23/03/2015

Kuns in die natuur

Oral is daar kuns: vorms, teksture, kleure. Skoonheid. Kyk net en waardeer dit wat jy sien, elke dag. 

20/03/2015

Groentetuin word kruietuin

Om 'n groentetuin te kan hê, bly steeds 'n uitdaging. Die rede: nie heeltemal genoeg son in my tuin met die baie groot bome nie.  Tog lyk dié heldergeel sonneblom doodgelukkig en maak dit my groen hart baie bly. Uitbundig geel nes 'n son wat uit die grond ontspring het. 

Dit is 'n soort basiliekruid (basil). Ek weet daar is baie verskillende soorte, geure en kleure. Die woord "basil" kom van die Griekse woord wat "koning" beteken. Dit proe glo heerlik in sop en kan ook in slaai en ander kosse gebruik word. Onlangs lees ek dat dit baie goed kombineer met rose. Maandag as ou Jacob kom, sal ons plan maak en dit na 'n plek met meer son toe skuif.  
My heel eerste eiervrug! Maak my amper so bly soos die geboorte van 'n nuwe kleinkind. Darem nie heeltemal SO bly nie. Amper. Ek het nog nooit iets met eiervrug aanmekaar geslaan nie, sal moet resepte soek. Die eerste ding wat jy moet weet van eiervrugte is dat hulle baie gevoelig is vir koue. Ek dink ons seisoene is op die oomblik effens deurmekaar, want dis al herfs en nou is die eiervrug eers aan't ryp word. Die plante word baie maklik deur ryp beskadig. Ses plante is genoeg wees om een gesin van eiervrugte te voorsien. Die plante moet in baie vrugbare grond geplant word.




Gisteraand se 25mm. reën was net wat hierdie groen rissies nodig gehad het! 

Kyk wat kry ek present! 'n Vlu-vriendin vir wie ek 'n handvol peppadews gegee het, roep vanoggend by my hek. Sy hou dié botteltjie heerlikheid in haar omgee-hande vas. Is dit nie wonderlik nie? 

En aan die plante hang nog heelwat kaboutermussies.

27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.)