14/08/2013

Ek en my voëltjies

 
 
 
My tuin het verander in 'n voëlparadys! Alles te danke aan 'n paar nuwe voël-lekkernye. Lemoenskille wat aan die kaal boomtakke opgehang word, is al ou nuus. Tog bly dit immer-gewild onder die geveerdes. My porseleinkoppie wat ek gereeld vol saad maak, is ook al lankal deel van die geveerde vriende se spens. Onlangs het ek eiehandig 'n draadhanger in 'n hartjie probeer omtower en lekker, vars appels daarin gedruk. Hoe bly was Tiptol nie oor dié sappige happie nie!
 
 
Die dennebol vol grondboontjiebotter en in saad gerol is baie aanloklik vir meer as net een soort voëltjie. Mossie kan nie genoeg kry van die lekkertes nie!
 

Dié outjie het ek nog nooit voorheen hier opgemerk nie, sy pienk lipstif pas pragtig by die blommetjies op die koppie!
 

'n Suikerbekkie kom sit vir twee sekondes en suig aan die lemoen!
 
 
 'n Jong kakelaar wat al hoe meer gereeld die "spens" kom besoek....ek kan my verkyk aan sy snaakse hop-bewegings van tak tot tak.
 
 
Muisvoël met sy wit en swart snawel is ook 'n baie gereelde besoeker.

 
Kraalogies is uiters woelig en om 'n ordentlike foto van hulle geneem te kry, vra heelwat geduld.
 
En om te dink daar was 'n tyd in my lewe wat ek nie eers geweet het watter voëls is nou eintlik saadvreters en watter is vrugtevreters nie....tog so lekker om nou tyd te kan hê vir die oënskynlik onbelangrike dinge en so baie elke dag te kan leer by Moeder Natuur.

4 comments:

  1. Soooooo inspirerend en verblydend om al jou voëlvoerders te sien Liz! Dis wonderlik dat jy so mooi agter jou geveerde vriendjies van Bronkhorst kyk!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree, jou vorige blog-inskrywing het my aangespoor om mooi na my kleurvolle besoekers te kyk elke dag!

      Delete
  2. Baie oulike idees hier, Elizabeth! En daai draadhart is regtig kreatief kwadraat!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Vic!! En jy is baie skerp!! ;-)

      Delete