26/03/2013

'n Opmerksame hart is genoeg

Vandag wil ek net kyk en kyk. En ek wil luister. Ek wil 'n opmerksame hart en 'n luisterende ingesteldheid hê teenoor alles en almal om my.....soos die jong koning Salomo van die Bybel. Vroegoggend nà die heerlike, sagte reënbui van gisternag, sien ek hoe blink die druppels aan die Kaapse rietgras langs die voëls se waterbak. Net soos sterre wat skitter!

 
 
 
Die ou Keltiese Christene het van “dun plekke” gepraat waar God en mens mekaar kan ontmoet. In die boek Spreuke is dit opvallend dat daar ‘n besonderse “dun plek” tussen God en koning Salomo was: ‘n ontmoetingsplek waarmee baie mense vandag nog kan identifiseer, naamlik die natuur. 
 
 
Ek verkyk my aan die mooi kransduif wat so saliglik lekker op hierdie herfsdag kom sit om sy bad te geniet. Droomverlore.

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie...
~ Die Bybel. - Matteus 6:26
 
 

Klaar gebad, maak hy gereed om in die louwarm son te gaan sit. Tevrede.
Ek kan so baie by hom leer.
 
 
Op sy sy gaan lê hy en geniet die son op sy rooibruin rug, sy blougrys romp en witgespikkelde vere. Totale oorgawe aan die heerlikheid van die oomblik!
 

So sit hy nog 'n hele paar minute. Miskien luister hy ook (soos ek) na die doo-doo-doo roep van sy maats in die bome, so gerusstellend soos trooswoorde. 
 
Hebreërs 13: 1-8
 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."


 
 
 
 
 
 

06/03/2013

Bellakind

Sy het by Ouma kom slaap dié Vrydagaand. Haar bruin ogies het geblink soos albasters. Van blywees en van lekker. Ons het heerlike dinge so saam-saam gedoen. Een daarvan was om na "Roberts Multimedia Birds of Southern Africa" se cd te kyk op die rekenaar en die raai-watter-voël-is-dit-speletjie te speel. 'n Mens sien die prentjies van tien voëls en hoor net een se geluid. Dis baie interessant! Al my kleinkinders geniet dit tog net so baie soos ek. Ek moet byvoeg, ons kennis het ook al goed uitgebrei met al dié raaiery.
 
Saterdagoggend het ons mooi aangetrek, Marietjiepop se hare vasgemaak en 'n gawe ontbyt geëet. Toe het ons die pad gevat na Isabella se skool.



Om 'n waterverfskildery van Marietjie te sien, klik hier: Marietjie, my pop
(Terloops, Marietjie is vanjaar 61 jaar oud!)
 
Hier is Marietjie in haar mooi klere voordat ons haar babygrow aangetrek het, 'n borslappie aangesit het en haar in 'n "baba" verander het.
 
 
Hier is die "Mamma en haar baba" by die Poppetee wat deur die skool gereël is.
 

Die ingang na die saal was versier met pienk en wit balonne, 'n regte dogtertjieparadys! Isabella het ewe deftig op haar hak-sandaaltjies, nes 'n fietse jong mamma van die 20e eeu, rondgeparadeer......baba op die heup! 
 

Lae en gemaklike tafels het die hele saal volgestaan, mooi gedek soos net dogtertjies daarvan sou hou. Pienk, pienker, pienkste. En heerlike eetgoed het almal se monde laat water! 
 
 
 
Ouma het voor by die "ou" Mammas gaan sit. Ek het my verwonder aan die mooi tafelversierings. Groen en pienk was nog altyd 'n treffer! 
 
Die jong mammas kon self hul eie "cupcakes" maak. Hoe water my mond tog nou! Isabella s'n was natuurlik vir Ouma die heelmooiste!
 

Kyk net hoe geniet hulle die poppetee!
 

 
Daar was ook kans om heerlik saam te sing en te dans. 'n Ma wil mos ook vrolik wees en bietjie lyfswaai!
 
 
Ouma en Bellatjie met Marietjie in die middel. 'n Dag wat ons twee nog lank sal onthou!!
 
 


04/02/2013

Soms, net soms speel ons ander dinge.

Om Naaldwerk te doen was nog nooit my sterk punt nie. Ek vermoed dis in die gene. Ek onthou nog so goed hoe my oorlede Ma voor haar liggroen Adler Matic masjien gaan sit het om noodsaaklike stikwerk te doen toe ek nog kind-in-die huis was. Ek onthou ook hoe sy dan gereeld gekla het van 'n pyn in haar nek.

Ek het haar nooit in my lewe oor enige-iets hoor kla nie, sy was vol lewensvreugde en altyd baie positief. Net as sy moes naaldwerk doen, was sy nie te opgewonde nie. Dit was lank, lank gelede. Tog het dit so 'n groot indruk op my gemoed gemaak. En die aaklige nekpyn het bly voortbestaan en sodra ek aan 'n naald raak, my nekpyn geword!
Tot anderdag. Ons plaaslike  VLU Van Riebeecktak doen baie interessante dinge. Ons beplan om in Maartmaand die Midway Sorgsentrum vir mense wat aan Altzheimer en Dimensia ly, te gaan besoek. Een van ons lede ken iemand daar en het met dié goue gedagte na vore gekom toe ons die jaarprogram beplan het.

