11/08/2012

As Kerneels Kwêvoël kom kuier....


Dis 'n heerlike sonskyndag in die hartjie van die winter. Kerneels Kwêvoël sit op die voëlbad in die tuin. Die water lyk tog so aanloklik!


Heerlik! Hy spat en plons en gaan tekere!


Dan druk hy sommer sy hele ou grys gesiggie binne-in die bad. Die druppels spat oor die rand van die waterbak. Dis wonderlik!

Bertus Bontrugwewer hou vir Kerneels dop en dink by homself: "Ai, dié Kerneels is darem maar 'n spektakel.....kyk tog net hoe lyk hy nou! "


Kerneels kerjakker en rinkink, hy steur hom nie in die minste aan wat ander voëls van hom mag dink nie. Hy wéét wat lekker is in die lewe!

Na 'n heerlike lang bad, besluit hy om maar weer regop te kom. Hy skud die water van sy grys vere af. Nou voel hy sommer vars en vrolik vir die res van hierdie dag!



Karel Kransduif kom sit naby aan Kerneels. "Dis 'n lekker dag vandag né Kerneels?" koer hy goedhartig en vriendelik. "Kwêêê! " fluit Kerneels, "dis nes jy daar sêêê! "
Na 'n kort rukkie uit die water en stil sit in die son, lê Kerneels se vere weer alles ewe netjies en op hul plek. Hy sit windmakerig en rondkyk oor die tuin.


Tina Tortelduif land sagveer naby Kerneels neer. "Koerrrr Kerrrrrneels, jy lyk darem maar altevol prrrrragtig vanmôrrrrrrre..." sê sy sag met haar mooi musikale stem. "As jy net nie so lawaaierig was nie, het ek sommer nou dadelik vir jou ogies gemaak!"

Barend Bontrugwewer, Bertus se neef, wat daar naby sit, hoor wat Tina vir Kerneels koer. "Lawaaierig? Nee wat, Kerneels is nie juis lawaaierig nie....het jy al vir Hercules Hadeda gehoor?" vra hy ewe grootmeneer vir Tina. Net toe kyk hulle op en sien daar heelbo in die denneboom sit ou Hercules.


"Haaadeeedaaaa!" roep hy hard uit. "Van al die voëls wat hier by Krugerstraat kom kuier, is my stem die duidelikste," sê hy trots.

So het elkeen van ons ook iets kenmerkends en uniek wat ons maak wie ons is.
Is die lewe nie wonderlik nie?  










03/08/2012

Die verhaal van Hercules Hadeda.

Dit was 'n doodgewone dag. Dit was winter en 'n skraal windjie het om die huis se hoeke gehuil. Hercules Hadeda het rustig deur die tuin gedwaal. Hy was langs die kareeboom op soek na 'n lekker vet erdwurm, sprinkaan of akkedissie om te eet vir ontbyt.


Met sy lang, swarterige, krom snawel waarvan die boonste deel pienk geverf is, was dit maklik om erdwums uit die sagte grond onder die blare uit te lig. Hy het hulle gulsig verorber. Gou was hy versadig.


Dit was lekker om hier tussen die klimopranke in die wintersonnetjie te loop en vroetel.


Skielik het Hercules Hadeda vreeslik alleen begin voel. Hy het grootoog oral om hom heen gekyk, maar niemand in die tuin gewaar met wie hy 'n geselsie kon aanknoop nie.


Hy vlieg toe maar met 'n yslike vlerkgeklap op en gaan sit bo-op die huis se dak en roep hard:
"Haaaa dieeee daaa!" Miskien hoor iemand hom....


Karel Kransduif het sagveer agter Hercules kom sit. "Hoekom raas jy so Hercules?" vra hy rustig en knip-knip sy blink ogies.


"Ek raas, want niemand wil met my gesels nie! Ek dwaal al heeloggend stoksielalleen hier deur die tuin. Waar is julle almal vanoggend of is dit die koue wat julle pla? " vra Hercules opgewonde. Toe kyk hy om......


"Haaaaa! Daar kom darem nog geselskap aangevlieg!" sê Hercules bly.


Dit is Karel se vroutjie Katrina. Saam sit hulle drie op die huis se dak en wonder wat hulle alles vandag gaan doen. Hercules stel voor hulle moet 'n draai oor die dorp gaan vlieg en kyk of hulle nie vir hom ook iewers 'n vrou en 'n maat kan kry nie. Karel en Katrina lyk so gelukkig saam! Hy is sommer jaloers.....

Nog voordat hulle kon wegvlieg, sien aldrie skielik 'n vreemde hadida aan die anderkant van die dak sommer so op haar eie rondtrap. Sy lyk baie eensaam. Hercules besluit om te gaan kennis maak. Dis dalk net die maat na wie hy al hoe lank soek! Nou moet hy net genoeg moed bymekaar skraap. Hoe benader 'n man nou so 'n mooie meisie, wonder hy.


Hy krap sy kop en dink diep.


Skielik wéét hy! Hy maak keel skoon en roep op sy hardste sy oerbekende roep. Sy moet hom hoor, sy sal omkyk en by hom kom aansluit om sy maat te word. Hy hoop so! As sy gaan "Jaaaaa! " sê, lê daar werk voor, want dit sal sy taak wees om vir hulle 'n nes van stokke en gras te maak.  

Hannetjie Hadeda kyk skamerig om. Dis al amper die einde van die winter en tyd om nes te maak en eiers te lê. Sy wil so graag kuikentjies hê.  As sy gelukkig is, behoort sy teen Oktober 'n Mamma Hadeda te wees!



Sy kom staan met haar metaalblink vere baie naby aan Hercules. Hy bewonder die pers en groen kleure in haar vere, haar mooi, kort beentjies en die pienk lipstif op haar snawel.

 


"Dis nou of nooit!" dink Hercules en van pure verbouereerdheid krap hy maar weer aan homself.


Toe vra hy die groot vraag. Hannetjie Hadeda huiwer vir nie een oomblik nie en sê met 'n baie duidelike stem: "Haaaaa dieeeeee daaaa, ek sê jaaaaaaaa! "


Hercules en Hannetjie het  gelukkig saam gelewe en na drie maande was daar vier klein hadedas in hulle nes. Al vier het op 'n veer nes hul ouers gelyk!



Toe hulle groter word het hulle oral rondgevlieg want die wye wêreld was hul woning.


Elizabeth Kendall ©