienk blomme maak al klaar ons harte bly.
 
En kyk hoe mooi is die jasmyn, so fyn en vrolik. Ruik jy dit?
Mag dié nuwe seisoen vir jou wat hier lees, net mooi dinge inhou. Maak tyd vir stilstaan en buite toe gaan.
Maak tyd om te bewonder en verwonderd te wees.

24/07/2015

Brakkies, ons hondekind.

Niemand op hierdie aardbol lyk so beteuterd soos  Brakkies as ek gou iewers heen moet ry nie. Hy staan verlore op die plaveisel agter die hek, sy kort beentjies en bal-en-kloupootjies plat op die aarde. "Waar gaan jy nou weer heen?" vra die hele ou worshondlyfie. Dan vermurwe my hart stuk-stuk, knyp ek oë toe en trap die petrolpedaal diep in om die wegryery so gou moontlik agter die rug te kry.
Vir hom is dit die heel lekkerste as sy Ma by die huis is en hy op sy blou kombers sy eie hondedrome kan lê en droom, deeglik bewus van my nabyheid. Of saans as dit storietyd op T.V. is, langs my in te wriemel en heerlik warm onder die kniekombers aan die slaap te raak.


Hy het die kuns om in menseharte in te kruip, pens en pootjies bemeester. Soggens nà wakkerwordtyd, groet hy ons stertswaaiend, ogies blink en die ene opgewondenheid oor ‘n nuwe dag wat voorlê.
Op Maandae en Donderdae as Jacob in die tuin kom werk, loop sy beker behoorlik oor. Sodra hy die tuinhekkie hoor, hol hy in eerste rat by die agterdeur uit, jubelende blaffies so ver as hy gaan. Dan vryf ou Jacob hom en sê: “Jaaaa Brakkies, jy het mooi gably?” Met wikkelboudjies en blink oë antwoord hy Jacob se vraag.
Getrou volg hy my deur die dag.  Soos Rut-van-die Bybel.  “Waar u gaan, sal ek gaan.” Vroetel ek iewers in die tuin, jag hy veldmuise of lê en bak in die winterson op die grasperk. Maak ek kos, speel hy binne hoorafstand, buite by die agterdeur, met Hagar, sy ou groot Labradormaat. Sit ek by die rekenaar, krul hy homself op op sy kussing en kruip hy onder sy blou kombers in, ‘n prentjie van geluksaligheid.






Brakkies is nou twee en ‘n halwe jaar deel van ons lewens. Ons kan ons nie ‘n dag sonder hom indink nie. 


16/04/2015

Foto-insetsel nr. 2



"Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied." Só het laas keer se foto-insetsel geeïndig. My psalms en lofliedere het gelukkig nie ook opgedroog nie, dit sal hopelik nooit. 

Elke seisoen het mos sy eie mooi. Herfs is verruklik. Verruklik is baie mooier as "awesome"! Regtig. Ek weet. Elke nuwe dag het sy eie, warm en besondere kleure. “ Ek loop verkyk my daaraan!” sal die Kapenaars sê.  En dit gebeur dikwels  dat die kleur van elke dag 'n trooskombers is.  Ons kan onsself daarin toevou. Dankie tog dat ons kan sien, kan ruik, kan proe, sommer net kan wees.

Dankie dat ons te midde van probleme en swaarkry nog kamera-in-die-hand kan rondloop en elke pasella wat direk uit die hemel kom, kan vaslê, kan deel.  Foto’s vertel mos stories. Foto’s laat mens onthou. Foto’s laat mens dink. Foto’s neem bly ‘n heerlike avontuur! Geniet dit, geniet jou dag! 

 Streptocarpus blom steeds in die agterplaas. 
 Grassade
Sonlig deur kareeblare. 

01/04/2015

'n Foto-insetsel nr. 1

Van ek kan onthou, was ‘n kamera iets wat groot bekoring vir my ingehou het. Toe ek toentertyd in St. 6 my eie Kodak Brownie met spaargeld kon koop, was ek die rykste kind in die hele wêreld. Vandag besit ek ‘n Canon PowerShot SX40 HS. Dis sy doopnaam. Niks ingewikkeld nie, net wonderlik. Voldoende. Uiters bevredigend. Ek neem foto’s vir een enkele rede: omdat dit vir my lekker is. Ek neem foto’s om te onthou, om weer te kan kyk, weer te geniet, oor en oor. Fotografie hou oomblikke vas vir ewig. Om foto’s te kan neem, kleur my elkedag-lewe so mooi in. Dis ‘n manier van aanraak, ‘n manier van liefhê. Ek neem foto’s van amper alles, miskien meer van die natuur. Net miskien. Klippe en bome en voëls, wolke en blare en blomme. Skadu’s en lig, silhoëtte, stukkies detail. Die wêreld is ‘n ontdekkingsreis en die wêreld agter ‘n kameralens is ‘n psalm, ‘n loflied.

28/03/2015

Voëltjievoerders en geveerdes

Voëls in 'n tuin is en bly 'n vreugde! Hier is my nuutste voëltjievoerder: 'n plat plank met randjies sodat die saad nie maklik afval nie, stewige tou en siedaar! Dit hang aan die granaatroos se tak reg langs ons slaapkamervenster. Terapie op sy beste! Ons geveerde vriende moet nou net eers gewoond raak daaraan, dan kan die feesmaal begin! 



23/03/2015

Kuns in die natuur

Oral is daar kuns: vorms, teksture, kleure. Skoonheid. Kyk net en waardeer dit wat jy sien, elke dag. 

20/03/2015

Groentetuin word kruietuin

Om 'n groentetuin te kan hê, bly steeds 'n uitdaging. Die rede: nie heeltemal genoeg son in my tuin met die baie groot bome nie.  Tog lyk dié heldergeel sonneblom doodgelukkig en maak dit my groen hart baie bly. Uitbundig geel nes 'n son wat uit die grond ontspring het. 

Dit is 'n soort basiliekruid (basil). Ek weet daar is baie verskillende soorte, geure en kleure. Die woord "basil" kom van die Griekse woord wat "koning" beteken. Dit proe glo heerlik in sop en kan ook in slaai en ander kosse gebruik word. Onlangs lees ek dat dit baie goed kombineer met rose. Maandag as ou Jacob kom, sal ons plan maak en dit na 'n plek met meer son toe skuif.  
My heel eerste eiervrug! Maak my amper so bly soos die geboorte van 'n nuwe kleinkind. Darem nie heeltemal SO bly nie. Amper. Ek het nog nooit iets met eiervrug aanmekaar geslaan nie, sal moet resepte soek. Die eerste ding wat jy moet weet van eiervrugte is dat hulle baie gevoelig is vir koue. Ek dink ons seisoene is op die oomblik effens deurmekaar, want dis al herfs en nou is die eiervrug eers aan't ryp word. Die plante word baie maklik deur ryp beskadig. Ses plante is genoeg wees om een gesin van eiervrugte te voorsien. Die plante moet in baie vrugbare grond geplant word.




Gisteraand se 25mm. reën was net wat hierdie groen rissies nodig gehad het! 

Kyk wat kry ek present! 'n Vlu-vriendin vir wie ek 'n handvol peppadews gegee het, roep vanoggend by my hek. Sy hou dié botteltjie heerlikheid in haar omgee-hande vas. Is dit nie wonderlik nie? 

En aan die plante hang nog heelwat kaboutermussies.