31/08/2013

Simon, Sarel en Stoffel se elke-dag-storie

Daar is drie van hulle. Aldrie pragtig op hul eie manier. Aldrie yslike groot voëls met lengtes van  64–82 cm. en 'n gewig van 1.5 kg. elk, so naastenby. Hulle woon in Noordwes op 'n wildplaas, wat nou 'n vakansieoord is. Hulle maak saam met geel- en rooibekneushoringvoëls, bontkiewiete, patryse, houtkappers en nog baie ander geveerdes die oop, blou lug en die baie bome hul tuiste. Tevrede.

 
 Van links na regs: Simon, Sarel en Stoffel Skoorsteenveër.

 
Hier spieël aldrie hulself in die dam se water....wie is die mooiste in die land? Vir die Egiptenare van weleer was hierdie voëls heilige gevleuelde wesens. Hul ander naam is Nylreier.
 

Vir ure aaneen wandel die drie pik-pik langs die dam nes drie ou wyse manne. Sarel soek 'n vissie, Simon 'n padda en Stoffel sal baie bly wees as hy net 'n paar vet insekte kan kry vir middagete. Aldrie weet as hulle hul lang snawels lekker diep in die modder inploeg, kry hulle heerlike erdwurms vir poeding.

 
 
 

24/08/2013

Brakenjan se dinge

Ontmoet vir Brakenjan.


Hy is my miniatuur worshondjie en nou alreeds vier maande deel van ons lewens. Dat hy al baie diep in ons twee se harte ingekruip het met sy ou groot pootjies, is 'n waarheid soos min. Die pienk-en-blou truitjie pas lankal nie meer nie. Die winter is amper verby en Brakkies is al amper uitgegroei.
 
 
Hy is al baie gewoond aan ons roetine, kry nooit meer glipse in die gang of elders nie, slaap wonderlik dwarsdeur elke nag. Reg langs ons bed in sy bedjie en warm toegewikkel onder sy blou kombers.
As ek in die voorste kamer op die rekenaar sit en werk of speel, lê hy heerlik in die sonnetjie en bak en droom sy hondedroompies sonder om gesteur te word.
 
 
 
Stap ek buitetoe, volg hy my. Lekker om in die sagte sand 'n gaatjie te grou.....iewers is daar dalk iets opwindends wat wag om gevang te word. Worsies is mos nie verniet uitstekende jagters nie!
 
 
Soms is dit maar net lekker om na die duiwe te staan en kyk waar hulle saad oppik onder die perskeboom. Hy weet hy mag hulle nie jag nie. Ek wonder wat in sy gedagtes omgaan, die kransduiwe is skaars groter as hy.....
 
 

Brakenjan se heelbeste hondemaat is Hagar, ons liewe ou Labrador, wat nog nooit eers een knor of hap na klein Brakkies se kant toe gewaag het nie. Hy geniet dit so om met sy klein maatjie te speel en hulle twee kan taamlik wild tekere gaan smiddae. Dis 'n heerlikheid om hul lewensvreugde te aanskou.


 
 
 
Nes kinders, raak honde ook gou bederf. Een ou klein bederfie is dat Brakenjan elke middag nà ete by sy baas 'n stukkie sjokolade kry. Dis te dierbaar om te aanskou. Hy gaan sit op sy "hurke" en wag, kyk my man aan met sy mooi ou "mensogies" en lek dan gulsig die flenterjies sjokolade van die vloer af op. Elke middag.
Die vreugde wat 'n mens se diere jou gee is onbeperk. Vir "Innemend" en "Skrander" sal ons nog hopelik baie jare kan versorg en liefhê..... en hulle vir ons, onvoorwaardelik!
 
Ter insae: Worshond: ’n Innemende, skoon hond, wat maklik geleer kan word as hy verstandig gedissiplineer word. Die Duitse woord vir die worshond is “Dachshund” (dashond), wat duidelik vertel in watter soort jagtogte hy hom in die verlede onderskei het.  Vanaf: Honde en hul dinge 
 
Labrador: Skrander en baie betroubaar. Die Labrador kom van Labrador, Kanada, ’n deel van die Kanadese provinsie Newfoundland-en-Labrador. Hierdie soort hond is geteel om voëls te apporteer (aan te bring) nadat hulle geskiet is, veral uit riviere en damme.
 

14/08/2013

Ek en my voëltjies

 
 
 
My tuin het verander in 'n voëlparadys! Alles te danke aan 'n paar nuwe voël-lekkernye. Lemoenskille wat aan die kaal boomtakke opgehang word, is al ou nuus. Tog bly dit immer-gewild onder die geveerdes. My porseleinkoppie wat ek gereeld vol saad maak, is ook al lankal deel van die geveerde vriende se spens. Onlangs het ek eiehandig 'n draadhanger in 'n hartjie probeer omtower en lekker, vars appels daarin gedruk. Hoe bly was Tiptol nie oor dié sappige happie nie!
 
 
Die dennebol vol grondboontjiebotter en in saad gerol is baie aanloklik vir meer as net een soort voëltjie. Mossie kan nie genoeg kry van die lekkertes nie!
 

Dié outjie het ek nog nooit voorheen hier opgemerk nie, sy pienk lipstif pas pragtig by die blommetjies op die koppie!
 

'n Suikerbekkie kom sit vir twee sekondes en suig aan die lemoen!
 
 
 'n Jong kakelaar wat al hoe meer gereeld die "spens" kom besoek....ek kan my verkyk aan sy snaakse hop-bewegings van tak tot tak.
 
 
Muisvoël met sy wit en swart snawel is ook 'n baie gereelde besoeker.

 
Kraalogies is uiters woelig en om 'n ordentlike foto van hulle geneem te kry, vra heelwat geduld.
 
En om te dink daar was 'n tyd in my lewe wat ek nie eers geweet het watter voëls is nou eintlik saadvreters en watter is vrugtevreters nie....tog so lekker om nou tyd te kan hê vir die oënskynlik onbelangrike dinge en so baie elke dag te kan leer by Moeder Natuur.