Showing posts with label tuin. Show all posts
Showing posts with label tuin. Show all posts

21/12/2013

My kamera, my passie

Daar is min dinge op aarde so lekker vir my as om met my kamera te speel. En dis nie van gister af nie, dis lankal se lekkerkry dié!  Hier is 'n paar onlangse foto's geneem in my tuin. Ek hoop jy geniet dit net so baie soos ek! 


 Die pienk "Pride of India" is dié tyd van die jaar 'n lus vir die oog.


 'n Vetplant wat soveel vreugdes gee....net vir een dag. Elke keer.

 Kyk net hoe vol groen akkers is my boom. Ek put soveel genot daaruit om op te kyk na hierdie ou groot eikeboom wat net buite die erf staan en vir menige besoeker heerlike parkeerplek in sy skadu verskaf.


Op 17 Desember 2013 hang 'n volronde, vriendelike volmaan bokant ons huis.


Die wolke voor die maan sorg vir 'n onvergeetlike prentjie.  

03/08/2013

'n Oggend in die tuin

Dis nog ver van somer af, maar bedags skyn die winterson heerlik louwarm op die kaal takke en bruin blare. Toe ou Jacob Donderdag weer hier krap en daar vee, besluit ek terstond: vandag is die dag!

Ek roep hom na die voortuin waar ons in geen jare aandag gegee het aan die voorkoms van die tuin om die voëls se waterbak nie. "Jacob, kom ons maak 'n nuwe tuin hier vandag!" sê ek opgewonde en entoesiasties. Hy is dadelik net so opgewonde soos sy "Oumies" en begin die grond losmaak waar tientalle van my mooi klippe begrawe lê. Ons grawe hulle almal uit.

Ons rangskik die groter klippe op 'n ander manier, snoei lang en slordige takke weg, maak oop en skoon, gaan haal die pot met die groot vetplant in die agterplaas en stal dit uit op 'n kaal kol in die voortuin, daar waar almal dit kan sien. Na 'n rukkie  se werk in die skraal sonstrale, lyk alles sommer net beter.

 
 
Om te dink, al hierdie klippe het onder die grond weggekruip!
 
 
Daar waar die kaal kolle is, sal ek later helderkleurige blommetjies plant. Net eers kraalmis inwerk sodat dit 'n ordentlike wegspringplek  kan hê. Ek kan al klaar sien hoe vrolik dit gaan lyk.
 
 
Die woestynrosies in die pot sal ook in die somer meer word, ek is seker daarvan.
 

Botterblomme wat steeds warm-oranje blom maak my hart so bly en laat my sommer minder koud kry.
 
 

Die Botterblom (Gazania krebsiana) - ook bekend as die Bruingousblom- is 'n meerjarige blomplant wat blom in die lente en somer. Hoe gelukkig is ek nie om tot in die winter nog hul sonskynkleure te kon geniet nie! Die plant is 'n vinnige groeier en dra madeliefieblomme aan lang stele wat net in sonskyn oopgaan. Die blomme kom in baie kleure voor.
 
Geel madeliefies.
 Kleur is maar 'n skaars artikel dié tyd van die jaar, daarom verlustig ek my in dit wat daar wel is.
 
 
Pienk en groen.


'n Enkele Afrikaner staan trots en glimlag agter die klip!
 

En bo, aan die dunste tak van die ou karee, werskaf geelvink om die nes gereed te kry.
 

Tortelduif wag geduldig, nes ek......een van die dae kan ons weer regtig tuinmaak!! Vandag was net 'n lusmakertjie.
 

02/07/2013

Tyd het vlerke

Ons hoor dit so baie: "Die tyd vlieg!" Gister is verby. Vanoggend herkou ek nog aan die stukkie tyd wat ek gister kon koester, die paar salige minute waarin ek my kon verlustig aan die mooi om my wat die natuur oophande en verniet vir my gegee het. Dié tyd wat met grys en geel vlerke my tuin in 'n inkleurboek kom verander het.  


