Showing posts with label winter. Show all posts
Showing posts with label winter. Show all posts

20/07/2014

Kyk (weer) na die wilde voëls

 Kransduif

Tiptol
Tortelduif

Om die voëls in die tuin dop te hou dié tyd van die jaar verskaf groot plesier. Miskien omdat die res van die tuin nog in 'n winterslaap vertoef. Tot selfs die gehardste vetplante het vanjaar 'n knou gekry. 


 Kransduif

 Tiptol of soos iemand anderdag genoem het: Pietgeelgat of Geelgatkluitjiekorrels. Is dit nou nie 'n mooi Afrikaanse naam nie? Volrond. 


My ou gunstelinkie: Glasogie. 

03/08/2013

'n Oggend in die tuin

Dis nog ver van somer af, maar bedags skyn die winterson heerlik louwarm op die kaal takke en bruin blare. Toe ou Jacob Donderdag weer hier krap en daar vee, besluit ek terstond: vandag is die dag!

Ek roep hom na die voortuin waar ons in geen jare aandag gegee het aan die voorkoms van die tuin om die voëls se waterbak nie. "Jacob, kom ons maak 'n nuwe tuin hier vandag!" sê ek opgewonde en entoesiasties. Hy is dadelik net so opgewonde soos sy "Oumies" en begin die grond losmaak waar tientalle van my mooi klippe begrawe lê. Ons grawe hulle almal uit.

Ons rangskik die groter klippe op 'n ander manier, snoei lang en slordige takke weg, maak oop en skoon, gaan haal die pot met die groot vetplant in die agterplaas en stal dit uit op 'n kaal kol in die voortuin, daar waar almal dit kan sien. Na 'n rukkie  se werk in die skraal sonstrale, lyk alles sommer net beter.

 
 
Om te dink, al hierdie klippe het onder die grond weggekruip!
 
 
Daar waar die kaal kolle is, sal ek later helderkleurige blommetjies plant. Net eers kraalmis inwerk sodat dit 'n ordentlike wegspringplek  kan hê. Ek kan al klaar sien hoe vrolik dit gaan lyk.
 
 
Die woestynrosies in die pot sal ook in die somer meer word, ek is seker daarvan.
 

Botterblomme wat steeds warm-oranje blom maak my hart so bly en laat my sommer minder koud kry.
 
 

Die Botterblom (Gazania krebsiana) - ook bekend as die Bruingousblom- is 'n meerjarige blomplant wat blom in die lente en somer. Hoe gelukkig is ek nie om tot in die winter nog hul sonskynkleure te kon geniet nie! Die plant is 'n vinnige groeier en dra madeliefieblomme aan lang stele wat net in sonskyn oopgaan. Die blomme kom in baie kleure voor.
 
Geel madeliefies.
 Kleur is maar 'n skaars artikel dié tyd van die jaar, daarom verlustig ek my in dit wat daar wel is.
 
 
Pienk en groen.


'n Enkele Afrikaner staan trots en glimlag agter die klip!
 

En bo, aan die dunste tak van die ou karee, werskaf geelvink om die nes gereed te kry.
 

Tortelduif wag geduldig, nes ek......een van die dae kan ons weer regtig tuinmaak!! Vandag was net 'n lusmakertjie.
 

03/08/2012

Die verhaal van Hercules Hadeda.

Dit was 'n doodgewone dag. Dit was winter en 'n skraal windjie het om die huis se hoeke gehuil. Hercules Hadeda het rustig deur die tuin gedwaal. Hy was langs die kareeboom op soek na 'n lekker vet erdwurm, sprinkaan of akkedissie om te eet vir ontbyt.


Met sy lang, swarterige, krom snawel waarvan die boonste deel pienk geverf is, was dit maklik om erdwums uit die sagte grond onder die blare uit te lig. Hy het hulle gulsig verorber. Gou was hy versadig.


Dit was lekker om hier tussen die klimopranke in die wintersonnetjie te loop en vroetel.


Skielik het Hercules Hadeda vreeslik alleen begin voel. Hy het grootoog oral om hom heen gekyk, maar niemand in die tuin gewaar met wie hy 'n geselsie kon aanknoop nie.


Hy vlieg toe maar met 'n yslike vlerkgeklap op en gaan sit bo-op die huis se dak en roep hard:
"Haaaa dieeee daaa!" Miskien hoor iemand hom....


Karel Kransduif het sagveer agter Hercules kom sit. "Hoekom raas jy so Hercules?" vra hy rustig en knip-knip sy blink ogies.


"Ek raas, want niemand wil met my gesels nie! Ek dwaal al heeloggend stoksielalleen hier deur die tuin. Waar is julle almal vanoggend of is dit die koue wat julle pla? " vra Hercules opgewonde. Toe kyk hy om......


"Haaaaa! Daar kom darem nog geselskap aangevlieg!" sê Hercules bly.


Dit is Karel se vroutjie Katrina. Saam sit hulle drie op die huis se dak en wonder wat hulle alles vandag gaan doen. Hercules stel voor hulle moet 'n draai oor die dorp gaan vlieg en kyk of hulle nie vir hom ook iewers 'n vrou en 'n maat kan kry nie. Karel en Katrina lyk so gelukkig saam! Hy is sommer jaloers.....

