03/08/2012

Die verhaal van Hercules Hadeda.

Dit was 'n doodgewone dag. Dit was winter en 'n skraal windjie het om die huis se hoeke gehuil. Hercules Hadeda het rustig deur die tuin gedwaal. Hy was langs die kareeboom op soek na 'n lekker vet erdwurm, sprinkaan of akkedissie om te eet vir ontbyt.


Met sy lang, swarterige, krom snawel waarvan die boonste deel pienk geverf is, was dit maklik om erdwums uit die sagte grond onder die blare uit te lig. Hy het hulle gulsig verorber. Gou was hy versadig.


Dit was lekker om hier tussen die klimopranke in die wintersonnetjie te loop en vroetel.


Skielik het Hercules Hadeda vreeslik alleen begin voel. Hy het grootoog oral om hom heen gekyk, maar niemand in die tuin gewaar met wie hy 'n geselsie kon aanknoop nie.


Hy vlieg toe maar met 'n yslike vlerkgeklap op en gaan sit bo-op die huis se dak en roep hard:
"Haaaa dieeee daaa!" Miskien hoor iemand hom....


Karel Kransduif het sagveer agter Hercules kom sit. "Hoekom raas jy so Hercules?" vra hy rustig en knip-knip sy blink ogies.


"Ek raas, want niemand wil met my gesels nie! Ek dwaal al heeloggend stoksielalleen hier deur die tuin. Waar is julle almal vanoggend of is dit die koue wat julle pla? " vra Hercules opgewonde. Toe kyk hy om......


"Haaaaa! Daar kom darem nog geselskap aangevlieg!" sê Hercules bly.


Dit is Karel se vroutjie Katrina. Saam sit hulle drie op die huis se dak en wonder wat hulle alles vandag gaan doen. Hercules stel voor hulle moet 'n draai oor die dorp gaan vlieg en kyk of hulle nie vir hom ook iewers 'n vrou en 'n maat kan kry nie. Karel en Katrina lyk so gelukkig saam! Hy is sommer jaloers.....

Nog voordat hulle kon wegvlieg, sien aldrie skielik 'n vreemde hadida aan die anderkant van die dak sommer so op haar eie rondtrap. Sy lyk baie eensaam. Hercules besluit om te gaan kennis maak. Dis dalk net die maat na wie hy al hoe lank soek! Nou moet hy net genoeg moed bymekaar skraap. Hoe benader 'n man nou so 'n mooie meisie, wonder hy.


Hy krap sy kop en dink diep.


Skielik wéét hy! Hy maak keel skoon en roep op sy hardste sy oerbekende roep. Sy moet hom hoor, sy sal omkyk en by hom kom aansluit om sy maat te word. Hy hoop so! As sy gaan "Jaaaaa! " sê, lê daar werk voor, want dit sal sy taak wees om vir hulle 'n nes van stokke en gras te maak.  

Hannetjie Hadeda kyk skamerig om. Dis al amper die einde van die winter en tyd om nes te maak en eiers te lê. Sy wil so graag kuikentjies hê.  As sy gelukkig is, behoort sy teen Oktober 'n Mamma Hadeda te wees!



Sy kom staan met haar metaalblink vere baie naby aan Hercules. Hy bewonder die pers en groen kleure in haar vere, haar mooi, kort beentjies en die pienk lipstif op haar snawel.

 


"Dis nou of nooit!" dink Hercules en van pure verbouereerdheid krap hy maar weer aan homself.


Toe vra hy die groot vraag. Hannetjie Hadeda huiwer vir nie een oomblik nie en sê met 'n baie duidelike stem: "Haaaaa dieeeeee daaaa, ek sê jaaaaaaaa! "


Hercules en Hannetjie het  gelukkig saam gelewe en na drie maande was daar vier klein hadedas in hulle nes. Al vier het op 'n veer nes hul ouers gelyk!



Toe hulle groter word het hulle oral rondgevlieg want die wye wêreld was hul woning.


