01/10/2013

Ouma se kleinkinders

 
My rykdom! Kleinkinders. Wat 'n lekkerte was dit nie om die afgelope naweek weer alvier te beleef nie. Elkeen uniek. Elkeen so spesiaal.
 
Kinders praat reguit.
 
Klein Anna-Marie sit op oupa se skoot terwyl hy vir haar Bybelstories lees.
Sy streel oor oupa se geplooide gesig en ook oor haar eie en vra toe: "Oupa, het die Here vir Oupa gemaak?" "Ja, my ding," antwoord hy "dit was sommer al lank gelede." "Het Hy my ook gemaak?" kom die volgende vraag. "Ja, my skat, maar dit was sommer net nou die dag," antwoord Oupa weer. Terwyl sy weer oor albei se gesigte voel, sê sy: "Hy raak al beter en beter né Oupa?!"
 
'n Klein dogtertjie sit rusteloos en rondskuif in die kerk toe die diens darem te lank aanhou na haar sin. Uiteindelik fluister sy vir haar ma: "As ons nou vir hom die geldjies gee - sal hy ons dan laat gaan?"
 
Stefan gee vir sy ma 'n drukkie toe hy gaan slaap en sê: "Ek is so lief vir mamma - as ma doodgaan, gaan ek Ma onder my kamervenster begrawe!"
 
***

31/08/2013

Simon, Sarel en Stoffel se elke-dag-storie

Daar is drie van hulle. Aldrie pragtig op hul eie manier. Aldrie yslike groot voëls met lengtes van  64–82 cm. en 'n gewig van 1.5 kg. elk, so naastenby. Hulle woon in Noordwes op 'n wildplaas, wat nou 'n vakansieoord is. Hulle maak saam met geel- en rooibekneushoringvoëls, bontkiewiete, patryse, houtkappers en nog baie ander geveerdes die oop, blou lug en die baie bome hul tuiste. Tevrede.

 
 Van links na regs: Simon, Sarel en Stoffel Skoorsteenveër.

 
Hier spieël aldrie hulself in die dam se water....wie is die mooiste in die land? Vir die Egiptenare van weleer was hierdie voëls heilige gevleuelde wesens. Hul ander naam is Nylreier.
 

Vir ure aaneen wandel die drie pik-pik langs die dam nes drie ou wyse manne. Sarel soek 'n vissie, Simon 'n padda en Stoffel sal baie bly wees as hy net 'n paar vet insekte kan kry vir middagete. Aldrie weet as hulle hul lang snawels lekker diep in die modder inploeg, kry hulle heerlike erdwurms vir poeding.

 
 
 

24/08/2013

Brakenjan se dinge

Ontmoet vir Brakenjan.


Hy is my miniatuur worshondjie en nou alreeds vier maande deel van ons lewens. Dat hy al baie diep in ons twee se harte ingekruip het met sy ou groot pootjies, is 'n waarheid soos min. Die pienk-en-blou truitjie pas lankal nie meer nie. Die winter is amper verby en Brakkies is al amper uitgegroei.
 
 
Hy is al baie gewoond aan ons roetine, kry nooit meer glipse in die gang of elders nie, slaap wonderlik dwarsdeur elke nag. Reg langs ons bed in sy bedjie en warm toegewikkel onder sy blou kombers.
As ek in die voorste kamer op die rekenaar sit en werk of speel, lê hy heerlik in die sonnetjie en bak en droom sy hondedroompies sonder om gesteur te word.
 
 
 
Stap ek buitetoe, volg hy my. Lekker om in die sagte sand 'n gaatjie te grou.....iewers is daar dalk iets opwindends wat wag om gevang te word. Worsies is mos nie verniet uitstekende jagters nie!
 
 
Soms is dit maar net lekker om na die duiwe te staan en kyk waar hulle saad oppik onder die perskeboom. Hy weet hy mag hulle nie jag nie. Ek wonder wat in sy gedagtes omgaan, die kransduiwe is skaars groter as hy.....
 
 

Brakenjan se heelbeste hondemaat is Hagar, ons liewe ou Labrador, wat nog nooit eers een knor of hap na klein Brakkies se kant toe gewaag het nie. Hy geniet dit so om met sy klein maatjie te speel en hulle twee kan taamlik wild tekere gaan smiddae. Dis 'n heerlikheid om hul lewensvreugde te aanskou.


 
 
 
Nes kinders, raak honde ook gou bederf. Een ou klein bederfie is dat Brakenjan elke middag nà ete by sy baas 'n stukkie sjokolade kry. Dis te dierbaar om te aanskou. Hy gaan sit op sy "hurke" en wag, kyk my man aan met sy mooi ou "mensogies" en lek dan gulsig die flenterjies sjokolade van die vloer af op. Elke middag.
Die vreugde wat 'n mens se diere jou gee is onbeperk. Vir "Innemend" en "Skrander" sal ons nog hopelik baie jare kan versorg en liefhê..... en hulle vir ons, onvoorwaardelik!
 
Ter insae: Worshond: ’n Innemende, skoon hond, wat maklik geleer kan word as hy verstandig gedissiplineer word. Die Duitse woord vir die worshond is “Dachshund” (dashond), wat duidelik vertel in watter soort jagtogte hy hom in die verlede onderskei het.  Vanaf: Honde en hul dinge 
 
Labrador: Skrander en baie betroubaar. Die Labrador kom van Labrador, Kanada, ’n deel van die Kanadese provinsie Newfoundland-en-Labrador. Hierdie soort hond is geteel om voëls te apporteer (aan te bring) nadat hulle geskiet is, veral uit riviere en damme.