Ek was al lankal lus vir 'n
kleinerige hondjie in die huis. Een om te vertroetel. Hagar is wonderlik, maar
hy is groot en sterk en die waghond. En Hagar bly buite. Dis anders.
En toe kry ek een! 'n
Worshondjie, opreg en agt weke oud met 'n sagte bruin velletjie en die mooiste
ou ogies op aarde. Ek doop hom Tjoklit.
Dit reën en
reën buite en ek maak vir hom 'n bedjie in 'n kartonboks, draai hom toe in my
bruin winterserp. Siestog, hy is so klein. Isabella kuier by Ouma dié naweek en
ons twee geniet die nuwe klein inwoner so !
Toe die son
vir die eerste maal na 'n lang tyd weer skyn, gaan speel ons bietjie buite!
Is dit nie
salig nie...die plaveisel is heerlik warm en die herfsblare warrel rond...hy strek sy klein lyfie heerlik uit en geniet elke sonstraal terdeë.
Hagar hou
alles fyn dop, die liefde en geduld vanself. Ook hy geniet die louwarm
sonstrale van hierdie laatherfsdag.
Maandagoggend
ry ek om 'n ordentlike bedjie en kombers vir my Tjoklit te gaan koop. By die
Koöperasie kry ek die perfekte een. Hy ry natuurlik saam... hoe dan nou anders?
By die Troeteldierwinkel koop ek vir hom 'n rooi-en-blou truitjie, die kleinste
een wat daar is. Sy ou velletjie is so dun en die winter lê voor. Hy lyk te
oulik daarmee!
Ns. Ek het hierdie blog-inskrywing gedoen voordat die ongeluk gebeur het. Lees op Speel-Speel:
Ek sal hom nooit vergeet nie.