29/05/2012

My kat

Sy spring deur die venster
"kadoef" op my mat,
sy skuur teen my bene,
my liefste ou kat...

Ons loop in die gang af
om kos te gaan haal-
ek is so vet
en sy is so skraal

Haar dankie kom sê sy
so sag by my oor:
'n "prrr-prrr" wat niemand,
net ekke kan hoor.

Elizabeth Kendall ©

Soggens vroeg

Ek hoor 'n duifie in my tuin
hy koer sy versie fyn
en sing sy sagte duiwe-lied
vol vreugde en verdriet

Ek spring met blydskap
uit my bed -
dit was 'n vredesduif...
ek wed!



Elizabeth Kendall ©

'n Seunskind


Mamparras is mos altyd bang
van kleintyd tot hul groot is -
hul beentjies bewe mos vir als
totdat hul eendag dood is.

Maar ek's 'n dapper ramkat
die sterkste in ons klas!
Ek groei skoon uit my klere
my broek wil nie meer pas.

Ek bou 'n boomhuis buite,
ek slyp my jagtersmes -
vakansietye skiet ek
sonder om te kwes...

En as dit netnou aand word
moet ek alweer gaan bad:
dan kies ek sommer
maklik die lekker hasepad!


Elizabeth Kendall ©

As ek eendag groot is



As ek eendag groot is
wil ek 'n sterk man hê,
ene wat nes my pappa
'n mondvol dinge sê!

 
As ek eendag groot is
wil ek 'n mamma wees -
Ek wil sewe kinders grootmaak
en vir hul stories lees!

As ek eendag groot is
wil ek ver, ver weg gaan reis
na vreemde lande kyk
en eet van hulle vleis!

Maar nou is ek nog klein
en sit nog in Graad Een:
'n regte stoute snipsnater
en 'n parrabeen!

Elizabeth Kendall ©