Voor ons huis staan 'n yslike groot akkerboom. Iewers vandaan val swart stof oor my rose se blare, taaierig. Ek wonder of dit die akkerboom is wat 'n siekte het. Of is dit net dié tyd van die jaar dat so-iets gebeur? Ek kan onthou dit het verlede jaar ook gebeur, maar voor ek kon bekommerd raak, was dit weg. Ek weet steeds nie wat dit is nie, maar kry my roosbome jammer. Die ander bome in die omtrek het ook almal groter geword en veroorsaak dat daar min son bedags op die rytjie roosbome val. En net daar neem ek 'n besluit. Hulle moet uit! Son toe.
Dis Maandag, die hele wêreld en sy maat hou vakansie, maar my getroue ou Jacob het besluit hy gaan kom werk. Ek is so bly, want dis 'n fees om buite te wees! Ons verplant een na die ander, maak plek tussen die reeds bestaande rose in die bedding naby die fontein. Heeldag skyn die son heerlik warm daar. Nie eers een van die roosbome wat daar groei, het 'n roeserige blaar aan nie. Dit moet net werk. Ons maak die gate vooraf vol water, haal die bome versigtig en met moeite uit en plant hulle onmiddellik oor in die nuwe omgewing. Dit lyk sommer mooi!
Nou het ek wit, pienk en wynrooi, oranje en bloedrooi rose, almal deurmekaar en bymekaar. En langs die paadjie na die voorhekkie, lyk die wilde knoffel heel gesellig. Miskien maak ek later 'n ander plan daar, dis mos hoekom tuinmaak so lekker is, dis heeltyd speeltyd!