20/03/2015

Groentetuin word kruietuin

Om 'n groentetuin te kan hê, bly steeds 'n uitdaging. Die rede: nie heeltemal genoeg son in my tuin met die baie groot bome nie.  Tog lyk dié heldergeel sonneblom doodgelukkig en maak dit my groen hart baie bly. Uitbundig geel nes 'n son wat uit die grond ontspring het. 

Dit is 'n soort basiliekruid (basil). Ek weet daar is baie verskillende soorte, geure en kleure. Die woord "basil" kom van die Griekse woord wat "koning" beteken. Dit proe glo heerlik in sop en kan ook in slaai en ander kosse gebruik word. Onlangs lees ek dat dit baie goed kombineer met rose. Maandag as ou Jacob kom, sal ons plan maak en dit na 'n plek met meer son toe skuif.  
My heel eerste eiervrug! Maak my amper so bly soos die geboorte van 'n nuwe kleinkind. Darem nie heeltemal SO bly nie. Amper. Ek het nog nooit iets met eiervrug aanmekaar geslaan nie, sal moet resepte soek. Die eerste ding wat jy moet weet van eiervrugte is dat hulle baie gevoelig is vir koue. Ek dink ons seisoene is op die oomblik effens deurmekaar, want dis al herfs en nou is die eiervrug eers aan't ryp word. Die plante word baie maklik deur ryp beskadig. Ses plante is genoeg wees om een gesin van eiervrugte te voorsien. Die plante moet in baie vrugbare grond geplant word.




Gisteraand se 25mm. reën was net wat hierdie groen rissies nodig gehad het! 

Kyk wat kry ek present! 'n Vlu-vriendin vir wie ek 'n handvol peppadews gegee het, roep vanoggend by my hek. Sy hou dié botteltjie heerlikheid in haar omgee-hande vas. Is dit nie wonderlik nie? 

En aan die plante hang nog heelwat kaboutermussies.

4 comments:

  1. Ek soort van saam met hierdie punt van jou. Ek het nog nooit iets met eiervrug aanmekaar geslaan nie, sal moet resepte soek. Die eerste ding wat jy moet weet van eiervrugte is dat hulle baie gevoelig is vir koue.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie vir die inloer Blommetjie!

      Delete
  2. Nog net een keer in my lewe eiervrug gaargemaak, maar my ma het ons gereeld verras met haar kampresepte. Soos altyd het ek die kuier in jou tuin geniet in oorgawe Liza :)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ag Ri, dis tog altyd sooooo lekker om jou spore hier raak te lees, dankie vir die inloer! xx

      Delete