Elizabeth Kendall ©




26/07/2012

Geveerde vriende

Dis altyd so lekker om hulle dop te hou: duiwe, mossies, muisvoëls...hulle almal geniet die waterbak in die tuin. Die muisvoëls is taamlik baasspelerig en verjaag die glasogies of mossies as hulle ook 'n proeseltjie lemoen wil kom vat.


Muisvoëls is egter in talle opsigte enig in hul soort. Hul pote is baie veelsydig, met omswaaibare buitenste tone, sodat hulle met gemak op takke kan sit, onderstebo kan hang, teen boomstamme op en oor takke kan klouter, en op die grond kan loop. Hul vere wat meeste van die liggaam bedek, het kort penne met lang, sagte uitgroeisels, wat aan hulle 'n sagte tekstuur en pelsagtige voorkoms gee (dit lyk amper soos 'n muis se hare!) Die snawel, swart bo en wit onder,  is kort en stewig, met 'n geslote verhemelte, anders as dié van hul naaste verwante, en die kop het 'n kuif.

Kyk hoe lekker vreet hulle aan die lemoen, nes twee honger koshuisbrakkies wat Ma se koekblik oor 'n naweek nadertrek!



Muisvoëls is, ten spyte van hul vaal vere, baie opsigtelik vanweë hul kenmerkende gedrag. Hulle lyk soos muise waar hulle in bome rondkruip. Muisvoëls lê hul eiers in neste van takkies. 

Jy kan meer lees oor muisvoëls op hierdie blad: Muisvoëls 


Rustig sit die ou mossietjie en wag op die stomp, hy weet sy beurt sal netnou kom!


Tortelduif het sopas 'n heerlike paar slukkies water gedrink. Haar stertvere hang sommer nog in die bad.
Kom lees hier meer oor dié pragtige tortelduif


en sy groter maatjie, die kransduif

Beide van hulle is permanente inwoners hier by ons huis. Hulle gee kleur en klank aan ons lewe met hul "koer-koer" roep wat heeldag soos agtergrondmusiek in ons ore klink.





08/07/2012

Winter

My tone tien is ys-verkluim
so ook my vingers en my duim
ek dra my wolpantoffels nou:
dit sal die koue buite hou!

My serp is warm om my nek
my hande ook met wol bedek
Ek blaas 'n asem yskoud-stoom
terwyl ek oor die somer droom!


Elizabeth Kendall ©

Sondagmôre

Die oggendson
skyn deur my venster
en gooi 'n ligstreep
op my kas.
My kat spring op die vensterbank
en groei mooi in die prentjie vas!

27/06/2012

Wie weet waar Martie en Martin kuier?


Martie Muisvoël is vanoggend baie bly. Sy het sopas 'n wonderlike ontdekking gedoen. Tussen die kaal takke van haar geliefkoosde kuierboom naby die waterbak, lê daar 'n sappige stukkie appel en wag. Hoe heerlik! Sy is juis so honger. Gedurende die koue winter is kos maar skaars. Sy wil net begin kou aan die appel, toe gewaar sy uit die hoek van haar oog 'n grysvaal MUIS. Sy vlieg vinnig weg en gaan sit hartseer op 'n tak nie te ver van die appel af nie. Wat gaan nou gebeur?


Martin Muis laat nie op hom wag nie. Sy lang stertjie krul teen die droë takke af. Hy klou met sy klein pootjies styf vas aan die stuk saligheid wat hier voor hom lê.
"Knibbel, knibbel, knibbel, knibbel!" werk sy klein tandjies om die stukkies appel lekker fyn te kou.


"Is dit nou tog nie te heerlik nie! " fluister hy ingenome met homself. Dié winter is baie koud en kos is maar skaars.


Karel Kransduif en Letitia Lagduif sit en loer van die waterbak se kant af.
"Martin, skaam jou! Jy dink net aan jouself! Gaan jy nou die hele appel alleen opeet?" vra Karel met sy kwaai stem vir Martin Muis.


