04/02/2013

Soms, net soms speel ons ander dinge.

Om Naaldwerk te doen was nog nooit my sterk punt nie. Ek vermoed dis in die gene. Ek onthou nog so goed hoe my oorlede Ma voor haar liggroen Adler Matic masjien gaan sit het om noodsaaklike stikwerk te doen toe ek nog kind-in-die huis was. Ek onthou ook hoe sy dan gereeld gekla het van 'n pyn in haar nek.

Ek het haar nooit in my lewe oor enige-iets hoor kla nie, sy was vol lewensvreugde en altyd baie positief. Net as sy moes naaldwerk doen, was sy nie te opgewonde nie. Dit was lank, lank gelede. Tog het dit so 'n groot indruk op my gemoed gemaak. En die aaklige nekpyn het bly voortbestaan en sodra ek aan 'n naald raak, my nekpyn geword!
Tot anderdag. Ons plaaslike  VLU Van Riebeecktak doen baie interessante dinge. Ons beplan om in Maartmaand die Midway Sorgsentrum vir mense wat aan Altzheimer en Dimensia ly, te gaan besoek. Een van ons lede ken iemand daar en het met dié goue gedagte na vore gekom toe ons die jaarprogram beplan het.

Ons besluit toe om van niks iets te maak en knope en lappies van verskillende teksture en groottes op 'n stuk materiaal vas te werk. Ek was dadelik geprikkel, want dit het na baie lekker speel geklink! Die stuk materiaal word dan in 'n voorskoot / borslap omskep wat ons aan die pasiënte gaan skenk.

Die rede is: Altzheimerlyers hou daarvan om aan verskillende goeters te vroetel en te vat, met hul hande oor die verskillende teksture en vorms te streel en te voel. Dit kalmeer hulle. Dit troos. Dis goed vir hulle. In geleerde taal sal ons dit sensoriese terapie kon noem. Sensoriese stimulasie verminder rusteloosheid en verbeter slaapgewoontes.
Nouja, net die feit dat ek 'n deeltjie sou kon bydra om vir iemand anders die lewe dalk 'n bietjie sagter en beter te maak, het veroorsaak dat ek my hand aan naaldwerk gewaag het. My blik knope, verskillende kleure viltlappes, wol en garing was deel van my "wapenrusting" toe ek saam met 17 ander VLU-lede die "Naaldekokerdag" (so word die dae genoem wanneer ons bymekaar kom en ons kreatiwiteit uitleef  op verskillende maniere)  bygewoon het. Die naalde het behoorlik gekook op dié dag!
 
Toe ek tuis kom met my halfklaar prentjie, kon ek nie wag om aan te gaan en dit te voltooi nie. Ek het selfs ook onthou hoe om komberssteek en kettingsteek te doen en stilweg gewonder wanneer laas hét ek naaldwerk gedoen! Van 'n pyn in die nek was daar geen sprake nie!
Ek sien nou baie uit om die volledige artikel te sien. En ek belowe ek sal dit kom wys!

26/01/2013

Om Ouma te wees



Om Ouma te wees kan baie dinge beteken. Dit kan beteken dat spensrakke altyd kreun onder blikke vol heerlike gebak: soetkoekies, jamtertjies, koeksisters. Dit kan ook beteken dat kleinkinders selfgemaakte rokkies, hemde of broeke dra wat Ouma knaphandig en op haar eie tyd met haar eie twee raakvathande vervaardig het.

Dit kan beteken dat Ouma altyd daar is om te luister, moed in te praat, stories te vertel, te troos of pleisters op te plak wanneer nodig.

In my geval is lg. dalk so min of meer van toepassing, maar ook nie altyd nie. Net as kindertjies hier kom kuier vir 'n naweek of 'n paar dae. In my geval is Oumawees anders as die gewone Oumaweesdinge. Wanneer die kleingoed hier instap, weet hulle ons gaan verf. Verf en teken en knip en plak. Dit kan buite of binne gebeur, net waar dit op die gegewe oomblik die heel lekkerste sal wees.
 
Hier is voorbeelde van alvier my liewe kleinkinders se kuns, so deur die jare gedoen en vir altyd in Ouma se hart vasgeplak. Is dit nie mooi nie? Amy is nou al 12 en teken sekerlik al baie mooier en is miskien ook nie meer so lus om hoendertjies te teken nie....
Tog is daar is min dinge wat so spontaan en lieflik is soos die kuns wat gedoen is deur kindervingertjies.
 
 
Om hulle gesiggies dop te hou terwyl hulle so besig is, is vir Ouma soos heuning in haar tee....heerlik!! Die wêreld staan stil as Isabella besig raak, dis 'n groot genot om dié blinkoogkind met die laggesiggie dop te hou.
 
 
Ek wonder wat sê dié twee hoendertjies vir mekaar...
 

Dié prentjie is al drie jaar gelede gedoen, maar kinderkuns bly mos altyd nuut. Soos mossie se roep elke môre buite my slaapkamervenster. Splinternuut.

Wie sou nie graag onder so 'n heerlike groen boom wou gaan sit nie? Veral nou in hierdie snikhete dae. Joshua se seuntjiehande is vir Ouma so mooi om na te kyk. En dan wonder sy hoe gaan hierdie rooikopkind eendag vorentoe nog lyk en wat hy nog alles met die twee mooie handjies gaan doen.
 

En as ons 'n entjie verder stap, kan ons onder Reuben se boom gaan lafenis soek. Dié seuntjie konsentreer tog te vreeslik wanneer hy besig is en die tong wat so "saamgesels", al lekkende oor die ou mooi mondjie, is te dierbaar. Natuurlik is hy salig onbewus daarvan dat Ouma baie binnepret het so in die aanskoue van haar kleinseun. Hy lyk op 'n druppel water  nes die skamerige, blonde  kind op die foto van Ouma toe sy so vier, vyf jaar oud was. Sal sy mos daarom ook vir hom 'n ou sagte plekkie in haar hart hê.


Die vreugde van saamwees, saam skep, saam lag kan in elke verfstreep gesien word!
En eendag, eendag as Ouma nie meer hier is nie, sal haar kleinkinders hopelik dié helder dae onthou en koester. Soos Ouma reeds doen.

 
 
Isabella het 'n vet pienk varkie op 'n x-straalplaat geverf. Is dit nie te pragtig nie?
Groete tot volgende keer!