03/12/2012

'n Handvol (en 'n hartvol) vere!

 
Dit is 'n Sondagmiddag in Bronkhorstspruit en heerlik rustig in die tuin. Nie te warm nie. Nie te koud nie. Net lekker. By die waterbak in die voortuin gesels die drie kransduifbroers. Karel, Krisjan en Karools. Hulle gesels oor die weer, die swak Rand en die jongste sportgebeure.
 
 
Krisjan vererg hom bloedig toe Karel koer dat hy nie juis deesdae 'n ondersteuner van die Blou Bulle genoem wil wees nie. Krisjan vlieg sommer 'n koers in. Karools en Karel bly sit. Karel  droom in die wit water... Karools bekyk sy boetie.
 
 
Dan skuif hy nader en sê ewe vertroulik in Karel se oor: "Hoe sou jy nou hou van 'n lekker swem, my ou broer? Die sonnetjie bak darem nou te heerlik warm."
 

Net daar voeg hulle die daad by die woord en duik sommer kop eerste onder die water in. Dit spat en speel en rinkink! Heerlik, heerlik verby!
 

 
Krisjan, wat 'n entjie daarvandaan bo in die akkerboom se takke gesit en bedaar het na sy stertwippery van flussies, sien hoe sy twee boeties die water geniet .  Hy kom sluit ewe vredeliewend maar weer by hulle aan. Kwaadword en sterte wip pas nie by goeie duiwe nie.
 
 
"Krisjan, wat eet ons vanmiddag?" vra Karel sommer so uit die bloute. Karools kyk skoon anderpad, hy is vreeslik honger en voel 'n hol kol op die krop van sy krop. Krisjan pof sy vere oop en dink diep.
 
 
Dan fladder hy sy vlerke, spat die waterdruppels met 'n boog oor sy broers en koer: "Van sit en staan kom niks gedaan! "
 
 
Krisjan en Karel vlieg weg om te gaan kyk waar hulle iets te ete kan kry. Ou Karoolsie bly stoksielalleen sit. Hy is flou van die honger en skielik sommer vreeslik eensaam.
 

Hy kyk desperaat op hemel toe en wonder: "Sal daar nie dalk sommer goudgeel mieliepitte soos manna op my neerdaal nie?" Hy voel so swak van vlerk vanmiddag...
 

"Kom ons kyk of ek nog kan!" praat Karools Kransduif met homself. Hy lig sy een vlerk so hoog as wat hy kan.

 
Toe hy weer kyk, sit sy beste en mooiste maat, Katriena Kransduif,  sag en vriendelik naby hom in die water. "Hallou-ou Karrrrrools!" koer sy innemend. Karools voel sommer weer pure duif en pof-pof sy vere ewe grootmeneer.
Mevrou Mollie Mossie kom land stilletjies agter die twee duifies. Sy is nuuskierig en wil hoor waaroor hulle praat.   
 
 
 
Eensklaps verskyn Tina Tortelduif skielik reg voor Karools en Katriena.
Sy koer met 'n duidelike en ernstige stem: "Werrrrk haaaaaaarder, werrrrrk haaaaarder!"  Mevrou Mollie Mossie skrik sommer en wip vinnig weg.
 
 
"Dit help nie om in die water te bly sit en te probeer oefen nie Karools! Jy moet staan en jou vlerke goed oopmaak! Kyk..... sò man!" koer Katrina triomfantelik. Sy gaan staan op die rand van die waterbak en wys hom hoe.  Tina maak net daar van die gulde geleentheid gebruik om self ook bietjie af te koel.
 

Karools kyk mooi en toe probeer hy sy bes: hy lig altwee sy vlerke so hoog soos hy kan en skielik voel hy sommer pure duif! Janee wat, 'n bietjie goeie oefening op die regte tyd is goed vir 'n duif se stamina.  Hy het sommer nou moed om self ook die wye wêreld in te vlieg en te gaan kos soek.
 

 
Vir oulaas skud hy sy nat vere droog en wil net wegvlieg toe hy uit die hoek van sy oog iets sien...
 

Goudgeel en geurige mieliepitte en saad lê oral op die rand van die waterbak uitgestrooi! Gulsig pik-pik hy dit op. Hoe salig! Iemand moes gesien het hoe honger is hy wat Karoolsie is. Iemand het vir hom gesorg.  Sy hartjie jubel. Dis wonderlik om in hierdie tuin te woon. Hier wil hy vir altyd en ewig bly woon, hy en sy twee broers. Hy en Karel en Krisjan.
 

 
Karools eet en eet, pik-pik-pik. Hy eet so lekker dat hy nie eers opmerk hoe Tina in die houtstomp naby hom ook heerlik weglê aan haar eie middagmaal nie...tussen die wit klippies en droë stukkies hout het iemand lekker saadjies gestrooi....so reg na 'n tortelduif se smaak.
 
 
Pik-pik, pik-pik-pik!
 

 Mevrou Mollie Mossie sit nog effens verskrik bo in die boom.  Sy stuur vir Meneer Martin Mossie om vir hulle ook 'n happie te gaan haal. Hy is mos haar liewe en baie aantreklike mannetjie. Martin pak sy kieste vol pitte en saad.
Gelukkig is duiwe nooit selfsugtig nie. Hulle het goeie harte. Hulle het vir die mossie-egpaar ook 'n saadjie  of ses laat staan.
Almal in die tuin is nou gelukkig. 
Môre vroeg fluit al die voëls weer vrolik!
 
FLUIT-FLUIT, my storie is uit!
 
('n Voetnota vir my meer volwasse lesers: dié vereverhaal is uit my duim gesuig, die foto's was my inspirasie...as my kleinkinders weer kom kuier, lees Ouma dit met liefde in my hart vir hulle voor! )