"Ag Karel, jy het nie 'n idee hoe vreeslik honger ek is nie!" sê Martin met 'n hartseer stemmetjie.
Van iewers vandaan hoor hy Martie se sagte gefluit. Hy besluit om maar grootharig te wees soos dit 'n goeie muis betaam. Martin wip ewe vriendelik weg van die sappige appel sodat Martie tog nou maar ook weer 'n happie kan vat.


"Ooo, dankie, dankie Martin, jy het die mooiste maniere! 'n Man wat vir 'n dame ook 'n kans gee om iets lekkers te geniet, is 'n man so na my hart. Ek weet dis seker maar omdat ons dalkies verlangs familie van mekaar is, né! " sê Martie so tussen die happies appel deur.


"Nou sien ek sommer kans vir hierdie wintersdag! " fluit Martie Muisvoël toe sy op die stomp gaan sit. Haar hartjie voel bly en gelukkig.  Toe Martin Muis sien Martie is nou meer as tevrede, gaan vat hy gou nog één laaste hap....net vir die lekker!


Foto's  en storie: Elizabeth Kendall ©


 




20/06/2012

'n Duiwestorietjie vir dogtertjies en seuntjies van alle ouderdomme.


Smiddae so skuins na drie is dit kuiertyd by die waterbak in die voortuin. Karel Kransduif, Katrina, sy vrou en Letitia Lagduif sit aldrie ewe gesellig en bad. Hulle vat kort-kort 'n slukkie yskoue water en sit vreedsaam en wonder oor die winter.


"Weet jy wat?" koer Karel.
"Nee, verrrtel myyyy? " antwoord Katrina.
"Ek geniet nogal dié tuinkombuis hier by Krugerstraat!" koer Karel.
"Ek oook, ek ooook!" roep Letitia Lagduif doer van agter af en sluk ewe fyntjies aan die koue water.
 "Hier is altyd water en baie maal iets om aan te pik!"

"Jy sal my nou moet verskoon, Letitia! " koer Katrina, "Karel is reeds weg, hy is seker al op die stoepdak waar ons nes is...koekoerrrdoek, koekoeerdoek!"
En weg vlieg Katrina....


Letitia Lagduif sit alleen en droom, sy moet ook maar aanstaltes begin maak om by haar stokkiesnes in die eikeboom uit te kom. Daar lê twee spierwit eiertjies en wag om uitgebroei te word. Dis so heerlik vreedsaam hier in die tuin. Net die regte plek vir 'n vredesduifie soos sy!


"Koekoerrdoek!"



17/06/2012

Dis mos nou lekker!

Van l.n.r.: Isabella, Reuben, Joshua en Amy. Hier het hulle "skool gespeel" en die outydse skoolbank in die voorportaal is mos ideaal vir dié doel!

As my kleinmense kom kuier, dan maak ons tyd vir verf! En hulle wéét al! Skaars geland, dan sal Reuben vra: "Ouma, wanneer gaan ons ve..e..e..rf ?"
Ek geniet dit vreeslik om hulle dop te hou terwyl hulle besig is. Soms knip en plak ons, ander kere "skilder" ons, partymaal mors ons, baie kere gesels ons meer as wat ons enige-iets anders doen....maar in elke kuiertjie van kleinkinders hier by Krugerstraat is daar 'n gróót stuk genot van iets lekkers saamdoen.

'n Trein! Altyd 'n trein....dan is Reuben in die sewende hemel!


Joshua se mooiste bome
"Tjoeke tjoeke paf !" ry Reuben se trein oor vlaktes wit papier!
En partymaal droom ons drome en wens ons wense!
'n Lekker vet skapie! Isabella s'n!
Amy se boomskildery.....almal kan sien sy het dit so baie geniet!

Baie maal sit ons net sommer in die tuin en gesels of luister na die voëltjies....of speel wegkruipertjie!


Hagar, Oupa en Ouma se swart Labrador, is natuurlik altyd deel van die spelery! Kyk hoe lekker oopbek lag hy!