14/01/2014

Wat is nou eintlik die heel lekkerste?

Van al die soorte kuns wat ek doen, is waterverf die heel lekkerste. Vandag was dit! So skoon. So gewillig. So "kunserig". Môre skilder ek dalk weer met akriel, dan is dìt weer die heel lekkerste.

 Vandag het ek heerlik rustig sit en verf aan 'n landskap. Dis somer en warm daarbuite, maar hier waar ek die dinge doen waarvoor ek tyd het en waarvoor ek lief is, was dit heel gesellig en baie aangenaam. Wat 'n voorreg om Godgegewe talente te kan gebruik, om genot daaruit te put en om dit te kan deel met wie ookal hier kom inloer. Ek is dankbaar daarvoor. 

In summer, the song sings itself. ~William Carlos Williams


04/01/2014

Drie vlieë met een klap

Soos julle teen dié tyd waarskynlik al weet, ek is lief daarvoor om te speel! Hier is die resultaat van twee volle dae se heerlike spelery. DRIE dinge waarvan ek baie hou om te doen: teken, speel, verf. Die lyne is met Bostic Clear gom gedoen. Dit word aan die brand gesteek sodra die lyn getrek is. Dit veroorsaak dan 'n interessante tekstuur. 

 O ja, hierdie prentjiekinders van my is almal "aan die brand"!
Ek wens so iemand sien my prentjies raak en bestel 'n duisend van hierdie kinderkunswerke, want ek glo nie ek gaan ooit in my hele lewe moeg word om stokkiesbeen-kinders te verf nie. Dis mos maar in my bloed. Kom lees gerus "Stories uit my skooltas", dan sal jy alles en nog meer verstaan.





Hierdie kuns is op hardbord gedoen. Op die oomblik nog ongeraam. Grootte: 53 x 27 cm.  Te koop.

Vir baie jare het ek die voorreg gehad om te kon skoolhou in al die provinsies van ons land Suid-Afrika. Dikwels het ek sketse soos hierdie op die bord met kryt gedoen om werk aan kinders te verduidelik. Hoe gou het hul ogies geblink as hulle a.g.v. my stokmannetjieprentjies skielik alles wat moeilik was kon VERSTAAN. Dat ek dit geniet het, is 'n waarheid soos die son wat buite skyn. 

26/12/2013

Hondekinders


Ons twee honde is nes kinders. Hagar, die Labrador is nou ongeveer agt jaar oud. Ons het hom present gekry na 'n jaar van rou oor Lassa, ons vorige goue labrador, se afsterwe. Dit was darem nie baie lekker om by die erf in te ry en daar is niemand wat bly raak nie! Toe kry ons hom, die ou swarte. 

Nouja, Hagar is nie die gesondste hond onder die son nie. Hy het al 'n heup-operasie gehad, het 'n pen in die been en loop so effens mank. Hy het al 'n oogoperasie gehad. Sy onderste ooglede groei na binne en die haartjies irriteer sy oë, of altans dit het. Dis al baie beter, maar hy het maar steeds kleinerige en draerige ou ogies. 

Ten spyte van sy tekortkominge is hy die heelbeste waghond onder die son. Hy is geseënd met 'n helder en harde blaf wat verseker menige kwaaddoener sal afskrik. En hy is groot, nie net sy ou lyf nie, maar ook sy  hart is massief. Sy geduld ook. Hy sal nooit ooit "lelik" wees met Brakenjan, die worshond nie. Nooit. 

Brakenjan of Brakkies is nou tien maande oud. Hy verstaan elke woord wat hier in die huis gepraat word. Vanoggend koop Chris vir hom 'n lekker velbeen om aan te kou. Dit was mos nie verniet gister Kerfees nie! Toe ek gaan tee maak, hol hy agter my aan, kouding in die bek. Reguit op pad agterdeur toe en buitetoe waar Hagar is. "Nee Brakkies, moenie daai ding buitetoe vat nie, Hagar gaan dit gryp en dan het jy niks meer oor nie. Gaan kou dit in die gang." Hy kyk my aan, staan doodstil tussen kombuis-en agterdeur. "Toe, luister vir Mammie!" sê ek asof hy net twee bene het. Hy draai kortom en gaan lê in die gang. Stroopsoet kou hy aan die lekkerbekding. 

(Die foto's hierbo is geneem van Meimaand af tot Desember. Elke dag saam met ons dierekinders is 'n goeie dag. )