Ek kyk na die abstrakte kuns van 'n hardekoolstomp wat ons staangemaak het langs die waterbak en waar die voëls van ons dorp in die winterson kan kom kuier en kwetter.
 


Skoon drinkwater....wag rustig in die winterson vir koerende kuiergaste
 


'n Kwikstertjie daag eerste op. Dis tyd vir 'n lekker oggendbad.  Hy wip heen en weer,  wikkel sy dun beentjies woerts-warts, woerts-warts op en af, vorentoe, agtertoe....'n prentjie van lewenslus. 'n Uitdaging vir enige fotograaf om 'n foto te kry wat darem naastenby in fokus is...
 


Ou vrugteliefhebber, Manie Muisvoël, kom hang ewe tuis aan die rand van die waterbak. Hy peusel en proe, trek gulsig stukkies lemoen met sy swart-en-wit snawel uit die skil en verslind dit vraatsig. Wat 'n lekkerte op aarde!
 

En toe die verrassing! 'n Allermooiste rooikophoutkapper land doodluiters. Hy betrag die wêreld grootoog.
 

Ek verwonder my aan sy dik snawel, die lieflike helderrooi "serpie en kopdoek", die uniekheid
van sy vrolike voorkoms.


"Kom vat 'n slukkie..." nooi ek hom uit vanwaar ek agter die gordyn in die voorkamer staan. En hy luister gehoorsaam.
 

Katrina Kransduif koe-koerdoek en kyk uit die hoogte na die vaal grasperk.  Sy wag vir warmer somersdae, sy weet dit kom elke dag nader. "Koekoerdoek, koe-koerdoek!"


Manie se maat, Mollie Muisvoël, kom sluit by hom aan. Hulle twee sit plat op hul alies en geniet die sappige lemoen. Die tuin is hul kuierplek, hul koskryplek, hul tuiste.
 
 


'n Rooiborsduifie is die volgende besoeker. Alhoewel duiwe in die tuin so deel is van my omgewing, bly hulle vir my pragtig. En rooiborsduiwe bly my gunsteling duiwe. So sag. So vriendelik.
 
 
 
 
 

 
'n Klein geel glasogie is 'n presentjie uit die hemel en pure plesier1!


 
 



'n Paar geelgroen vlerkies fladder en vlieg rats na die oorblyfsels van die lemoen....miskien het Manie en Mollie Muisvoël tog iets lekker laat oorbly, wie weet?

 
'n Tuin vol lewe is en bly een van die grootste vreugdes op aarde. Mag ons altyd oopoog deur ons tuine loop en God se Skeppingswerk waardeer. Dan sal ons ook vlerke hê om te kan vlieg waar Hy ons heen mag stuur.

17/06/2012

Dis mos nou lekker!

Van l.n.r.: Isabella, Reuben, Joshua en Amy. Hier het hulle "skool gespeel" en die outydse skoolbank in die voorportaal is mos ideaal vir dié doel!

As my kleinmense kom kuier, dan maak ons tyd vir verf! En hulle wéét al! Skaars geland, dan sal Reuben vra: "Ouma, wanneer gaan ons ve..e..e..rf ?"
Ek geniet dit vreeslik om hulle dop te hou terwyl hulle besig is. Soms knip en plak ons, ander kere "skilder" ons, partymaal mors ons, baie kere gesels ons meer as wat ons enige-iets anders doen....maar in elke kuiertjie van kleinkinders hier by Krugerstraat is daar 'n gróót stuk genot van iets lekkers saamdoen.

'n Trein! Altyd 'n trein....dan is Reuben in die sewende hemel!


Joshua se mooiste bome
"Tjoeke tjoeke paf !" ry Reuben se trein oor vlaktes wit papier!
En partymaal droom ons drome en wens ons wense!
'n Lekker vet skapie! Isabella s'n!
Amy se boomskildery.....almal kan sien sy het dit so baie geniet!

Baie maal sit ons net sommer in die tuin en gesels of luister na die voëltjies....of speel wegkruipertjie!


Hagar, Oupa en Ouma se swart Labrador, is natuurlik altyd deel van die spelery! Kyk hoe lekker oopbek lag hy!