Showing posts with label kosmos. Show all posts
Showing posts with label kosmos. Show all posts

27/02/2015

Skilder en skilder en skilder

Ek het lanklaas soveel ure geskilder aan een skildery. Dit was 'n bestelling en ek was vas van plan om my uiterste bes te doen. En dit te geniet!
Die doek redelik groot: 102 x 51 cm. My verf slaggereed in die groot plastiek houer, kleure om van te kies en keur. Nou moes ek net begin. Dit was laas Maandag, die 16e Februarie 2015. Ek het elke kans wat ek kry gebruik om te skilder. Soms sommer vir ure aanmekaar. Ander kere korter. So het dit aan die begin gelyk:


Kalerig, berge in die agtergrond nog nie ver genoeg nie en die bekslaanhek was nog 'n yslike uitdaging wat voorgelê het!
Na 'n dag of wat lyk dit toe so;


Meer kosmosblommetjies het bygekom asook van die bloekomboom se "skille" en 'n paar verdwaalde klippe.


Vroeg een oggend saam met my eerste koppie koffie, skilder ek die slap hek wat sommerso kan-nie-gepla-wees in die pad bly lê. Ek verander ook later in die dag die agtergrond sodat daar meer diepte is. Wil mos hê die kyker moet heerlik kan rondtoer in dié landskap. 


Heel laaste plak ek sommer lekker tekstuur op die pale, die kosmos en die boom se stam met die paletmes. (Mens kan dit nie mooi sien op die foto nie, maar glo my, dit is daar) 
Uiteindelik is ek tevrede. Wat 'n heerlike voorreg om te weet dat ek my Godgegewe talent kan gebruik in hierdie dae. O ja, so tussen die verwery deur, het die muse my ook (gelukkig) besoek en kon ek dié woorde geskryf kry:
‘n Dwarshou

Op ‘n  plaaspad ver van hier
lê ‘n bekslaanhek,
sy snare pap soos dié
 van ‘n weggooiviool -
dwarssparre en draad
onseker aanmekaargeflans
sy glans vergete,
verbete klou hy vas
sedert toentertyd tot nou
aan die hekpaal,
gedoringdraad en styfgespan
terwyl pienk en wit kosmos
oraloor
uitbundig blom
Elizabeth Kendall ©

(Ns. As jy my goed ken, sal jy die simboliek hierin kan raaklees.) 

01/04/2014

Kosmos

O dis lekker om te lewe!! Vanoggend voel ek sommer net lus om koers te kies iewers heen en foto's te loop neem. Ek het gister doelbewus en doelgerig die ou Pretoriapad gevat om die kosmos wat dié tyd van die jaar blom, te gaan afneem. En toe met net vyf foto's teruggekom, net genoeg om vir nog meer lus te word.

Hemels! Wat 'n verrassing was hierdie foto nie! So skoon en suiwer. Lieflik is die wêreld in herfstyd.

  Sommer 'n hele plaat pienk en wit vreugdes bymekaar! 
 'n Grondpad draai links uit, die klip en die paal lê nommerpas langs mekaar. 

My oorlede Ma se gedig pas so mooi by hierdie foto.....

KOSMOS
Soos vlinders vrolik, fladderend
waai kosmos in die wind
langs paaie deur die vleie
en oor die bulte ver
wieg prettig, pienk en pers
die blommemassa fyn
soos kant en sy gespin -

in herfs blom kosmos oor ons land
Wie het die veld geploeg, geplant, 
Wie het dit daar gesaai?

Sy hand het dit geskape
Sy hand het dit formeer,
Ja in Sy grote Kosmos
Is Hy van alles Heer! 
(Maureen Grobler) 

Daarom ry ek toe vanoggend sommer 'n rigting in met die hoop dat ek nog meer plate en plate kosmos sal sien. Helaas! Daar was toe nie so baie nie, maar darem mooi genoeg om te geniet!
















KOSMOSVREUGDE 
Vroeg Maart verras 'n kosmos my
al wuiwend langs die pad. 
Die somer gaan te gou verby -
Hier groet die najaar my so bly!
Dou, skitterend, blinknat.

In Maartmaand kantel kleure bont
al waaiend in die wind;
met najaar dwaal gedagtes rond -
kom lê soet woorde in my mond;
'k het soveel vreug gevind.

Soos kosmoskleure pers en wit
al swaaiend om my heen, 
het stilte in my hart kom sit
'n vrede sag en kinderlik
soos najaars milde reën. 
(Maureen Grobler. 1920 -1993)