Showing posts with label natuur. Show all posts
Showing posts with label natuur. Show all posts

15/03/2014

Kleur is orals

Nà die baie reën lyk die wêreld sommer anders. Kom stap saam met my deur die tuin! 


GROEN mos klou vas teen klippe en boomstamme. 


Ek kan my verkyk aan die lyne en patrone van die ornamentele gras by die voëls se waterbak.

Kuns in die natuur. 

 
Bloedrooi blom die gerberas. 
Oos wes, tuis bes!

01/02/2014

Die kwikstertjie


Vanoggend is dit nie so warm nie en ek dwaal deur die tuin op soek na die kwikstertjie wat my nou al hoe lank roep. Ek hoor sy liedjie deur die oop vensters. Ek sien hom hop-hop oor die gras. Vandag is die dag dat ek 'n foto van jou neem my ou maatjie!! "Klik!" net toe hy met grassies in die snawel vir een enkel sekond op die huis se dak tot stilstand kom. Dankie tog! Om dié klein vinnige karnallie af te neem, is gladnie maklik nie.


 "As hy staan, dan gaan hy en as hy gaan, dan staan hy!" het iemand een keer gesê. Picasa het my gehelp om hierdie rooi-en-blou prentjie te maak. Hou jy ook daarvan? 

Die kwikstertjie (ook kwikkie, wipstertjie of akkermannetjie) is 'n klein voëltjie met 'n lang stert wat algemeen in Suid-Afrikaanse tuine en op die seefront aangetref word. Dit het 'n duikvlug en op die grond beweeg die stertjie heeltyd op en af. 'n Treffender soort is die bontkwikkie van KwaZulu-Natal en die Victoria-waterval.
(Wikipedia)

21/12/2013

My kamera, my passie

Daar is min dinge op aarde so lekker vir my as om met my kamera te speel. En dis nie van gister af nie, dis lankal se lekkerkry dié!  Hier is 'n paar onlangse foto's geneem in my tuin. Ek hoop jy geniet dit net so baie soos ek! 


 Die pienk "Pride of India" is dié tyd van die jaar 'n lus vir die oog.


 'n Vetplant wat soveel vreugdes gee....net vir een dag. Elke keer.

 Kyk net hoe vol groen akkers is my boom. Ek put soveel genot daaruit om op te kyk na hierdie ou groot eikeboom wat net buite die erf staan en vir menige besoeker heerlike parkeerplek in sy skadu verskaf.


Op 17 Desember 2013 hang 'n volronde, vriendelike volmaan bokant ons huis.


Die wolke voor die maan sorg vir 'n onvergeetlike prentjie.  

31/08/2013

Simon, Sarel en Stoffel se elke-dag-storie

Daar is drie van hulle. Aldrie pragtig op hul eie manier. Aldrie yslike groot voëls met lengtes van  64–82 cm. en 'n gewig van 1.5 kg. elk, so naastenby. Hulle woon in Noordwes op 'n wildplaas, wat nou 'n vakansieoord is. Hulle maak saam met geel- en rooibekneushoringvoëls, bontkiewiete, patryse, houtkappers en nog baie ander geveerdes die oop, blou lug en die baie bome hul tuiste. Tevrede.

 
 Van links na regs: Simon, Sarel en Stoffel Skoorsteenveër.

 
Hier spieël aldrie hulself in die dam se water....wie is die mooiste in die land? Vir die Egiptenare van weleer was hierdie voëls heilige gevleuelde wesens. Hul ander naam is Nylreier.
 

Vir ure aaneen wandel die drie pik-pik langs die dam nes drie ou wyse manne. Sarel soek 'n vissie, Simon 'n padda en Stoffel sal baie bly wees as hy net 'n paar vet insekte kan kry vir middagete. Aldrie weet as hulle hul lang snawels lekker diep in die modder inploeg, kry hulle heerlike erdwurms vir poeding.

 
 
 

29/07/2013

Songeel

 
Geelvink vlieg
en geelvink gooi sy goudgeel spatsels
tussen groen
ek staan verwonderd
hier van onder af
en kyk wat
geelvink alles doen
 


Elizabeth Kendall ©



 


18/04/2013

Lig en donker

Ons dae is nie een dieselfde nie. Party dae gly ons sonder stampe en stote deur die lewe. Ander dae voel dit asof die bulte en die hoogtes darem net 'n bietjies te steil is. Tog is daar so baie mooi om ons om ons te inspireer en te kalmeer.
Ek put altyd so baie vreugde uit dit wat die natuur bied! Kom stap saam met my en geniet dit....en mag jou dag vandag ook geseënd en vol vreugdes wees.

 
 
 
 
 
 
In elkeen van hierdie foto's speel lig en donker 'n rol. Saam maak dit ....
die hele lewe.
 
 
 

26/03/2013

'n Opmerksame hart is genoeg

Vandag wil ek net kyk en kyk. En ek wil luister. Ek wil 'n opmerksame hart en 'n luisterende ingesteldheid hê teenoor alles en almal om my.....soos die jong koning Salomo van die Bybel. Vroegoggend nà die heerlike, sagte reënbui van gisternag, sien ek hoe blink die druppels aan die Kaapse rietgras langs die voëls se waterbak. Net soos sterre wat skitter!

