Showing posts with label hoe om te verf. Show all posts
Showing posts with label hoe om te verf. Show all posts

12/07/2014

Kom verdwaal in my woud

Dis 'n koue Saterdagoggend in die middel van Julie. Ek is steeds byna elke dag besig om voor te berei vir my eerste groot uitstalling in 'n baie bekende plek, nl. die Brooklyn Teater in Pretoria. Dié uitstalling begin op die 21e Augustus en duur tot 1 Oktober 2014. Ek sien natuurlik baie uit daarna. My vorige uitstallings was in tuine of parke en het slegs een dag geduur. 
 
Vanoggend het ek weer onthou hoe lekker dit was toe ek lank gelede in die kunsklas geleer het hoe om bome op 'n maklike manier in waterverf op papier te doen. Vandag het ek met akriel gewerk op geblokte doek. Heel eerste het ek twee ewe groot doeke geel geverf. Ek wil hê dit moet lyk soos vroegoggend as die son opkom. Jy kan besluit watter kleur jy joune wil verf, dit moet verkieslik lig wees.



 Maak dan twee teenstellende kleure verf dunner met water (sodat dit maklik kan afloop)
 
Wend verf aan die bokant van die doek aan met 'n breë kwas.  Hou die doek regop sodat die verf in stroompies afloop.

 
Herhaal die proses. Hou aan om m.b.v. 'n breë kwas die verf aan te wend, hou deurentyd die doek regop. Sodra die stroompies tot onder geloop het, draai jy die doek om en wend die ander kleur aan die onderkant (wat nou die bokant is) aan.

 
Jy kan met hierdie proses aanhou solank as jy wil. Die doek kan ook skuins gedraai word, sodat die "boomstamme" kronkel.



Gebruik nou 'n opgefrommelde plastieksak en druk dit in 'n kleur van jou keuse om die blare te verf. Druk dit aan die bokant van die stamme oral rond en bont, druk liggies.

Nou begin die prentjie na 'n "plantasie" lyk of 'n droomwoud of 'n bos, net wat jy dit wil noem!

 
Bring die nodige skadu's en skakerings van lig en donker aan  met 'n dun kwassie of gebruik 'n wit of donker pen.

 
Hier is die eindresultaat! Jy hoef nie eers kunstig te wees om dit te kan doen nie en dit verskaf hope plesier en is net sommer iets anders en interessant.