20/06/2012

'n Duiwestorietjie vir dogtertjies en seuntjies van alle ouderdomme.


Smiddae so skuins na drie is dit kuiertyd by die waterbak in die voortuin. Karel Kransduif, Katrina, sy vrou en Letitia Lagduif sit aldrie ewe gesellig en bad. Hulle vat kort-kort 'n slukkie yskoue water en sit vreedsaam en wonder oor die winter.


"Weet jy wat?" koer Karel.
"Nee, verrrtel myyyy? " antwoord Katrina.
"Ek geniet nogal dié tuinkombuis hier by Krugerstraat!" koer Karel.
"Ek oook, ek ooook!" roep Letitia Lagduif doer van agter af en sluk ewe fyntjies aan die koue water.
 "Hier is altyd water en baie maal iets om aan te pik!"

"Jy sal my nou moet verskoon, Letitia! " koer Katrina, "Karel is reeds weg, hy is seker al op die stoepdak waar ons nes is...koekoerrrdoek, koekoeerdoek!"
En weg vlieg Katrina....


Letitia Lagduif sit alleen en droom, sy moet ook maar aanstaltes begin maak om by haar stokkiesnes in die eikeboom uit te kom. Daar lê twee spierwit eiertjies en wag om uitgebroei te word. Dis so heerlik vreedsaam hier in die tuin. Net die regte plek vir 'n vredesduifie soos sy!


"Koekoerrdoek!"



2 comments:

  1. Hoe lekker het hulle nou net nie gesels daar in jou tuinkombuis nie Elizabeth! Karel en Katrina is geluk om pragtige Letitia te hê as hul buurvrou!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie gelukkig is hulle ja...en ek nog meer! Dankie Maree vir die inloer hier!

      Delete