 
 
 
Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. In die boek Spreuke is dit opvallend dat daar ‘n besonderse “dun plek” tussen God en koning Salomo was: ‘n ontmoetingsplek waarmee baie mense vandag nog kan identifiseer, naamlik die natuur. 
 
 
Ek verkyk my aan die mooi kransduif wat so saliglik lekker op hierdie herfsdag kom sit om sy bad te geniet. Droomverlore.

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie...
~ Die Bybel. - Matteus 6:26
 
 

Klaar gebad, maak hy gereed om in die louwarm son te gaan sit. Tevrede.
Ek kan so baie by hom leer.
 
 
Op sy sy gaan lê hy en geniet die son op sy rooibruin rug, sy blougrys romp en witgespikkelde vere. Totale oorgawe aan die heerlikheid van die oomblik!
 

So sit hy nog 'n hele paar minute. Miskien luister hy ook (soos ek) na die doo-doo-doo roep van sy maats in die bome, so gerusstellend soos trooswoorde. 
 
Hebreërs 13: 1-8
 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."


 
 
 
 
 
 

03/08/2012

Die verhaal van Hercules Hadeda.

Dit was 'n doodgewone dag. Dit was winter en 'n skraal windjie het om die huis se hoeke gehuil. Hercules Hadeda het rustig deur die tuin gedwaal. Hy was langs die kareeboom op soek na 'n lekker vet erdwurm, sprinkaan of akkedissie om te eet vir ontbyt.


Met sy lang, swarterige, krom snawel waarvan die boonste deel pienk geverf is, was dit maklik om erdwums uit die sagte grond onder die blare uit te lig. Hy het hulle gulsig verorber. Gou was hy versadig.


Dit was lekker om hier tussen die klimopranke in die wintersonnetjie te loop en vroetel.


Skielik het Hercules Hadeda vreeslik alleen begin voel. Hy het grootoog oral om hom heen gekyk, maar niemand in die tuin gewaar met wie hy 'n geselsie kon aanknoop nie.


Hy vlieg toe maar met 'n yslike vlerkgeklap op en gaan sit bo-op die huis se dak en roep hard:
"Haaaa dieeee daaa!" Miskien hoor iemand hom....


Karel Kransduif het sagveer agter Hercules kom sit. "Hoekom raas jy so Hercules?" vra hy rustig en knip-knip sy blink ogies.


"Ek raas, want niemand wil met my gesels nie! Ek dwaal al heeloggend stoksielalleen hier deur die tuin. Waar is julle almal vanoggend of is dit die koue wat julle pla? " vra Hercules opgewonde. Toe kyk hy om......


"Haaaaa! Daar kom darem nog geselskap aangevlieg!" sê Hercules bly.


Dit is Karel se vroutjie Katrina. Saam sit hulle drie op die huis se dak en wonder wat hulle alles vandag gaan doen. Hercules stel voor hulle moet 'n draai oor die dorp gaan vlieg en kyk of hulle nie vir hom ook iewers 'n vrou en 'n maat kan kry nie. Karel en Katrina lyk so gelukkig saam! Hy is sommer jaloers.....

Nog voordat hulle kon wegvlieg, sien aldrie skielik 'n vreemde hadida aan die anderkant van die dak sommer so op haar eie rondtrap. Sy lyk baie eensaam. Hercules besluit om te gaan kennis maak. Dis dalk net die maat na wie hy al hoe lank soek! Nou moet hy net genoeg moed bymekaar skraap. Hoe benader 'n man nou so 'n mooie meisie, wonder hy.


Hy krap sy kop en dink diep.


Skielik wéét hy! Hy maak keel skoon en roep op sy hardste sy oerbekende roep. Sy moet hom hoor, sy sal omkyk en by hom kom aansluit om sy maat te word. Hy hoop so! As sy gaan "Jaaaaa! " sê, lê daar werk voor, want dit sal sy taak wees om vir hulle 'n nes van stokke en gras te maak.  

Hannetjie Hadeda kyk skamerig om. Dis al amper die einde van die winter en tyd om nes te maak en eiers te lê. Sy wil so graag kuikentjies hê.  As sy gelukkig is, behoort sy teen Oktober 'n Mamma Hadeda te wees!



Sy kom staan met haar metaalblink vere baie naby aan Hercules. Hy bewonder die pers en groen kleure in haar vere, haar mooi, kort beentjies en die pienk lipstif op haar snawel.

 


"Dis nou of nooit!" dink Hercules en van pure verbouereerdheid krap hy maar weer aan homself.


Toe vra hy die groot vraag. Hannetjie Hadeda huiwer vir nie een oomblik nie en sê met 'n baie duidelike stem: "Haaaaa dieeeeee daaaa, ek sê jaaaaaaaa! "


Hercules en Hannetjie het  gelukkig saam gelewe en na drie maande was daar vier klein hadedas in hulle nes. Al vier het op 'n veer nes hul ouers gelyk!



Toe hulle groter word het hulle oral rondgevlieg want die wye wêreld was hul woning.


Elizabeth Kendall ©