23/01/2016

Herlewing

Hy het half-verlate in die tuin gestaan, in die grond geplant naby die voorste heiningmuur. Nie genoeg son gekry nie. Die koue winter was ook nie juis bevorderlik vir vooruitgang en groei nie. Blaarloos, mistroostig en halfdood (so het dit gelyk!) het hy daar gestaan en sukkel. Toe sien ek hom op 'n dag raak en ontferm my oor hom. Ek en ou Jacob verplant die broodboom. In 'n pot met heerlike komposgrond staan hy nou. Ons gee vir hom nuwe huisvesting, 'n plekkie in die son. Ek strooi 'n handvol  beenmeel in die pot. Sommer net vir die wis en die onwis. Dit neem lank voordat daar 'n beduidenis van 'n groenigheidjie te sien is. Op 'n dag is daar 'n vars, nuwe blaartjie! Ek jubel en juig! En toe begin ek foto's neem. Dis wonderlik om boek te hou van sy vordering. Hier is die bewyse: 




 Gister, 22 Januarie 2016, het ek dié foto hierbo geneem. Is die natuur nie net wonderlik nie. Weer eens het ek besef wat liefde en sorg kan doen. Ek sien uit daarna om die groeiproses daagliks dop te hou en te waardeer, die wonder van lewe te ervaar, die nuwe en vars blare aan te raak en ja, om met my eens-versukkelde broodboom heerlike lang gesprekke te voer oor die vreugdes en lewe in die tuin! 

20/01/2016

Vetplante

Die wonderlikste plante onder die son! Nie baie afhanklik van water nie en altyd immergroen en mooi! Mens plant elkeen van hierdie (soms) doringlyfies met liefde in jou hande en as jy weer kyk, het dit sommer in veelvoud aangewas en kleintjies gekry. Ek kan my ook verkyk aan die verskillende teksture en vorms, enige kunstenaar se droom! Die flapjack se blare is 'n sagte blougroen, lyk soos iets wat onder in die see kan groei!  



Hier is 'n mooi voorbeeld van 'n kaktus wat vermeerder het met die jare. Eens was dit net een ronde bolletjie dorings en kyk nou!





Sedum, of soos ek dit maar vir myself noem, "vet vingertjies" is van die maklikste groeiers ooit en vertoon baie mooi in enige tuin.