Showing posts with label kool. Show all posts
Showing posts with label kool. Show all posts

05/09/2014

Daar is vordering

Dit het intussen lente geword. Heerlik, heerlik, heerlik verby. Gisteroggend vroeg het ou Jacob al die beddings voorberei, kompos ingewerk en gespit. Iewers het ek gehoor dat soos die maan groei, voor volmaan, plant jy alles wat bo die grond dra, soos die maan daal nà volmaan, plant jy alles wat onder die grond dra en met donkermaan rus jy 'n bietjie!
En dit is hoe die maan op die oomblik lyk vanwaar ek onder die karee staan en opkyk hemel toe teen laatmiddag se kant.




As jy my bly wil maak, laat my in die grond vroetel. Sielsaliglik bly is ek daar buite in die natuur. Ek het verskeie soorte saad gekoop by die Koöperasie. 'n Opgewondenheid lê in my binneste. 


Dink net: vars, gesonde wortels en beet uit die grond uit....ek ruik dit al!
"Ons gaan hierdie jaar lekker eet!" lag Rose toe ek in die kombuis 'n draai maak van buite af. 





Ons hoop so! Ons hoop die goeie son en vrugbare aarde en eerste lentereëns werk alles saam om hierdie, nou-nog-kaal tuin in 'n lushof te verander. Ek kan nie wag nie! Ou Jacob maak ewe ywerig solank 'n stuk grond al langs die heining gereed vir die aartappelmoere wat nog moet kom. Hy voel seker my entoesiasme aan. Positiewe gedagtes is mos aansteeklik!  (word vervolg) 

25/08/2014

Ons eie groentetuin

Dis nog maar net die begin. Toe die huis agter ons verkoop word in Februarie, besef ek dat die agterste muur tussen die twee huise na regte moet skuif. Dis nou volgens munisipale afmetings. Jare gelede het ek en my sus in dié twee huise so langs mekaar gewoon en 'n deurloop tussen ons gehad, 'n klein hekkie en 'n buite-toilet wat ons bediendes gedeel het. 
Omdat ek daarvan hou dat dinge reg moet wees, laat bou ons 'n splinternuwe muur tussen ons en die nuwe eienaars van De la Reystraat 20. Nou kan ek eendag rustig heengaan en nie bekommerd wees dat my kinders probleme gaan hê met die erf se verdeling nie. 
Skielik is ons erf toe sommer 'n hele stuk groter. Die son skyn te heerlik in die hoek wat bygekom het. Vanjaar maak ek 'n groentetuin, dink ek toe dit nog in die middel van die winter en yskoud was. Ek wou dit nog altyd doen, maar die res van ons erf is baie skaduryk a.g.v. die groot bome. Bome waarvoor ek lief is. Vanselfsprekend sal ek hulle nooit afkap of uithaal nie. 


 Plantjies wat ek gekoop het. 
 Uie.
 Beet.
 Spinasie.
Kool. 
Laas week gaan koop ek by Voetpad Kwekery 'n paar groenteplantjies. En voel 'n opgewondenheid in my vingers kriewel. Toe Jacob Maandag kom, beduie ek hom mooi hoe om te maak.  


Nou moet die goeie son en reën en die baie liefde en sorg in ons hande net die ding doen! Die beddings het kompos gekry, boomwortels is uitgehaal, paadjies tussen-in is gemaak. Volgende week gaan ons boontjies, tamaties en aartappels ook nog plant. En wortelsaad saai. Daar is genoeg plek. Teen die agterste muur het ons peppadewsaad gesaai. Vanjaar sal ek versigtiger wees as ek dit oopsny om 'n sousie te maak. Laas jaar het my hande erg gebrand. 

Daar is niks so goed vir 'n mens se siel as om in die grond rond te vroetel nie. Om dan boonop beloon te word met gesonde, helende groente uit jou eie tuin, kan net 'n vreugde wees. (word vervolg)
Ns. Ons sal sien of dit nodig gaan wees om 'n heining om die tuin te sit wat die honde gaan keer. Miskien gedra hulle hulself mooi. 'n Skadunet is ook 'n oorweging, maar ek onthou my Pa se lieflike groentetuine het nooit skadunet gehad nie en daar was oorgenoeg om van te kies.