26/07/2012

Geveerde vriende

Dis altyd so lekker om hulle dop te hou: duiwe, mossies, muisvoëls...hulle almal geniet die waterbak in die tuin. Die muisvoëls is taamlik baasspelerig en verjaag die glasogies of mossies as hulle ook 'n proeseltjie lemoen wil kom vat.


Muisvoëls is egter in talle opsigte enig in hul soort. Hul pote is baie veelsydig, met omswaaibare buitenste tone, sodat hulle met gemak op takke kan sit, onderstebo kan hang, teen boomstamme op en oor takke kan klouter, en op die grond kan loop. Hul vere wat meeste van die liggaam bedek, het kort penne met lang, sagte uitgroeisels, wat aan hulle 'n sagte tekstuur en pelsagtige voorkoms gee (dit lyk amper soos 'n muis se hare!) Die snawel, swart bo en wit onder,  is kort en stewig, met 'n geslote verhemelte, anders as dié van hul naaste verwante, en die kop het 'n kuif.

Kyk hoe lekker vreet hulle aan die lemoen, nes twee honger koshuisbrakkies wat Ma se koekblik oor 'n naweek nadertrek!



Muisvoëls is, ten spyte van hul vaal vere, baie opsigtelik vanweë hul kenmerkende gedrag. Hulle lyk soos muise waar hulle in bome rondkruip. Muisvoëls lê hul eiers in neste van takkies. 

Jy kan meer lees oor muisvoëls op hierdie blad: Muisvoëls 


Rustig sit die ou mossietjie en wag op die stomp, hy weet sy beurt sal netnou kom!


Tortelduif het sopas 'n heerlike paar slukkies water gedrink. Haar stertvere hang sommer nog in die bad.
Kom lees hier meer oor dié pragtige tortelduif


en sy groter maatjie, die kransduif

Beide van hulle is permanente inwoners hier by ons huis. Hulle gee kleur en klank aan ons lewe met hul "koer-koer" roep wat heeldag soos agtergrondmusiek in ons ore klink.





2 comments:

  1. Hoe het ek nou net nie al daai inligting oor die Muisvoëls geniet nie Elizabeth! Hulle is waarlik die mooiste goedjies onder die son en dis wonderlik dat hulle winterhappes daar by jou kan geniet!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek dink ek het al vir elkeen wat hier kom neerfladder 'n naam Maree! baie dankie dat jy ook kom kuier het, waardeer altyd!

      Delete