Nog voordat hulle kon wegvlieg, sien aldrie skielik 'n vreemde hadida aan die anderkant van die dak sommer so op haar eie rondtrap. Sy lyk baie eensaam. Hercules besluit om te gaan kennis maak. Dis dalk net die maat na wie hy al hoe lank soek! Nou moet hy net genoeg moed bymekaar skraap. Hoe benader 'n man nou so 'n mooie meisie, wonder hy.


Hy krap sy kop en dink diep.


Skielik wéét hy! Hy maak keel skoon en roep op sy hardste sy oerbekende roep. Sy moet hom hoor, sy sal omkyk en by hom kom aansluit om sy maat te word. Hy hoop so! As sy gaan "Jaaaaa! " sê, lê daar werk voor, want dit sal sy taak wees om vir hulle 'n nes van stokke en gras te maak.  

Hannetjie Hadeda kyk skamerig om. Dis al amper die einde van die winter en tyd om nes te maak en eiers te lê. Sy wil so graag kuikentjies hê.  As sy gelukkig is, behoort sy teen Oktober 'n Mamma Hadeda te wees!



Sy kom staan met haar metaalblink vere baie naby aan Hercules. Hy bewonder die pers en groen kleure in haar vere, haar mooi, kort beentjies en die pienk lipstif op haar snawel.

 


"Dis nou of nooit!" dink Hercules en van pure verbouereerdheid krap hy maar weer aan homself.


Toe vra hy die groot vraag. Hannetjie Hadeda huiwer vir nie een oomblik nie en sê met 'n baie duidelike stem: "Haaaaa dieeeeee daaaa, ek sê jaaaaaaaa! "


Hercules en Hannetjie het  gelukkig saam gelewe en na drie maande was daar vier klein hadedas in hulle nes. Al vier het op 'n veer nes hul ouers gelyk!



Toe hulle groter word het hulle oral rondgevlieg want die wye wêreld was hul woning.


Elizabeth Kendall ©




08/07/2012

Winter

My tone tien is ys-verkluim
so ook my vingers en my duim
ek dra my wolpantoffels nou:
dit sal die koue buite hou!

My serp is warm om my nek
my hande ook met wol bedek
Ek blaas 'n asem yskoud-stoom
terwyl ek oor die somer droom!


Elizabeth Kendall ©

27/06/2012

Wie weet waar Martie en Martin kuier?


Martie Muisvoël is vanoggend baie bly. Sy het sopas 'n wonderlike ontdekking gedoen. Tussen die kaal takke van haar geliefkoosde kuierboom naby die waterbak, lê daar 'n sappige stukkie appel en wag. Hoe heerlik! Sy is juis so honger. Gedurende die koue winter is kos maar skaars. Sy wil net begin kou aan die appel, toe gewaar sy uit die hoek van haar oog 'n grysvaal MUIS. Sy vlieg vinnig weg en gaan sit hartseer op 'n tak nie te ver van die appel af nie. Wat gaan nou gebeur?


Martin Muis laat nie op hom wag nie. Sy lang stertjie krul teen die droë takke af. Hy klou met sy klein pootjies styf vas aan die stuk saligheid wat hier voor hom lê.
"Knibbel, knibbel, knibbel, knibbel!" werk sy klein tandjies om die stukkies appel lekker fyn te kou.


"Is dit nou tog nie te heerlik nie! " fluister hy ingenome met homself. Dié winter is baie koud en kos is maar skaars.


Karel Kransduif en Letitia Lagduif sit en loer van die waterbak se kant af.
"Martin, skaam jou! Jy dink net aan jouself! Gaan jy nou die hele appel alleen opeet?" vra Karel met sy kwaai stem vir Martin Muis.


"Ag Karel, jy het nie 'n idee hoe vreeslik honger ek is nie!" sê Martin met 'n hartseer stemmetjie.
Van iewers vandaan hoor hy Martie se sagte gefluit. Hy besluit om maar grootharig te wees soos dit 'n goeie muis betaam. Martin wip ewe vriendelik weg van die sappige appel sodat Martie tog nou maar ook weer 'n happie kan vat.


"Ooo, dankie, dankie Martin, jy het die mooiste maniere! 'n Man wat vir 'n dame ook 'n kans gee om iets lekkers te geniet, is 'n man so na my hart. Ek weet dis seker maar omdat ons dalkies verlangs familie van mekaar is, né! " sê Martie so tussen die happies appel deur.


"Nou sien ek sommer kans vir hierdie wintersdag! " fluit Martie Muisvoël toe sy op die stomp gaan sit. Haar hartjie voel bly en gelukkig.  Toe Martin Muis sien Martie is nou meer as tevrede, gaan vat hy gou nog één laaste hap....net vir die lekker!


Foto's  en storie: Elizabeth Kendall ©


 




29/05/2012

Lente



Ek wil sing en spring en juig
tot waar die hoogste bome buig
want lente is mos in die lug..
Winter het sleepvoet weggevlug!

Elizabeth Kendall ©