Ons besluit toe om van niks iets te maak en knope en lappies van verskillende teksture en groottes op 'n stuk materiaal vas te werk. Ek was dadelik geprikkel, want dit het na baie lekker speel geklink! Die stuk materiaal word dan in 'n voorskoot / borslap omskep wat ons aan die pasiënte gaan skenk.

Die rede is: Altzheimerlyers hou daarvan om aan verskillende goeters te vroetel en te vat, met hul hande oor die verskillende teksture en vorms te streel en te voel. Dit kalmeer hulle. Dit troos. Dis goed vir hulle. In geleerde taal sal ons dit sensoriese terapie kon noem. Sensoriese stimulasie verminder rusteloosheid en verbeter slaapgewoontes.
Nouja, net die feit dat ek 'n deeltjie sou kon bydra om vir iemand anders die lewe dalk 'n bietjie sagter en beter te maak, het veroorsaak dat ek my hand aan naaldwerk gewaag het. My blik knope, verskillende kleure viltlappes, wol en garing was deel van my "wapenrusting" toe ek saam met 17 ander VLU-lede die "Naaldekokerdag" (so word die dae genoem wanneer ons bymekaar kom en ons kreatiwiteit uitleef  op verskillende maniere)  bygewoon het. Die naalde het behoorlik gekook op dié dag!
 
Toe ek tuis kom met my halfklaar prentjie, kon ek nie wag om aan te gaan en dit te voltooi nie. Ek het selfs ook onthou hoe om komberssteek en kettingsteek te doen en stilweg gewonder wanneer laas hét ek naaldwerk gedoen! Van 'n pyn in die nek was daar geen sprake nie!
Ek sien nou baie uit om die volledige artikel te sien. En ek belowe ek sal dit kom wys!

26/01/2013

Om Ouma te wees



Om Ouma te wees kan baie dinge beteken. Dit kan beteken dat spensrakke altyd kreun onder blikke vol heerlike gebak: soetkoekies, jamtertjies, koeksisters. Dit kan ook beteken dat kleinkinders selfgemaakte rokkies, hemde of broeke dra wat Ouma knaphandig en op haar eie tyd met haar eie twee raakvathande vervaardig het.

Dit kan beteken dat Ouma altyd daar is om te luister, moed in te praat, stories te vertel, te troos of pleisters op te plak wanneer nodig.

In my geval is lg. dalk so min of meer van toepassing, maar ook nie altyd nie. Net as kindertjies hier kom kuier vir 'n naweek of 'n paar dae. In my geval is Oumawees anders as die gewone Oumaweesdinge. Wanneer die kleingoed hier instap, weet hulle ons gaan verf. Verf en teken en knip en plak. Dit kan buite of binne gebeur, net waar dit op die gegewe oomblik die heel lekkerste sal wees.
 
Hier is voorbeelde van alvier my liewe kleinkinders se kuns, so deur die jare gedoen en vir altyd in Ouma se hart vasgeplak. Is dit nie mooi nie? Amy is nou al 12 en teken sekerlik al baie mooier en is miskien ook nie meer so lus om hoendertjies te teken nie....
Tog is daar is min dinge wat so spontaan en lieflik is soos die kuns wat gedoen is deur kindervingertjies.
 
 
Om hulle gesiggies dop te hou terwyl hulle so besig is, is vir Ouma soos heuning in haar tee....heerlik!! Die wêreld staan stil as Isabella besig raak, dis 'n groot genot om dié blinkoogkind met die laggesiggie dop te hou.
 
 
Ek wonder wat sê dié twee hoendertjies vir mekaar...
 

Dié prentjie is al drie jaar gelede gedoen, maar kinderkuns bly mos altyd nuut. Soos mossie se roep elke môre buite my slaapkamervenster. Splinternuut.

Wie sou nie graag onder so 'n heerlike groen boom wou gaan sit nie? Veral nou in hierdie snikhete dae. Joshua se seuntjiehande is vir Ouma so mooi om na te kyk. En dan wonder sy hoe gaan hierdie rooikopkind eendag vorentoe nog lyk en wat hy nog alles met die twee mooie handjies gaan doen.
 

En as ons 'n entjie verder stap, kan ons onder Reuben se boom gaan lafenis soek. Dié seuntjie konsentreer tog te vreeslik wanneer hy besig is en die tong wat so "saamgesels", al lekkende oor die ou mooi mondjie, is te dierbaar. Natuurlik is hy salig onbewus daarvan dat Ouma baie binnepret het so in die aanskoue van haar kleinseun. Hy lyk op 'n druppel water  nes die skamerige, blonde  kind op die foto van Ouma toe sy so vier, vyf jaar oud was. Sal sy mos daarom ook vir hom 'n ou sagte plekkie in haar hart hê.


Die vreugde van saamwees, saam skep, saam lag kan in elke verfstreep gesien word!
En eendag, eendag as Ouma nie meer hier is nie, sal haar kleinkinders hopelik dié helder dae onthou en koester. Soos Ouma reeds doen.

 
 
Isabella het 'n vet pienk varkie op 'n x-straalplaat geverf. Is dit nie te pragtig nie?
Groete tot volgende keer!