27/06/2012

Wie weet waar Martie en Martin kuier?


Martie Muisvoël is vanoggend baie bly. Sy het sopas 'n wonderlike ontdekking gedoen. Tussen die kaal takke van haar geliefkoosde kuierboom naby die waterbak, lê daar 'n sappige stukkie appel en wag. Hoe heerlik! Sy is juis so honger. Gedurende die koue winter is kos maar skaars. Sy wil net begin kou aan die appel, toe gewaar sy uit die hoek van haar oog 'n grysvaal MUIS. Sy vlieg vinnig weg en gaan sit hartseer op 'n tak nie te ver van die appel af nie. Wat gaan nou gebeur?


Martin Muis laat nie op hom wag nie. Sy lang stertjie krul teen die droë takke af. Hy klou met sy klein pootjies styf vas aan die stuk saligheid wat hier voor hom lê.
"Knibbel, knibbel, knibbel, knibbel!" werk sy klein tandjies om die stukkies appel lekker fyn te kou.


"Is dit nou tog nie te heerlik nie! " fluister hy ingenome met homself. Dié winter is baie koud en kos is maar skaars.


Karel Kransduif en Letitia Lagduif sit en loer van die waterbak se kant af.
"Martin, skaam jou! Jy dink net aan jouself! Gaan jy nou die hele appel alleen opeet?" vra Karel met sy kwaai stem vir Martin Muis.


"Ag Karel, jy het nie 'n idee hoe vreeslik honger ek is nie!" sê Martin met 'n hartseer stemmetjie.
Van iewers vandaan hoor hy Martie se sagte gefluit. Hy besluit om maar grootharig te wees soos dit 'n goeie muis betaam. Martin wip ewe vriendelik weg van die sappige appel sodat Martie tog nou maar ook weer 'n happie kan vat.


"Ooo, dankie, dankie Martin, jy het die mooiste maniere! 'n Man wat vir 'n dame ook 'n kans gee om iets lekkers te geniet, is 'n man so na my hart. Ek weet dis seker maar omdat ons dalkies verlangs familie van mekaar is, né! " sê Martie so tussen die happies appel deur.


"Nou sien ek sommer kans vir hierdie wintersdag! " fluit Martie Muisvoël toe sy op die stomp gaan sit. Haar hartjie voel bly en gelukkig.  Toe Martin Muis sien Martie is nou meer as tevrede, gaan vat hy gou nog één laaste hap....net vir die lekker!


Foto's  en storie: Elizabeth Kendall ©


 




4 comments:

  1. Ag toggies, wat 'n pragtige storie en foto's! Ek is SO bly almal het darem 'n stukkie gekry!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Glimlag. Baie dankie Maree! Die ou diertjies om ons....

      Delete
  2. Ouma ek is baie lief vir jou en ek hoop jy het 'n lekker wintersdag gehad. Ek hoop die voeltjies kry nie koud nie.
    Liefde Reuben xxx

    dankie ouma vir die lekker storie jy moet lekker slaapies lief vir jou xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx nag oumie

    Liefste Mams, dankie vir die mooi storie en foto's, ons het dit nou so geniet. Is dit met die nuwe kamera geneem? Lekker slapies liefde xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Goeiemôre al my kleingoed, wat 'n lekker verrassing om julle spoortjies hier te kry! Baie dankie dat julle kom inloer het. Ouma ia net so lief vir julle en stuur ook baie lekker soentjies. Ek het baie lekker geslaap, dit moes julle goeie wense gewees het! Dankie Mareet, dat jy vir hulle die storie kom wys het, nou sal Ouma nog een moet skryf né.... ja, dis die nuwe kamera. Geniet dit so baie. Julle moet 'n lekker dag hê hoor. xxxx

      Delete