27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.) 

2 comments:

  1. Wat 'n wonderlike voorreg om as tyd knyp 'n voorsmakie van jou woorderwe op die poskoets te kan geniet. Soos altyd bring jou woord en beeld skeppings groot vreugde!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek is so bly as dit vreugdes bring liewe Ri! Baie dankie vir die inloer en mooi woorde.

      Delete