02/07/2013

Tyd het vlerke

Ons hoor dit so baie: "Die tyd vlieg!" Gister is verby. Vanoggend herkou ek nog aan die stukkie tyd wat ek gister kon koester, die paar salige minute waarin ek my kon verlustig aan die mooi om my wat die natuur oophande en verniet vir my gegee het. Dié tyd wat met grys en geel vlerke my tuin in 'n inkleurboek kom verander het.  


Ek kyk na die abstrakte kuns van 'n hardekoolstomp wat ons staangemaak het langs die waterbak en waar die voëls van ons dorp in die winterson kan kom kuier en kwetter.
 


Skoon drinkwater....wag rustig in die winterson vir koerende kuiergaste
 


'n Kwikstertjie daag eerste op. Dis tyd vir 'n lekker oggendbad.  Hy wip heen en weer,  wikkel sy dun beentjies woerts-warts, woerts-warts op en af, vorentoe, agtertoe....'n prentjie van lewenslus. 'n Uitdaging vir enige fotograaf om 'n foto te kry wat darem naastenby in fokus is...
 


Ou vrugteliefhebber, Manie Muisvoël, kom hang ewe tuis aan die rand van die waterbak. Hy peusel en proe, trek gulsig stukkies lemoen met sy swart-en-wit snawel uit die skil en verslind dit vraatsig. Wat 'n lekkerte op aarde!
 

En toe die verrassing! 'n Allermooiste rooikophoutkapper land doodluiters. Hy betrag die wêreld grootoog.
 

Ek verwonder my aan sy dik snawel, die lieflike helderrooi "serpie en kopdoek", die uniekheid
van sy vrolike voorkoms.


"Kom vat 'n slukkie..." nooi ek hom uit vanwaar ek agter die gordyn in die voorkamer staan. En hy luister gehoorsaam.
 

Katrina Kransduif koe-koerdoek en kyk uit die hoogte na die vaal grasperk.  Sy wag vir warmer somersdae, sy weet dit kom elke dag nader. "Koekoerdoek, koe-koerdoek!"


Manie se maat, Mollie Muisvoël, kom sluit by hom aan. Hulle twee sit plat op hul alies en geniet die sappige lemoen. Die tuin is hul kuierplek, hul koskryplek, hul tuiste.
 
 


'n Rooiborsduifie is die volgende besoeker. Alhoewel duiwe in die tuin so deel is van my omgewing, bly hulle vir my pragtig. En rooiborsduiwe bly my gunsteling duiwe. So sag. So vriendelik.
 
 
 
 
 

 
'n Klein geel glasogie is 'n presentjie uit die hemel en pure plesier1!


 
 



'n Paar geelgroen vlerkies fladder en vlieg rats na die oorblyfsels van die lemoen....miskien het Manie en Mollie Muisvoël tog iets lekker laat oorbly, wie weet?

 
'n Tuin vol lewe is en bly een van die grootste vreugdes op aarde. Mag ons altyd oopoog deur ons tuine loop en God se Skeppingswerk waardeer. Dan sal ons ook vlerke hê om te kan vlieg waar Hy ons heen mag stuur.

2 comments:

  1. Kyk net hoe baljaar al die voëltjies! Dis tog te wonderlik as hulle almal kom kuier! Lief daai muisvoëltjies wat so voor op die wa is!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Maree, ja dit was te heerlik om hulle te sien baljaar!

      Delete